SPREUKE 30:18-33

SPREUKE 30:18-33 Bybel vir almal (ABA)

Daar is drie dinge wat vir my wonderlik is, daar is vier dinge wat ek nie verstaan nie: Dit is hoe 'n arend in die lug bly, hoe 'n slang oor 'n rots seil, hoe 'n skip op die see seil, en hoe 'n man 'n vrou probeer kry. 'n Vrou wat egbreuk pleeg, is soos iemand wat eet en haar mond afvee en sê: “Ek het niks verkeerd gedoen nie.” Daar is drie dinge wat almal kwaad en ontsteld laat word, daar is vier dinge waarvan mense niks hou nie: Dit is wanneer 'n slaaf koning word, wanneer 'n dwaas te veel geëet het, wanneer 'n vrou wat nooit 'n man kon kry nie, later trou, en wanneer 'n slavin trou met die man van haar eienares. Daar is vier dinge op die aarde wat klein is maar wat meer wysheid het as almal: Miere is nie sterk nie, maar in die somer bêre hulle kos vir die winter. Dassies is nie sterk nie, maar hulle woon op die rotse. Sprinkane het nie 'n koning nie, maar hulle vlieg saam in swerms. 'n Geitjie is klein, jy kan hom met jou hand vang, maar hy is ook in konings se paleise. Daar is drie dinge wat netjies en mooi loop, nee, daar is vier dinge wat netjies en mooi stap: Dit is 'n leeu wat sterker is as ander diere en wat vir niemand vlug nie, 'n hoenderhaan, 'n bok-ram, en 'n koning wat sy manne lei. As jy dwaas was en gedink het jy is belangrik, as jy slim planne probeer maak het, dan moet jy stilbly, want wanneer jy melk lank skud, dan word dit botter, wanneer jy iemand op sy neus slaan, dan bloei sy neus, en wanneer jy mense kwaad maak, dan twis hulle.

SPREUKE 30:18-33 Die Boodskap (DB)

Daar is drie dinge wat net te wonderlik is om te verstaan, vier wat ek hoegenaamd nie kan begryp nie: die gemak waarmee ’n arend in die lug rondvlieg; die manier waarop ’n slang geruisloos oor ’n rots seil; die manier waarop ’n skip op die oop see ronddryf, en die liefde van ’n man vir ’n vrou. ’n Los vrou verontskuldig haarself altyd. Sy is soos iemand wat skelm eet, haar mond afvee en dan sê sy het niks verkeerds gedoen nie. Daar is drie dinge wat ’n land op die randjie van ’n afgrond bring, vier wat hom heeltemal kan verwoes: die skoonmaker wat president word; ’n dom mens wat hom net vol eet, maar niks wil doen nie; ’n vrou wat nie liefde ken nie en dan tog ’n man kry; ’n werkster in ’n lae rang wat sommer die baas word. Daar is vier diertjies wat baie klein is, maar buitengewoon slim is: miere is nie juis baie sterk nie, maar hulle weet baie goed dat hulle in die somer kos vir die winter moet wegbêre; klipdassies is ook nie sterk nie, maar hulle het dit tog reggekry om in rotsskeure te bly; sprinkane het nie ’n koning nie, maar hulle tree gedurig soos een man op, en akkedisse is so klein, jy kan hulle sommer met jou hand optel, maar hulle weet presies hoe om in die duurste huise van die rykste mense te kom. Daar is drie dinge wat indruk maak, vier wat ’n mens altyd sal onthou: die leeu wat oor die diereryk heers en vir niemand terugstaan nie; die haan wat triomfantlik oor die henne heers; die ram aan die voorpunt van sy trop; die koning wat sy troepe uitlei. As jy so dom was om groot te praat of verkeerde dinge te beplan, hou dan dadelik daarmee op. So seker as wat ’n mens melk skud en dit botter word, iemand op die neus slaan en dit begin bloei, iemand kwaad maak en daar rusie ontstaan, net so seker kom jy in die moeilikheid as jy nie jou domheid los nie.