PSALMS 119:161-168
PSALMS 119:161-168 Bybel vir almal (ABA)
Ek het niks verkeerd gedoen nie, maar belangrike mense volg my en jaag my. Ek is nie bang vir hulle nie, ek is bang vir wat U gesê het. Ek is so bly oor wat U belowe het, so bly soos wanneer ek baie goed kry wat ek vir my kan vat. Ek haat dit wanneer mense vals is, ek hou niks daarvan nie. Ek is lief vir wat U vir ons geleer het. Ek prys U sewe maal elke dag omdat alles wat U besluit, reg is. Dit gaan baie goed met mense wat lief is vir wat U vir ons geleer het. Daar gebeur niks wat sleg is met hulle nie. Here, ek weet U sal my red en ek doen wat u gebooie sê. Ek hou aan om te doen wat U sê, ek is baie lief daarvoor. Ek hou aan om te doen wat U beveel en wat U sê, want U sien altyd hoe ek lewe.
PSALMS 119:161-168 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord. Ek is vrolik oor u belofte soos een wat 'n groot buit vind. Leuens haat ek en het daar 'n afsku van; u wet het ek lief. Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge. Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie. O HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie. My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief. Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U.
PSALMS 119:161-168 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maghebbers vervolg my sonder oorsaak, maar u woord is die enigste wat ek vrees. Oor u woord is ek so bly soos iemand wat 'n groot skat in die hande gekry het. Ek haat en verafsku leuens, maar u wet het ek lief. Ek loof U soveel keer elke dag oor u bepalings. Hulle is regverdig. Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie. Ek vestig my hoop op hulp van U, Here, u gebooie gehoorsaam ek. Ek kom u verordeninge na, ek het hulle baie lief. U bevele en verordeninge gehoorsaam ek. My hele lewe lê oop voor U.
PSALMS 119:161-168 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Leiers vervolg my sonder rede, maar net vir u woord het my hart 'n heilige vrees. Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat 'n groot buit gevind het. Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief. Sewe keer per dag loof ek U oor u regverdige beslissings. Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet; vir hulle is daar geen struikelblokke nie. Ek vestig my hoop op u verlossing, HERE, en ek voer u bevele uit. Ek kom u bepalings na; ja, ek het dit baie lief. Ek kom u opdragte en u bepalings na, want al my paaie lê oop voor U.
PSALMS 119:161-168 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
SCHIN. Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart is ontsag vir U woord. Ek is bly oor U woord, soos iemand wat groot buit kry. Ek haat en verafsku leuens, maar u wet het ek lief. Sewe maal per dag loof ek U ter wille van U regverdige oordele. Groot vrede het die wat u wet liefhet, en niks sal hulle aanstoot gee nie. HERE, ek het op U verlossing gehoop en U gebooie gedoen. My siel het U getuienisse bewaar; en ek is baie lief vir hulle. Ek het u bevele en U getuienisse onderhou, want al my weë is voor U aangesig.
PSALMS 119:161-168 Die Boodskap (DB)
’n Klomp belangrike mense vervolg my, al is ek onskuldig, maar dit vat nooit my respek vir u Woord weg nie. My hart loop oor van opgewondenheid oor elke woord wat U sê, dit is die grootste skat wat ek nog ooit in my lewe gevind het. Ek haat leuens, maar u wet, dit het ek lief met alles binne-in my. Ek kan U nie genoeg loof nie, elke kans wat ek kry, gebruik ek om vir U te sê dat alles wat U doen, reg en goed is. Almal wat u wet liefhet, leef reg, hulle val nie oor die sonde nie. Here, ek hou u hand styf vas; ek wag dat U my kom help, ek doen net wat U sê. Alles wat U sê, word in my hart weggebêre, ek doen dit alles; ek is lief vir elke voorskrif uit u mond! Kyk net: ek gehoorsaam alles wat U sê en luister na u raad, my lewe is soos ’n oop boek voor U.
PSALMS 119:161-168 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Heersers vervolg my sonder oorsaak, maar al wat ek vrees, is u woord. Ek verheug my in u woord soos iemand wat ’n groot skat ontdek. Alle valsheid haat en verafsku ek, maar u gebooie het ek lief. Ek loof U sewe keer per dag omdat al u bepalings regverdig is. Hulle wat u gebooie liefhet, het groot sekuriteit en niks sal hulle laat struikel nie. Ek sien uit na u redding, HERE; daarom voer ek u gebooie uit. Ek het u eise gehoorsaam, en het dit baie lief. Ek gehoorsaam u bevele en eise, want U weet van alles wat ek doen.