SPREUKE 23:29-35
SPREUKE 23:29-35 Bybel vir almal (ABA)
Wie is dit wat kla en sug, wie is dit wat twis? Wie is dit wat aanhou praat, wat seerkry maar hy weet dit nie? Wie het rooi oë? Dit is mense wat sit en drink tot dit laat is, mense wat aanhou proe aan drank. Jy moenie na die wyn kyk wanneer dit rooi is en blink in die beker nie, die wyn wat jy so lekker sluk. Wanneer jy die wyn klaar gedrink het, dan pik hy soos 'n slang en hy spoeg gif soos 'n kobra. Dan sien jy dinge wat jy nie ken nie en jy dink deurmekaar dinge. Dit voel of jy in die middel van die see lê, dit voel of jy op 'n seilskip se maspaal lê, en jy dink: Hulle het my geslaan, maar ek het nie seergekry nie, hulle het my gestamp, maar ek het dit nie geweet nie. Jy dink: Wanneer word ek wakker? Ek wil nog wyn gaan soek om te drink.
SPREUKE 23:29-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
By wie is „Ag!”; by wie is „Wee my!”; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë? By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe. Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: op die end byt dit soos 'n slang en spuug gif uit soos 'n basilisk. Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek; en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê. Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!
SPREUKE 23:29-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank. Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos 'n slang, spoeg hy gif soos 'n kobra. Dan sien jy vreemde dinge en praat jy verkeerde dinge; dit voel of jy op die oop see lê, of jy bo-op 'n seilskip se touwerk lê, en jy dink: ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie; ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie! Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.
SPREUKE 23:29-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
By wie is daar smart? By wie is daar ellende? By wie is daar 'n gekyf? By wie is daar klagtes? By wie is daar onnodige wonde? By wie is daar bloedbelope oë? Dit is by hulle wat agterbly by die wyn, by hulle wat ingaan om gemengde wyn te bly proe. Moenie na wyn kyk wanneer dit rooi skyn, sy glans in die beker gee nie – dit vloei te glad af! Agterna pik dit soos 'n slang en spuit gif soos 'n kobra. Dan sien jou oë vreemde goed, en jou hart praat verdorwe dinge. Jy sal wees soos een wat lê op die oop see, soos een wat lê op die top van 'n skip se takelwerk. Jy sal dink: Hulle het my geslaan, maar ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my afgeransel, maar ek het niks gemerk nie. Wanneer word ek wakker? Ek wil dit weer gaan soek.
SPREUKE 23:29-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie het wee? wie het droefheid? wie het twis? wie het gebabbel? wie het wonde sonder oorsaak? wie het rooi van oë? Die wat lank aan die wyn vertoef; hulle wat gaan om gemengde wyn te soek. Kyk nie na die wyn as dit rooi is, as dit sy kleur gee in die beker, as dit regop beweeg nie. Op die laaste byt dit soos 'n slang en steek soos 'n adder. Jou oë sal vreemde vroue aanskou, en jou hart sal verkeerde dinge uitspreek. Ja, jy sal wees soos hy wat in die middel van die see lê, of soos hy wat op die top van 'n mas lê. Hulle het my geslaan, moet jy sê, en ek was nie siek nie; hulle het my geslaan, en ek het dit nie gevoel nie; wanneer sal ek wakker word? Ek sal dit weer soek.
SPREUKE 23:29-35 Die Boodskap (DB)
Kyk mooi na die mense om jou. Wie kerm? Wie het dronkverdriet? Wie stry met almal? Wie kla oor alles? Wie het ’n blouoog? Snyplekke aan sy lyf? En dit alles sonder rede. Wie se oë is rooi en moeg? Natuurlik die dronklappe s’n. Hulle wat net nie kan ophou drink nie. Hulle wat hulle drankies meng sodat die skop nog sterker is. Pas maar op vir drank. Dit lyk mooi in die glas. Lekker as dit so skuim. ’n Mens slaan sommer maklik ’n hele paar doppe weg. Maar dink ook aan die nagevolge. Die babbelas. Die hoofpyn. Dit is soos ’n slang wat jou pik. Soos die gif van ’n adder wat jou doodmaak. Dit voel soos ’n ontploffing in jou kop. Jy sien dinge wat nie bestaan nie. Jy praat die grootste klomp onsin. Jy sweef soos iemand wat in die middel van die see op ’n bootjie ronddobber. Jy is bang soos iemand wat op die rand van ’n hoë gebou probeer slaap. Drank maak jou ongevoelig. Mense sal jou skop, maar jy sal dit nie eens voel nie. Hulle sal jou slaan, maar jy sal dit nie eens weet nie. Al waaraan jy dink, is drank. Jy kan nie wag dat die drankwinkel oopmaak en jy weer kan begin drink nie.
SPREUKE 23:29-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie het kopseer en lyfseer? Wie maak rusie en kla? Wie het onnodige kneusplekke? Wie se oë is bloedbelope? Dis dié wat tot laat sit en drink en allerlei mengsels proe. Moenie dat jy verlei word deur die rooi glans van wyn, die vonkel in die beker, die gladde manier waarop dit in jou keel afloop nie. Nadat jy dit gedrink het, pik dit soos ’n slang, spoeg dit gif soos ’n kobra. Jy sien dan vreemde dinge en jou gedagtes is verward. Dit voel of jy rondsteier soos ’n matroos op see, of op ’n seilboot rondslinger. Jy redeneer by jouself: “Hulle het my geslaan en ek het nie seergekry nie! Ek weet nie eers dat hulle my geslaan het nie. Wanneer ek wakker word, sal ek iets gaan soek wat ek kan drink.”