PSALMS 104:6-9
PSALMS 104:6-9 Bybel vir almal (ABA)
U het die aarde met die groot see toegemaak, die water het bo-oor die berge gevloei. U het hard gepraat, en toe het die water gevlug. Toe die water u donderweer hoor, het dit weggevloei. Die water het oor die berge gespoel, dit het afgegaan in die valleie na die plek wat U daarvoor gereedgemaak het. U het gewys waar die grens is en U het gesê die water moenie oor die grens gaan nie, sodat die water nie weer die aarde sal toemaak nie.
PSALMS 104:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
U het dit met die wêreldvloed soos met 'n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan. Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik — berge het opgerys, laagtes het weggesak — na die plek wat U vir hulle reggemaak het. 'n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
PSALMS 104:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die groot waters het die aarde soos 'n kleed oordek, die waters het bo-oor die berge gestaan. Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug, voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem. Hulle het oor die berge gespoel en in die laagtes weggevloei na die plek toe wat U vir hulle bestem het. U het 'n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie: hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
PSALMS 104:6-9 Die Boodskap (DB)
Aan die begin het U baie water oor die aarde laat spoel. Alles was onder water, selfs die hoogste berge was toe soos onder ’n kombers. Maar toe U praat, het alles bymekaargevloei; u stem was soos harde donderweer wat die water laat beweeg het. Soos die water wegloop, het die berge hoër en die klowe dieper geword. Die water het na die plek geloop waar U dit wou hê. Nou het die see ’n grens. U het dit getrek. Daarom sal die water nooit weer oor die hele aarde loop nie.
PSALMS 104:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Diepwaters het dit soos ’n kleed bedek, water het bo-oor die berge gestaan. U bevel het die water laat wegvlug; u magtige stem het hulle laat vlug. Berge het verrys en valleie het gedaal na die plek wat U bepaal het. U het vir die waters ’n perk gestel wat hulle nie mag oortree nie, sodat hulle nie die aarde oorspoel nie.