FILIPPENSE 2:17-23
FILIPPENSE 2:17-23 Bybel vir almal (ABA)
Julle geloof is 'n offer wat julle gee om God te dien. As ek moet sterf, dan sal my bloed wees soos 'n drank-offer wat iemand by julle offer uitgooi, maar ek sal bly wees daaroor. Ja, ek sal bly wees saam met julle. Julle moet ook bly wees, julle moet bly wees saam met my! Ek wil vir Timoteus gou na julle toe stuur, en ek hoop die Here Jesus sal dink dit is reg. Ek wil hoor hoe dit met julle gaan sodat ek ook beter kan voel. Ek het niemand anders wat soos Timoteus is nie. Hy sal julle graag help. Al die ander mense dink net aan hulle eie dinge, hulle dink nie aan die dinge van Jesus Christus nie. Maar julle weet Timoteus is 'n goeie mens. Julle weet dat hy saam met my gewerk het om die goeie boodskap te bring, hy het saam met my gewerk soos 'n seun saam met sy pa werk. Ek wil vir Timoteus na julle toe stuur wanneer ek weet wat hier met my sal gebeur.
FILIPPENSE 2:17-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar al word ek as 'n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal; en om dieselfde rede moet julle ook bly wees en julle saam met my verbly. EN ek hoop in die Here Jesus om Timótheüs gou na julle te stuur, sodat ek ook welgemoed kan wees as ek julle omstandighede te wete gekom het. Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie; want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie. Maar julle ken sy beproefdheid, dat hy, soos 'n kind teenoor sy vader, saam met my in die evangelie gedien het. Ek hoop dan om hom dadelik te stuur, so gou as ek sien hoe dit met my sal gaan
FILIPPENSE 2:17-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle geloof is 'n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees. Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos 'n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien. Ek hoop om hom dadelik te stuur, sodra ek gesien het hoe my sake verloop.
FILIPPENSE 2:17-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar al word ek ook as •drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal. Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my. Ek hoop in die Here Jesus om Timoteus gou na julle te stuur, sodat ek ook bemoedig kan word wanneer ek julle omstandighede leer ken het. Want ek het geen ander geesgenoot wat hom opreg oor julle omstandighede sal bekommer nie. Almal soek net hulle eie belang, nie dié van Jesus •Christus nie. Julle weet hoe Timoteus homself bewys het, hoe hy soos 'n kind teenoor sy vader, saam met my die evangelie bedien het. Ek hoop dus om hom te stuur, so gou as wat ek weet wat my omstandighede gaan wees.
FILIPPENSE 2:17-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ja, en as ek geoffer word deur die offerande en diens van julle geloof, verheug ek my en is ek bly saam met julle almal. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees en saam met My bly wees. Maar ek vertrou op die Here Jesus om Timotheus binnekort na julle te stuur, sodat ek ook goed kan vertroos wanneer ek julle toestand ken. Want ek het geen eensgesind nie, wat natuurlik vir jou toestand sal sorg nie. Want almal soek hulle eie, nie die dinge wat aan Jesus Christus behoort nie. Maar julle ken die bewys van Hom, dat Hy, soos 'n seun by die vader, saam met My in die evangelie gedien het. Daarom hoop ek om hom gou te stuur, sodra ek sal sien hoe dit met my sal gaan.
FILIPPENSE 2:17-23 Die Boodskap (DB)
Selfs al word ek nou doodgemaak, sal dit my ook nie pla nie, want ek het dan iets om vir God te gee. My dood kan só selfs vir julle help om God nog beter te dien. Dit sal my baie bly maak, soos ook vir julle. Julle moet bly wees saam met my. Ja, my vreugde moet julle s’n wees en julle s’n myne. Ek hoop om Timoteus gou na julle toe te stuur, want dit is wat die Here Jesus wil hê. Ek kan aan niemand anders dink wat soveel vir julle omgee as hy nie. Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is. Boonop ken julle Timoteus en weet wat daar in hom steek. Hy het die toets mos deeglik deurstaan. Soos ’n seun skouer aan skouer saam met sy pa werk, so het hy hom afgesloof om saam met my die mense van Jesus Christus te vertel. Ek moet erken dat ek ook baie bly sal wees om te hoor hoe dit met julle gaan. Nou ja, sodra die dinge hier afgehandel is en ek weet wat die toekoms vir my inhou, beplan ek om hom na julle toe te stuur.
FILIPPENSE 2:17-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Selfs al word my lewe soos ’n drankoffer uitgegiet bo-op die offer van julle gelowige diens aan God, is ek bly daaroor en wil ek saam met julle almal bly wees daaroor. Laat my vreugde hieroor ook julle vreugde wees! Ek hoop om, as die Here Jesus wil, binnekort vir Timoteus na julle toe te stuur. Dit sal my goeddoen as ek weet hoe dit met julle gaan. Ek beskou Timoteus immers as die enigste persoon wat met ’n opregte gesindheid aan julle belange aandag sal gee. Al die ander soek net hulle eie belang en nie dit wat vir Jesus Christus saak maak nie. Julle weet egter hoe Timoteus homself bewys het. Soos ’n seun sy pa help, het hy saam met my gewerk om die Goeie Nuus uit te dra. Ek hoop om juis hóm na julle toe te stuur sodra ek duidelikheid het oor my eie posisie.