FILIPPENSE 1:12-20

FILIPPENSE 1:12-20 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, ek wil hê julle moet weet dat al die dinge wat met my gebeur het, gehelp het dat meer mense die goeie boodskap hoor. Want al die mense van die keiser wat my hier oppas en ook die ander mense weet nou dat ek 'n gevangene is omdat ek aan Christus behoort. Die meeste mense hier wat in die Here glo, glo nou nog meer vas dat die Here sal doen wat Hy gesê het, omdat hulle gehoor het dat ek 'n gevangene is. Hulle word nou meer en meer dapper, hulle is nie bang om die boodskap van die Here vir ander mense te bring nie. Party van die mense hier preek oor Christus omdat hulle jaloers is en daarvan hou om te stry. Maar ander mense preek oor Christus omdat hulle goed wil doen. Hulle preek omdat hulle lief is vir Christus en hulle weet ek is 'n gevangene omdat ek vertel dat die goeie boodskap oor Christus reg is. Maar die ander mense preek omdat hulle selfsugtig is. Ja, hulle is vals. Hulle wil hê dat ek nou nog swaarder moet kry terwyl ek 'n gevangene is. Party mense is vals wanneer hulle preek, en party mense wil goed doen wanneer hulle preek. Maar dit maak nie vir my saak hoekom hulle preek nie. Hulle preek almal oor Christus, en daaroor is ek bly. En ek sal aanhou om bly te wees, want julle bid vir my, en die Gees van Jesus Christus help my. Daarom weet ek dat God alles wat gebeur, sal gebruik om my te red. Ek hoop en ek weet seker dat God my sal help en dat Hy my nie sal los nie. Ja, ek wil altyd, soos voorheen, graag wys dat Christus die belangrikste is. Daarom maak dit nie saak of ek sal lewe en of ek sal sterf nie.

FILIPPENSE 1:12-20 Die Boodskap (DB)

My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel. Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed? Dit help die verkondiging van die evangelie aan. Nie net al die wagte in die paleis nie, maar ook al die ander mense sien duidelik dat ek hier in die tronk is net omdat ek ’n Christen is. Dit het bowendien ’n goeie invloed op die meeste ander mense wat ook die Here dien. Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom om in die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep. Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie. Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat hulle te bang was, begin hulle nou al hoe meer oor Hom praat. Onder julle is daar party mense wat ook graag op die kansel klim. Hulle is egter jaloers op my en wil wys dat hulle beter as ek is. Hulle probeer dit vir my moeilik maak terwyl ek hier in die tronk is. Hulle wil net graag aandag trek en stel nie regtig in ander mense belang nie. Maar daar is gelukkig ook mense wat baie goed met my oor die weg kom. Hulle is lojaal teenoor my en het my lief. Hulle weet mos dat ek in die tronk is omdat die verspreiding van God se goeie nuus vir my baie, baie belangrik is. Maar wat maak dit nou alles saak? Vir my is die belangrikste dat mense van Christus moet hoor. Dit maak eintlik nie soveel saak of mense met skoon bedoelings ander mense van Jesus vertel of nie. Solank dit net gedoen word, maak dit my hart al klaar bly. En dit is nie al wat my bly maak nie. Ek weet dat julle vir my bid en dat die Gees van Jesus Christus vir my gee wat ek nodig het. Daarom het ek geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie. Ek is seker dat ek nie skaam sal wees oor wat ek gedoen het nie. Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen, en ek doen niks skelms nie. Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen, maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie.