FILIPPENSE 3:8-14
FILIPPENSE 3:8-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees. Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg. Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef! Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het! Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.
FILIPPENSE 3:8-14 Bybel vir almal (ABA)
Ek weet nou die belangrikste ding in die lewe is om Christus Jesus, my Here, te ken! Al die ander dinge beteken niks. Christus is vir my so belangrik dat ek al die ander dinge gelos het, ek dink dit is alles gemors. Ek het iets gekry wat baie beter is as daardie dinge, ek het vir Christus gekry! Ek behoort nou aan Christus. God het my vrygespreek omdat ek in Christus glo, nie omdat ek doen wat die wette sê nie, maar omdat ek glo. Nou ken ek Hom en ek voel sy krag in my lewe, die krag wat Hom weer laat lewe het. Ek kry ook swaar, soos Hy swaargekry het. Ja, ek sterf soos Hy gesterf het, en ek glo dat God my ook weer kan laat lewe nadat ek gesterf het. Ek sê nie dat ek hierdie nuwe lewe al klaar het nie of dat ek al klaar is wat ek moet wees nie. Maar ek sal aanhou probeer om dit te kry, want Christus Jesus het gesê ek behoort aan Hom. Vriende, ek dink nie dat ek dit al klaar alles gekry het nie, maar een ding is vir my belangrik: Ek vergeet al die dinge wat verby is, en ek dink net aan die dinge wat nog sal gebeur. Ek is soos iemand wat resies hardloop om 'n prys te wen. Die prys is om in die hemel te kom, want God het my gekies en ek behoort aan Christus Jesus.
FILIPPENSE 3:8-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
FILIPPENSE 3:8-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
FILIPPENSE 3:8-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.
FILIPPENSE 3:8-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ja, ongetwyfeld, en ek ag alles maar skade weens die voortreflikheid van die kennis van Christus Jesus, my Here; vir wie ek alles verloor het en dit as mis beskou, om Christus te wen, en in Hom gevind word, nie met my eie geregtigheid wat uit die wet is nie, maar wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof. Sodat ek Hom kan ken, en die krag van sy opstanding en die gemeenskap van sy lyde, wat aan sy dood gelykvormig gemaak word; As ek op enige manier die opstanding van die dooies kan bereik. Nie asof ek alreeds bereik het nie, of ek al volmaak is nie; maar ek jaag daarna, as ek dit kan begryp waarvoor ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken my nie as gevat nie; maar hierdie een ding doen ek, en vergeet die dinge wat agter is, en reik uit na die dinge wat voor is, Ek jaag na die punt vir die prys van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
FILIPPENSE 3:8-14 Die Boodskap (DB)
Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame. Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie, maar omdat ek Jesus vertrou. Vrede en goeie verhoudings tussen God en mens word ervaar deur almal wat in Jesus glo. God sorg daarvoor. Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap. Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het. Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Allesbehalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ’n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort.
FILIPPENSE 3:8-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees. Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg. Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef! Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het! Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.