FILIPPENSE 3:17-19
FILIPPENSE 3:17-19 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, julle moet lewe soos ek lewe en julle moet kyk hoe lewe die mense wat lewe soos ek. Ek het vir julle gesê en ek sê nou weer vir julle met trane in my oë: Daar is baie mense wat sê die kruis van Christus beteken niks. Daardie mense gaan hel toe. Hulle dink om te eet is die belangrikste ding in die lewe. Hulle is trots op die slegte dinge wat hulle doen. Hulle dink altyd aan die dinge van die wêreld.
FILIPPENSE 3:17-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het. Want baie — van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê — wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.
FILIPPENSE 3:17-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.
FILIPPENSE 3:17-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Broers, volg dan my voorbeeld, en let op hulle wat so leef volgens die voorbeeld wat ons aan julle gestel het, want baie, van wie ek dit dikwels vir julle gesê het, en nou weer in trane sê, leef as vyande van die kruis van •Christus. Hulle einde is die verderf, die maag is hulle god, hulle eer is geleë in hulle skande – hulle wat aardse dinge bedink.
FILIPPENSE 3:17-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Broeders, wees my navolgers, en let op die wat so wandel soos julle ons as voorbeeld het. (Want baie wandel, van wie ek julle dikwels gesê het, en nou selfs wenend vir julle sê dat hulle die vyande van die kruis van Christus is. Wie se einde die verderf is, wie se God hulle buik is, en wie se heerlikheid in hulle skande is, wat aan aardse dinge dink.)
FILIPPENSE 3:17-19 Die Boodskap (DB)
My broers en susters, doen wat ek gedoen het. Wees my navolgers. Terwyl ek nie daar is nie, moet julle die mense se voorbeeld volg wat die wedloop net soos ek hardloop. Dit is belangrik dat julle die regte mense volg. Ek het dit al baie vir julle gesê en dit maak my eintlik seer om dit weer te moet sê: daar is baie mense wat niks van Jesus hou en van wat Hy alles vir ons gedoen het nie. Mense wat agter daardie klomp aanloop, gaan saam met hulle die afgrond afstort waar hulle vir ewig van God af weg sal wees. Hulle stel mos meer belang daarin om hulleself en hulle eie begeertes te dien as vir God. Hulle spog oor dinge waaroor ’n mens jou eintlik bloedrooi behoort te skaam. Aan God dink hulle nie eens nie, want al wat vir hulle waarde het, is aardse dinge.
FILIPPENSE 3:17-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ja, broers en susters, volg my voorbeeld en hou julle oë op die mense wat volgens ons voorbeeld lewe. Want – ek het julle al vroeër gesê, en met groot hartseer moet ek dit nou weer sê – daar is baie wie se lewe wys dat hulle vyande van die kruis van Christus is. Ewige vernietiging is hulle uiteinde, liggaamlike behoeftes is hulle god en skandelike dinge is hulle trots. Al waaraan hulle dink, is aardse dinge.