FILIPPENSE 3:8-9
FILIPPENSE 3:8-9 Bybel vir almal (ABA)
Ek weet nou die belangrikste ding in die lewe is om Christus Jesus, my Here, te ken! Al die ander dinge beteken niks. Christus is vir my so belangrik dat ek al die ander dinge gelos het, ek dink dit is alles gemors. Ek het iets gekry wat baie beter is as daardie dinge, ek het vir Christus gekry! Ek behoort nou aan Christus. God het my vrygespreek omdat ek in Christus glo, nie omdat ek doen wat die wette sê nie, maar omdat ek glo.
FILIPPENSE 3:8-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof
FILIPPENSE 3:8-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo.
FILIPPENSE 3:8-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof
FILIPPENSE 3:8-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ja, ongetwyfeld, en ek ag alles maar skade weens die voortreflikheid van die kennis van Christus Jesus, my Here; vir wie ek alles verloor het en dit as mis beskou, om Christus te wen, en in Hom gevind word, nie met my eie geregtigheid wat uit die wet is nie, maar wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof.
FILIPPENSE 3:8-9 Die Boodskap (DB)
Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame. Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie, maar omdat ek Jesus vertrou. Vrede en goeie verhoudings tussen God en mens word ervaar deur almal wat in Jesus glo. God sorg daarvoor.
FILIPPENSE 3:8-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees. Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg.