FILEMON 1:8-21
FILEMON 1:8-21 Bybel vir almal (ABA)
Daarom is ek nie bang om vir jou te sê wat Christus wil hê jy moet doen nie. Maar jy glo ook in Christus, en ek is lief vir jou. Daarom wil ek vir jou mooi vra. Ek, Paulus, vra dit, ek wat 'n ou man is en wat in die tronk is omdat ek aan Christus Jesus behoort. Ek vra vir jou mooi om vir Onesimus te help. Hy is soos my eie kind, want terwyl ek in die tronk was, het ek vir hom soos 'n pa geword toe ek vir hom die goeie boodskap van Christus Jesus gebring het. Voorheen het Onesimus nie vir jou gehelp nie, maar nou kan hy vir jou en vir my help. Ek het hom na jou toe gestuur, hy is vir my baie kosbaar. Ek wou hom by my hou sodat hy vir my kon help. Jy kan nie vir my help nie, want ek is in die tronk omdat ek vir mense die goeie boodskap gebring het. Maar ek wou niks doen nie, ek wou weet dat jy ook dink dit is reg. Dan kon jy 'n goeie ding doen, nie omdat iemand gesê het jy moet dit doen nie, maar omdat jy self lus was om dit te doen. Want miskien is dit hoekom Onesimus 'n kort tyd weg was van jou. Hy was weg sodat jy hom vir altyd kan terugkry. En nou kry jy hom terug, en hy is nie meer 'n slaaf nie, hy is nou iemand wat meer is as 'n slaaf. Ja, hy is 'n vriend, ek is baie lief vir hom. Maar jy is baie meer lief vir hom, want hy is nog jou slaaf en hy behoort nou ook aan die Here. Wanneer jy aan my gedink het, dan het jy altyd geweet dat ek saam met jou vir die Here werk. Daarom moet jy vir Onesimus aanvaar soos jy vir my aanvaar het. Maar as hy iets verkeerd gedoen het teen jou of as hy iets vir jou skuld, dan moet jy dit vir my sê. Dan skuld ek dit vir jou. Ek, Paulus, skryf nou met my eie hand: Ek belowe dat ek alles sal terugbetaal wat jy verloor het. Maar jy moet onthou dat jy vir my ook iets skuld, jy is 'n gelowige omdat ek die goeie boodskap vir jou gebring het. Ja, my vriend, jy moet dit asseblief vir my doen omdat jy ook aan die Here behoort, jy moet my bly maak omdat jy ook aan Christus behoort. Ek skryf vir jou omdat ek seker is dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet dat jy meer sal doen as wat ek vir jou vra.
FILEMON 1:8-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROM, al het ek baie vrymoedigheid in Christus om jou te beveel wat betaamlik is, pleit ek liewer ter wille van die liefde. Ek, Paulus, as 'n ou man en nou ook 'n gevangene van Jesus Christus, pleit by jou vir my kind, Onésimus, wat ek verwek het in my boeie, wat vroeër vir jou nutteloos was, maar nou baie nuttig vir jou en vir my. Ek stuur hom terug; maar neem jy hom, dit is my eie hart, aan. Ek wou hom by my hou, sodat hy my in die boeie van die evangelie in jou plek kan dien. Maar sonder jou goedkeuring wou ek niks doen nie, sodat jou goedheid nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse. Want miskien is hy om hierdie rede 'n tydjie van jou geskei, dat jy hom vir altyd kan besit, nie meer as 'n slaaf nie, maar méér as 'n slaaf, as 'n geliefde broeder in die vlees sowel as in die Here, veral vir my, hoeveel te meer vir jou. As jy my dan vir 'n metgesel hou, neem hom aan net soos vir my. En as hy jou benadeel het of iets skuld, sit dit op mý rekening — ek, Paulus, het dit met my eie hand geskrywe: ek sal betaal — om nie te sê jou rekening nie, want jy is daarby jou eie persoon ook aan my verskuldig. Ja, broeder, mag ek tog van jou voordeel trek in die Here! Verkwik my hart in die Here. In vertroue op jou gehoorsaamheid het ek aan jou geskrywe, omdat ek weet dat jy nog meer sal doen as wat ek sê.
FILEMON 1:8-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom, al het ek in Christus die volste reg om jou op jou plig te wys, doen ek liewer 'n beroep op jou op grond van die liefde. Dit doen ek, Paulus, wat 'n ou man is en nou ook 'n gevangene ter wille van Christus Jesus. Ek doen 'n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword. Voorheen was hy vir jou nie bruikbaar nie, maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my. Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom. Wat my betref, ek sou hom graag by my wou hou, sodat hy my in jou plek kan dien terwyl ek ter wille van die evangelie 'n gevangene is. Maar ek wou niks sonder jou instemming doen nie, sodat jou weldaad nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse. Miskien was hy 'n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry, nou nie langer net as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf: as 'n geliefde broer. Dit is hy besonderlik vir my; hoeveel te meer sal hy dit dan nie vir jou wees nie, as mens en as broer in die Here. Dus, as jy my as deelgenoot in die geloof beskou, ontvang hom net soos jy my sou ontvang. As hy jou enige skade aangedoen het of iets skuld, sit dit op my rekening. Hier skryf ek, Paulus, met my eie hand: “Ek sal betaal.” Ek hoef jou natuurlik nie daaraan te herinner dat wat jy is, jy aan my te danke het nie. Ja, broer, in die Naam van die Here, bewys my hierdie guns. Maak my hart bly, soos 'n broer in Christus. Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet ook dat jy selfs meer as dit sal doen.
FILEMON 1:8-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom, al het ek in •Christus groot vrymoedigheid om jou te beveel wat jy behoort te doen, rig ek, Paulus, op grond van die liefde eerder 'n versoek aan jou, juis omdat ek so 'n ou man is, en nou ook nog 'n gevangene ter wille van Christus Jesus. Ek pleit by jou vir my geestelike kind, Onesimus, wat ek tydens my gevangenskap verwek het. Hy het destyds vir jou geen voordeel ingehou nie, maar nou hou hy vir jou en vir my groot voordeel in. Ek het hom na jou teruggestuur, hy wat my eie hart is! Ek wou hom graag by my hou, sodat hy my in jou plek kon dien, terwyl ek ter wille van die evangelie in boeie is. Maar sonder jou instemming wou ek niks doen nie, sodat jy jou goeie daad nie uit dwang nie, maar vrywillig sal doen. Dalk was hy juis om hierdie rede 'n rukkie lank van jou af weg, sodat jy hom vir altyd kan terugkry, nie langer as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf, as 'n geliefde broer – in die besonder vir my, hoeveel te meer dan vir jou – liggaamlik, sowel as in die Here. Indien jy my as deelgenoot beskou, verwelkom hom asof dit ek is. En as hy jou enige skade berokken het of jou iets skuld, sit dit op my rekening. Ek, Paulus, skryf hier met my eie hand: “Ek sal betaal.” En dan praat ek nie eers daarvan dat jy jouself aan my verskuldig is nie. Ja, broer, mag ek tog in die Here van jou hierdie voordeel geniet; verkwik my hart in Christus. Met volle vertroue in jou gehoorsaamheid skryf ek vir jou, in die wete dat jy selfs meer sal doen as wat ek vra.
FILEMON 1:8-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, al sou ek baie vrymoedig wees in Christus om jou te beveel wat gerieflik is, Maar ek smeek u om liefde ontwil liewer, omdat u so iemand is soos die bejaarde Paulus en nou ook 'n gevangene van Jesus Christus. Ek smeek jou vir my seun Onesimus, wat ek in my boeie verwek het: wat vroeër vir jou nutteloos was, maar nou vir jou en vir my nuttig. Wat ek weer gestuur het; neem dan hom aan, dit is my eie ingewande. Wat ek by my sou behou het, sodat hy my in die boeie van die evangelie kon bedien het. Maar sonder u verstand sou ek niks doen nie; dat u voordeel nie as 't ware uit nood sou wees nie, maar gewillig. Want miskien het hy dan vir 'n tyd weggegaan, dat U hom vir ewig sou aanneem; Nie nou as 'n dienskneg nie, maar bo 'n dienskneg, 'n geliefde broeder, veral vir my, maar hoeveel te meer vir jou in die vlees sowel as in die Here? As jy my dan 'n vennoot ag, neem hom aan soos myself. As hy jou onreg aangedoen het of jou skuld verskuldig is, sit dit op my rekening; Ek, Paulus, het dit met my eie hand geskrywe, ek sal dit vergelde; al sê ek nie vir jou hoe jy ook jou eie aan my verskuldig is nie. Ja, broer, laat my oor jou bly wees in die Here; verkwik my ingewande in die Here. Met vertroue in u gehoorsaamheid het ek aan u geskryf, omdat ek weet dat u ook meer sal doen as wat ek sê.
