SPREUKE 19:5-9 - Compare All Versions

SPREUKE 19:5-9 ABA (Bybel vir almal)

'n Vals getuie sal sy straf kry, iemand wat lieg, sal nie vry wegkom nie. Daar is altyd baie mense wat wil hê dat 'n belangrike persoon hulle vriend moet wees, as iemand presente weggee, dan wil almal sy vriend wees. 'n Arm mens se broers hou nie van hom nie, nie een van sy broers nie, sy vriende hou ook nie van hom nie, sy vriende bly ver weg van hom. Wanneer die arm man met hulle wil praat, dan is hulle nie daar nie. Iemand wat wil leer om verstandig te wees, is lief vir sy lewe, dit gaan goed met iemand wat verstandig bly. 'n Vals getuie sal sy straf kry, iemand wat lieg, sal sterf.

SPREUKE 19:5-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, sal nie vrykom nie. Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het 'n hoop vriende. Al die broers van die arme haat hom; hoeveel te meer hou sy vriende hulle ver van hom af! Hy jaag agter hulle aan met woorde — weg is hulle! Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy wat insig bewaar, sal die goeie vind. 'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, kom om.

SPREUKE 19:5-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

'n Vals getuie bly nie ongestraf nie; wie leuens kwytraak, kom nie vry nie. Almal soek die goedgesindheid van 'n man met mag, elkeen is die vriend van iemand wat geskenke uitdeel. As 'n arm man se broers almal niks met hom te doen wil hê nie, bly sy vriende ook van hom af weg, en om hulle te soebat, help nie. Wie homself liefhet, sorg dat hy wysheid verwerf; hy stel prys op insig sodat hy voorspoed kan geniet. 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie; wie leuens kwytraak, gaan tot niet.

SPREUKE 19:5-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

'n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en iemand wat leuens uitryg, sal nie vrykom nie. Baie soek die guns van 'n vooraanstaande persoon, en elkeen is die vriend van 'n vrygewige man. 'n Arme se hele familie het 'n weersin in hom; hoeveel te meer sal sy boesemvriend nie van hom af wegbly nie? Hy probeer hulle met woorde bereik, maar hulle is nie daar nie. Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy koester verstandigheid om die goeie te vind. 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en wie leuens uitryg, gaan ten gronde.

SPREUKE 19:5-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

'n Valse getuie sal nie ongestraf bly nie, en hy wat leuens spreek, sal nie ontvlug nie. Baie sal die vors se guns smeek, en elkeen is 'n vriend vir hom wat geskenke gee. Al die broeders van die armes haat hom; hoeveel te meer gaan sy vriende ver van hom af? hy agtervolg hulle met woorde, maar hulle ontbreek hom. Hy wat wysheid verkry, het sy eie siel lief; hy wat verstand bewaar, sal die goeie vind. 'n Valse getuie sal nie ongestraf bly nie, en hy wat leuens spreek, sal omkom.

SPREUKE 19:5-9 DB (Die Boodskap)

Iemand wat doelbewus vals stories versprei, sal nie ongestraf bly nie. Elke leuenaar sal aan die pen ry. Jabroers kruip altyd by die baas. Hulle vra allerhande gunste. Almal is mos altyd ’n vriend van die een of ander belangrike persoon. Maar hulle dink net aan hulle eie belange. Iemand in ’n groot finansiële verknorsing staan alleen. Sy eie familie vermy hom. Sy vriende wil niks met hom te doen hê nie. Beloftes van hulp word gou vergeet. ’n Gelowige lewenstyl verryk ’n mens. Insig verleen kwaliteit aan die lewe. Onder kruisverhoor word ’n vals getuie gou vasgetrek. ’n Leuenaar sal nie maklik loskom nie.

SPREUKE 19:5-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

’n Vals getuie bly nie sonder straf nie. ’n Leuenaar sal die oordeel nie vryspring nie. Almal probeer om gewild te wees by ’n belangrike man. Almal is vriende met die man wat geskenke uitdeel. As ’n arm man se broers niks met hom te doen wil hê nie, hoeveel te meer sal sy naaste hulle nie aan hom steur nie? Hy smeek verniet by hulle. Hulle is weg. Iemand wat vir homself omgee, kry wysheid in die hande. Iemand wat insig vashou, geniet voorspoed. ’n Vals getuie kom nie vry nie. Iemand wat leuens rondstrooi, gaan tot niet.