SPREUKE 15:1-4 - Compare All Versions
SPREUKE 15:1-4 ABA (Bybel vir almal)
Wanneer jy vir iemand mooi antwoord, dan sal hy ophou om kwaad te wees, maar wanneer jy dinge sê wat iemand seermaak, dan maak jy hom kwaad. Wanneer wyse mense praat, dan leer 'n mens, en dit is lekker. Maar wanneer dwase praat, dan sê hulle net dom dinge. Die Here sien oral, Hy sien wat slegte mense doen en Hy sien wat goeie mense doen. Wanneer iemand praat om dit beter te laat gaan, dan laat hy mense lewe, maar wanneer hy dinge sê wat vals is, dan maak hy mense moedeloos.
SPREUKE 15:1-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
'N SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar 'n krenkende woord laat die toorn opkom. Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel. Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies. Sagtheid van tong is 'n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees.
SPREUKE 15:1-4 AFR83 (Afrikaans 1983)
'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam. Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks; dwase mense sê net dwase dinge. Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop. Kalmerende woorde bring lewe, skynheilige woorde breek mense.
SPREUKE 15:1-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
'n Sagte antwoord keer woede weg, maar 'n krenkende woord laat toorn opvlam. Die tong van wyses maak kennis lofwaardig, maar die mond van dwase stort sotheid uit. Op elke plek is die oë van die HERE, hulle hou slegtes en goeies dop. Kalmte van die tong is 'n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees.
SPREUKE 15:1-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar krenkende woorde laat toorn wakker word. Die tong van die wyse gebruik kennis reg, maar die mond van die dwase giet dwaasheid uit. Die oë van die HERE is op elke plek en aanskou die slegte en die goeie. 'n Gesonde tong is 'n boom van die lewe, maar verdraaidheid daarin is 'n breuk in die gees.
SPREUKE 15:1-4 DB (Die Boodskap)
’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense woedend. Gelowiges se woorde getuig van kennis. Dommes weet niks van die lewe nie. Hulle praat net onsin. Die Here weet wat mense doen. Hy sien al die goeie dinge en al die ongeregtighede raak. Iemand wat kalm oor probleme praat se woorde maak heel. Vlymskerp woorde kan mense breek.
SPREUKE 15:1-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
’n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere, ’n dwars antwoord laat woede opspring. Die woorde van wyse mense maak kennis aanloklik. Dwase mense borrel oor van dwase dinge. Die HERE sien oral wat gebeur. Sowel slegte as goeie mense hou Hy dop. Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde vernietig mense.