FILIPPENSE 2:1-11

FILIPPENSE 2:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Julle behoort aan Christus en Hy maak julle geloof sterk. Julle is lief vir mekaar en julle help mekaar. Julle almal het die Heilige Gees in julle harte en daarom behoort julle aan mekaar. Julle is bekommerd oor mekaar en julle sorg vir mekaar. Daaroor is ek bly, maar julle moet my nog blyer maak: Julle moet dieselfde dinge dink, julle moet dieselfde liefde in julle harte hê, julle moet in julle harte dieselfde voel en dieselfde dinge wil doen. Wanneer julle iets doen, dan moet julle dit nie doen omdat julle selfsugtig is of omdat julle dink julle is baie belangrik nie. Julle moenie hoogmoedig wees nie, julle moet dink ander gelowiges is belangriker as julleself. Julle moenie net aan julleself dink nie, julle moet ook aan die ander gelowiges dink. Julle moet dink en doen soos Christus Jesus gedink en gedoen het: Hy was dieselfde soos God, maar Hy het nie gedink dat Hy altyd moet aanhou om so belangrik soos God te wees nie. Hy het Homself verneder en Hy het geword soos 'n slaaf, Hy het 'n mens geword soos ons. Toe Hy 'n mens geword het, het Hy Homself nog meer verneder, Hy was gehoorsaam en Hy het gesterf. Ja, Hy het aan die kruis gesterf. Daarom het God Hom belangrik gemaak, baie belangrik. En God het vir Hom 'n Naam gegee, die belangrikste van al die Name, die Naam “Here.” Daarom sal almal vir Jesus aanbid, almal in die hemel en op die aarde en onder die aarde. Ja, al die mense sal sê hulle glo dat Jesus Christus die Here is, en so sal hulle vir God die Vader prys.

FILIPPENSE 2:1-11 Die Boodskap (DB)

As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het; as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het; as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee, wil ek julle ’n groot guns vra. Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak. Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink. Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop. Maar God het Hom uit die diepte van vernedering gehaal en Hom die hoogste eer gegee wat God iemand kan gee. Nou is niks en niemand belangriker as Hy nie en niks en niemand kan ook belangriker as Hy wees nie. God self het so besluit. Net mooi almal sal voor die grote Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus moet buig. Hulle almal sal met oortuiging vir mekaar sê: “Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe groot en belangrik God die Vader is.