SPREUKE 24:10-12
SPREUKE 24:10-12 Bybel vir almal (ABA)
As jy nie weet wat om te doen wanneer dit gevaarlik is nie, dan is jy nie sterk genoeg nie. Wanneer jy sien dat mense gevangenes wegsleep om hulle dood te maak, wanneer jy weet dat hulle sal sterf as jy nie help nie, dan móét jy hulle red. Jy mag nie sê: “Ons het dit nie gesien nie,” want daar is Iemand wat in jou hart kyk, Hy weet wat gebeur en Hy kyk wat jy doen, Hy weet en Hy sal dieselfde aan jou doen wat jy aan ander mense doen.
SPREUKE 24:10-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Gedra jy jou slap in die dag van benoudheid, dan skiet jou krag te kort. Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! — sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk.
SPREUKE 24:10-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
As jy weifel op die dag van nood, is jy nie opgewasse daarvoor nie. Red dié wat na hulle dood toe gesleep word, dié wat val-val op pad is om doodgemaak te word as jy nie keer nie. As jy sou sê: “Ons weet daar niks van af nie”, sal God wat die gedagtes toets, weet wat die waarheid is. Hy wat oor jou wag hou, Hy weet en Hy vergeld 'n mens vir wat hy gedoen het.
SPREUKE 24:10-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Gedra jy jou lafhartig in 'n tyd van nood, dan is jou krag beperk. Red hulle wat weggeneem word na die dood, dié wat na die slagplek strompel – moenie terughou nie! As jy sê, ‘Kyk, ons het dit nie geweet nie!’ sal Hy wat harte beoordeel, sal Hy nie daaraan aandag gee nie? En Hy wat jou lewe beskerm, sal Hy dit nie weet nie? Hy sal 'n mens vergeld ooreenkomstig sy dade.
SPREUKE 24:10-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As jy beswyk op die dag van benoudheid, is jou krag gering. As jy nalaat om die wat na die dood getrek word, en die wat gereed is om gedood te word, te red; As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie; Beskou hy wat die hart oordink dit nie? en hy wat jou siel bewaar, weet hy dit nie? en sal hy nie elkeen vergelde volgens sy werke nie?
SPREUKE 24:10-12 Die Boodskap (DB)
’n Krisis leer jou hoe sterk jy werklik is. As jy ondergaan, was jou kragte maar min. Moenie net toekyk hoe mense onregverdig behandel word nie. Doen iets! Moenie toelaat dat hulle lewens verwoes word nie. Stop dit! Moenie agterna sê jy het niks daarvan geweet nie. Die Here ken ons en weet wat ons dink. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie. Hy oordeel elkeen volgens sy werke.
SPREUKE 24:10-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As jou knieë knak wanneer die krisis opduik, is jou krag maar baie min. Red die mense wat onskuldig na die galg toe gesleep word. Hulle sal doodgemaak word as jy nie keer nie. Moenie jou verontskuldig en sê: “Ons het nie geweet nie.” Hy wat die gedagtes toets, weet mos wat waarheid is. Hy wat sy hand oor jou hou, weet wat waar is. God roep elkeen tot verantwoording vir wat hy gedoen het.