FILIPPENSE 1:20-27
FILIPPENSE 1:20-27 Bybel vir almal (ABA)
Ek hoop en ek weet seker dat God my sal help en dat Hy my nie sal los nie. Ja, ek wil altyd, soos voorheen, graag wys dat Christus die belangrikste is. Daarom maak dit nie saak of ek sal lewe en of ek sal sterf nie. As ek lewe, dan lewe ek vir Christus, en as ek sterf, dan is dit vir my nog beter. Ek weet nie wat ek moet kies nie. As ek aanhou lewe, dan kan ek goeie werk doen, maar ek wil graag sterf om by Christus te wees, want dit is die beste. En dit is vir my regtig baie moeilik om te kies of ek moet aanhou lewe en of ek moet sterf. Maar vir julle is dit belangriker dat ek sal aanhou lewe. Ja, ek is seker daarvan. Daarom weet ek dat ek sal aanhou lewe en nog saam met julle almal sal wees, sodat julle geloof kan groei en sodat dit julle bly kan maak. Wanneer ek weer by julle is, dan sal julle nie ophou om Christus Jesus te prys oor my nie. Die belangrikste van alles is dat julle só moet lewe dat julle lewens pas by die goeie boodskap oor Christus. Julle moet saamwerk en dieselfde dinge dink en glo. Julle moet almal saam hard werk sodat ander mense die goeie boodskap kan glo. Julle moet dit doen wanneer ek na julle toe kom en vir julle sien, maar ook wanneer ek nie kom nie en by ander mense hoor wat julle doen.
FILIPPENSE 1:20-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is. Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil. En dit vertrou en weet ek dat ek sal bly, ja, saam met julle almal sal bly tot julle bevordering en blydskap in die geloof, sodat julle roem oor my oorvloedig kan wees in Christus Jesus deur my teenwoordigheid weer by julle. ALLEENLIK, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie
FILIPPENSE 1:20-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in 'n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys. Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie
FILIPPENSE 1:20-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins; maar as my liggaam bly leef, beteken dit dat ek nog verder vrugbaar sal kan werk. Ek weet werklik nie wat om te kies nie. Ek is in 'n tweestryd gewikkel: Aan die een kant verlang ek om heen te gaan en saam met Christus te wees. Dit is immers verreweg die beste. Aan die ander kant is dit ter wille van julle noodsaakliker dat ek liggaamlik hier bly. Juis omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek hier sal bly, ja, dat ek wel by julle almal sal bly, sodat julle vordering kan maak en geloofsvreugde kan ervaar. So sal julle trots op my, wanneer ek weer by julle is, in Christus Jesus nog meer kan toeneem. Nog net dit: Tree so op dat dit die evangelie van •Christus waardig is, sodat, of ek kom en julle sien, of nie teenwoordig is nie, ek aangaande julle omstandighede mag hoor dat julle in één gees vasstaan, en een van hart en siel saam stry vir die geloof in die evangelie
FILIPPENSE 1:20-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Volgens my ernstige verwagting en my hoop, dat ek in niks sal skaam nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd, nou ook in my liggaam groot gemaak sal word, of dit nou deur die lewe of deur die dood is. Want vir my is om te lewe Christus, en om te sterwe is wins. Maar as ek in die vlees lewe, is dit die vrug van my arbeid; maar wat ek sal uitkies, weet ek nie. Want ek is in die moeilikheid tussen twee en het 'n begeerte om weg te gaan en met Christus te wees; wat baie beter is: Maar om in die vlees te bly, is vir jou meer nodig. En met hierdie vertroue weet ek dat ek by julle almal sal bly en aanhou vir julle bevordering en vreugde van geloof; Sodat julle blydskap vir my oorvloediger mag wees in Jesus Christus deurdat ek weer na julle toe kom. Laat julle wandel net wees soos dit die evangelie van Christus betaam, sodat of ek kom en julle sien of anders afwesig is, ek van julle sake kan hoor, sodat julle vasstaan in een gees, eensgesind en saam stry vir die geloof van die evangelie
FILIPPENSE 1:20-27 Die Boodskap (DB)
Ek is seker dat ek nie skaam sal wees oor wat ek gedoen het nie. Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen, en ek doen niks skelms nie. Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen, maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie. Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe. Ek kan nog soveel goeie dinge vir Hom doen. Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie. Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie. Ek voel soos iemand wat in twee verdeel is. Aan die een kant wil ek graag by Christus wees. Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit? Maar aan die ander kant is dit vir julle beter en selfs nodig dat ek eers nog ’n rukkie bly lewe. Inderwaarheid is ek seker dat ek nie nou al sal doodgaan nie. Ek sal nog ’n ruk lank vir julle gespaar bly. Ek moet julle eers verder op die pad van die geloof help sodat julle net al hoe blyer kan word omdat julle Christene is. Ek weet mos, as ek binnekort weer daar by julle aangestap kom, sal julle net nie uitgepraat kan raak oor wat Christus Jesus alles vir my gedoen het nie. Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou na julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.
FILIPPENSE 1:20-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is my strewe en hoop dat ek nooit iets sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil eerder, soos nog altyd, ook nou in my hele bestaan – of ek bly leef en of ek moet sterf – Christus met volle vrymoedigheid verheerlik. Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins. As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie! Ek is in ’n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste. Aan die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe. Dit weet ek vas en seker: my blywende betrokkenheid by julle almal sal daartoe lei dat julle groei en blydskap in julle geloof sal beleef. Dan, wanneer ek weer by julle is, sal julle nog meer rede hê om dit wat Christus Jesus deur my gedoen het, te besing. Hoofsaak is dat julle leefstyl moet pas by die Goeie Nuus van Christus. Só sal ek dan as ek kom, sién of as ek nie kan kom nie, hóór dat julle met één gees vasstaan en soos ’n span eendragtig saamveg vir ons geloof in die evangelie.