SPREUKE 1:7-9 - Compare All Versions

SPREUKE 1:7-9 ABA (Bybel vir almal)

Jy moet gehoorsaam wees aan die Here en jy moet Hom respekteer. As jy dit doen, dan is jy regtig slim. Dit is dwase wat dink dit is nie belangrik om wysheid te hê en om te leer nie. My kind, jy moet luister na wat jou pa en jou ma vir jou wil leer, jy moenie vergeet wat hulle vir jou leer nie. As jy dit nie vergeet nie, dan sal jy 'n mooi lewe hê.

SPREUKE 1:7-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

DIE vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; want dit is 'n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.

SPREUKE 1:7-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: dit sal jou lewe versier soos 'n krans jou kop en 'n kettinkie jou hals.

SPREUKE 1:7-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ontsag vir die HERE is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit. My seun, luister na die vermaning van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie; want dit is 'n bekoorlike krans vir jou kop, en halssnoere vir jou nek.

SPREUKE 1:7-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Die vrees van die HERE is die begin van kennis, maar dwase verag wysheid en tug. My seun, hoor die tug van jou vader, en versaak die wet van jou moeder nie. Want hulle sal 'n sierlike versiering vir jou hoof wees en kettings om jou nek.

SPREUKE 1:7-9 DB (Die Boodskap)

Lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie. Iemand wat die Here nie liefhet nie en ook nie weet hoe om reg te leef nie, is dom. Hy verag ook al die spreuke. ’n Jongmens moet die waarhede wat sy pa hom leer, ernstig opneem. Sy ma se lewenswaardes moet hy nie in die wind slaan nie. Ouers se liefdevolle dissipline maak ons mooi mense. Dit is soos klere wat ons lewe versier.

SPREUKE 1:7-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Kennis begin met eerbied vir die HERE, net dwase verag wysheid en dissipline. My seun, luister na wat jou pa jou leer. Moenie wat jou ma vir jou sê in die wind slaan nie. Wat jy by hulle leer, sal jou lewe met goedheid kroon en ’n versiering wees om jou nek.