FILIPPENSE 1:12-18
FILIPPENSE 1:12-18 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ek wil hê julle moet weet dat al die dinge wat met my gebeur het, gehelp het dat meer mense die goeie boodskap hoor. Want al die mense van die keiser wat my hier oppas en ook die ander mense weet nou dat ek 'n gevangene is omdat ek aan Christus behoort. Die meeste mense hier wat in die Here glo, glo nou nog meer vas dat die Here sal doen wat Hy gesê het, omdat hulle gehoor het dat ek 'n gevangene is. Hulle word nou meer en meer dapper, hulle is nie bang om die boodskap van die Here vir ander mense te bring nie. Party van die mense hier preek oor Christus omdat hulle jaloers is en daarvan hou om te stry. Maar ander mense preek oor Christus omdat hulle goed wil doen. Hulle preek omdat hulle lief is vir Christus en hulle weet ek is 'n gevangene omdat ek vertel dat die goeie boodskap oor Christus reg is. Maar die ander mense preek omdat hulle selfsugtig is. Ja, hulle is vals. Hulle wil hê dat ek nou nog swaarder moet kry terwyl ek 'n gevangene is. Party mense is vals wanneer hulle preek, en party mense wil goed doen wanneer hulle preek. Maar dit maak nie vir my saak hoekom hulle preek nie. Hulle preek almal oor Christus, en daaroor is ek bly. En ek sal aanhou om bly te wees
FILIPPENSE 1:12-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander, en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek. Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid: die eerste verkondig Christus uit naywer, nie met suiwer bedoelinge nie, met die mening om aan my boeie verdrukking toe te voeg; maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie. Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder 'n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.
FILIPPENSE 1:12-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek 'n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig. Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is en iets teen my het, maar ander doen dit met opregte bedoelings. Laasgenoemdes verkondig Christus omdat hulle my liefhet en weet dat dit my taak is om die evangelie te verdedig; maar eersgenoemdes maak Christus bekend uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings. Hulle oogmerk is om die gevangenskap vir my nog swaarder te maak. Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly
FILIPPENSE 1:12-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Broers, ek wil hê julle moet weet dat wat met my gebeur het, in werklikheid tot bevordering van die evangelie gelei het. Sodoende het dit by die hele pretorium en al die ander bekend geword dat ek ter wille van •Christus in gevangenskap verkeer. Ook waag die meeste van die broers in die Here, omdat hulle as gevolg van my gevangenskap vertroue verkry het, dit baie meer om die woord vreesloos te verkondig. Sommige verkondig Christus wel uit jaloesie en twisgierigheid, ander egter uit goedgesindheid. Hulle doen dit uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is om die evangelie te verdedig, maar die ander verkondig Christus uit selfsugtige ambisie – nie met opregte motiewe nie, maar met die bedoeling om vir my in my gevangenskap verdrukking te veroorsaak. Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees
FILIPPENSE 1:12-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar ek wil hê dat julle moet verstaan, broers, dat die dinge wat met my gebeur het, eerder tot die bevordering van die evangelie uitgeval het; Sodat my bande in Christus openbaar word in die hele paleis en op al die ander plekke; En baie van die broeders in die Here, wat deur my boeie vertroue word, is baie meer vrymoedig om die woord sonder vrees te spreek. Sommige verkondig Christus inderdaad selfs uit afguns en twis; en sommige ook van goeie wil: Die een wat Christus van twis verkondig, nie opreg nie, met die veronderstelling om verdrukking by my boeie te voeg. Maar die ander van liefde, omdat ek weet dat ek ingestel is om die evangelie te verdedig. Wat dan? nieteenstaande, op elke manier, hetsy in voorgee of in waarheid, word Christus verkondig; en daarin is ek bly, ja, en ek sal bly wees.
FILIPPENSE 1:12-18 Die Boodskap (DB)
My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel. Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed? Dit help die verkondiging van die evangelie aan. Nie net al die wagte in die paleis nie, maar ook al die ander mense sien duidelik dat ek hier in die tronk is net omdat ek ’n Christen is. Dit het bowendien ’n goeie invloed op die meeste ander mense wat ook die Here dien. Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom om in die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep. Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie. Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat hulle te bang was, begin hulle nou al hoe meer oor Hom praat. Onder julle is daar party mense wat ook graag op die kansel klim. Hulle is egter jaloers op my en wil wys dat hulle beter as ek is. Hulle probeer dit vir my moeilik maak terwyl ek hier in die tronk is. Hulle wil net graag aandag trek en stel nie regtig in ander mense belang nie. Maar daar is gelukkig ook mense wat baie goed met my oor die weg kom. Hulle is lojaal teenoor my en het my lief. Hulle weet mos dat ek in die tronk is omdat die verspreiding van God se goeie nuus vir my baie, baie belangrik is. Maar wat maak dit nou alles saak? Vir my is die belangrikste dat mense van Christus moet hoor. Dit maak eintlik nie soveel saak of mense met skoon bedoelings ander mense van Jesus vertel of nie. Solank dit net gedoen word, maak dit my hart al klaar bly.
FILIPPENSE 1:12-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle moet weet, broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot bevordering van die Goeie Nuus. Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus. En die meerderheid mede-gelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in die Here versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees. Daar is wel sommige wat dit doen omdat hulle jaloers is of iets teen my het, maar daar is ook ander wat Christus met goeie bedoelings bekendmaak. Hulle doen dit uit liefde omdat hulle weet dat ek hier is om die Goeie Nuus te verdedig. Maar dié wat in eiebelang Christus verkondig, doen dit met onsuiwer motiewe. Hulle bedoeling is om die swaarkry van my gevangenskap nog swaarder te maak. Maar wat maak dit saak? Of hulle motiewe nou onsuiwer of suiwer is – die feit is dat Christus op allerhande maniere verkondig word, en daaroor is ek baie bly!