FILEMON 1:8-21 Die Boodskap (DB)
Filemon, ons albei glo in Christus. Daarom sou ek jou kon beveel om te doen wat ek jou nou wil vra. Tog verkies ek om eerder by jou te pleit om na my versoek te luister omdat ons albei die Here liefhet. Ek, Paulus, doen dit as ’n ouer persoon wat jou respek waardig is, en ook as iemand wat boonop in die tronk is ter wille van Christus Jesus. My versoek gaan oor Onesimus, my kind in die geloof. Hier in die tronk het ek sy pa in die Here geword toe hy tot bekering gekom het. Vroeër kon jy nie veel met hom uitrig nie, maar nou het alles verander. Van nou af gaan hy sommer baie vir my en jou beteken. Daarom stuur ek hom na jou toe terug. Dit voel vir my of ’n deel van my hart uitgeruk is en saam met hom teruggaan. Ek sou Onesimus bitter graag hier by my wou hou. As hy hier gebly het, kon hy my in jou plek bygestaan het. Want, soos jy weet, gaan my sendingwerk voort selfs terwyl ek ter wille van die evangelie in die tronk is. Maar ek wou hom nie sonder jou toestemming hier hou nie. As ek Onesimus hier gehou het, sou jy verplig gewees het om dit so te aanvaar, maar dan sou ek nie reg opgetree het nie. Jy moet self daaroor besluit. Dit is eintlik goed dat jy Onesimus so ’n rukkie lank verloor het. Nou kry jy hom vir altyd terug. En gelukkig ook op ’n heeltemal ander manier as wat jy gedink het. Nie meer as ’n slaaf nie. Nee, hy is nou baie meer as dit. Jy kry Onesimus nou terug as jou broer in die Here; as iemand vir wie jy baie lief moet wees. Onesimus was ’n wonderlike broer vir my terwyl hy saam met my in die tronk was; hoeveel te meer sal hy dit nie vir jou wees nie. Jy kry nou ’n splinternuwe mens en ’n broer in die Here terug. Filemon, as jy my as jou vriend en medestryder in die evangelie beskou, moet jy Onesimus ook as jou vriend beskou. Ontvang hom presies net soos jy my sou ontvang. As hy vroeër iets daar by jou gevat het, of as hy jou nog enige geld skuld, moet jy dit maar op my rekening sit. Daarom skryf ek, Paulus, hier groot en duidelik: “EK SAL ALLES BETAAL.” Terloops, voordat jy rekenings begin uitskryf, ek hoef jou seker nie te herinner aan wat jy my nog alles skuld nie, of hoe? Jy is jou ganse nuwe lewe as gelowige aan my verskuldig. My liewe broer in die Here, bewys my tog hierdie groot guns. Neem Onesimus met oop arms terug. Ek vra dit nie ter wille van myself nie, maar ter wille van die saak van die Here. As jy dit doen, sal my hart oorloop van vreugde as jou broer in Christus. Filemon, ek vertrou jy sal doen wat ek jou vra; daarom dat ek hierdie brief aan jou skryf. Eintlik weet ek dat jy nog baie meer sal doen as wat ek van jou vra.
FILEMON 1:8-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In my verbondenheid aan Christus het ek volle vrymoedigheid om vir jou te sê wat jy moet doen. Tog wil ek, Paulus, ’n ou man, en nou ook nog ’n gevangene ter wille van Christus Jesus, eerder ’n beroep op jou liefde doen. Ek pleit by jou vir my kind Onesimus. Ek het hom hier in die tronk tot bekering gelei. Hy was voorheen vir jou niks werd nie, maar nou is hy vir jou en ook vir my baie bruikbaar. Ek stuur hom na jou toe terug. Hy is my hart se punt. Eintlik sou ek, terwyl ek in boeie is omdat ek die Goeie Nuus verkondig, hom graag hier by my wou hou sodat hy my namens jou kan help. Ek wou egter eers met jou daaroor praat sodat die goeie dinge wat jy doen, nie afgedwing word nie, maar vrywillig kan wees. Dalk móés Onesimus ’n rukkie van jou af weg wees sodat jy hom vir ewig kan terugkry, nie langer as ’n slaaf nie, nee, méér as ’n slaaf, as ’n geliefde broer! Dis wat hy veral vir my beteken; hoeveel te meer sal hy as mens én as Christen, dit nie vir jou beteken nie! Aangesien jy my dan as vennoot beskou, verwelkom hom soos jy my sou verwelkom. As hy jou enige skade aangedoen het, of jou iets skuld, sit dit op my rekening. EK, PAULUS, SKRYF HIER MET MY EIE HAND: “EK SAL BETAAL.” Ek hoef nie te noem dat jy my eintlik jou lewe skuld nie! Asseblief, broer, bewys aan my hierdie guns omdat ons aan die Here verbonde is. Verkwik my hart omdat jy ’n Christen is. Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet dat jy selfs méér as dit sal doen.