OBADJA 1:8-21

OBADJA 1:8-21 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het ook gesê: “Die mense in die land Edom, in die Esau-berge, dink hulle is baie slim, maar daardie dag sal Ek hulle doodmaak. Mense van die stad Teman, julle soldate sal te bang wees om te veg. Die vyande sal almal op die Esau-berge doodmaak. Julle het mense vermoor, julle was wreed met die nageslag van Jakob, julle voorvader se broer. Daarom sal dit met julle ook sleg gaan. Julle vyande sal julle doodmaak.” “Mense uit 'n ander land het oorlog kom maak teen Jerusalem. Hulle het al die stad se soldate weggevat en hulle het lootjies getrek oor die mense en die goed in die stad. Hulle wou kyk wat elkeen moet kry. Toe het julle gestaan en kyk. Julle was saam met die vyande. Die mense van Jerusalem was familie van julle. Julle het verkeerd gedoen toe julle gestaan en kyk het hoe sleg dit met hulle gaan. Julle was bly toe die vyande die mense van Juda doodgemaak het. Julle het gestaan en lag toe hulle so swaar gekry het. Julle het in my volk se stad ingegaan toe die vyande hulle oorwin het. Julle het gestaan en kyk toe die vyande hulle oorwin het en julle het hulle goed vir julleself gevat. Julle het langs die pad gestaan en wag om die mense van Juda dood te maak toe hulle gevlug het. Julle het die mense wat nog gelewe het, vir die vyande gegee, daardie dag toe dit so sleg met hulle gegaan het. Julle het verkeerd gedoen, julle moes nie dit alles gedoen het nie. Die dag wanneer die Here al die ander volke sal straf, is nou naby. Dan sal ander mense met julle doen wat julle met die mense van Juda gedoen het. Julle Edomiete sal voel hoe dit is wat julle gedoen het.” “Die mense van Juda moes die beker van swaarkry drink op my gewyde berg. So sal die ander volke dit ook moet aanhou drink. Hulle sal drink en drink en hulle sal verdwyn. Maar op Sionsberg sal dit weer goed gaan. Dit sal weer 'n gewyde plek wees. Die nageslag van Jakob sal hulle eie land terugvat, die land wat aan hulle behoort het. Die nageslag van Jakob sal wees soos 'n vuur, die nageslag van Josef sal wees soos vuurvlamme, en julle, die nageslag van Esau, sal wees soos kaf wat brand. Daar sal niks oorbly nie. Die mense van Juda sal die Suid-land, die Esau-berge, vir hulleself vat, en die Laeveld waar die Filistyne woon, en ook die land waar die Efraimiete gewoon het en waar die stad Samaria was. Die mense van die land Benjamin sal die land Gilead vir hulleself vat. Die vyande het party van die Israeliete gevang en na ander lande gevat. Israeliete sal nou die land vat waar die Kanaäniete woon, tot by die stad Sarfat. Die vyande het party mense van Jerusalem gevang en na die stad Sefarad gevat. Daardie mense sal nou die stede in die Suid-land vir hulleself vat. Die mense wat vir Sionsberg vrygemaak het, sal gaan om oor die Esau-berge te regeer, en die Here self sal die Koning wees.”

OBADJA 1:8-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Sal Ek nie in dié dag, spreek die HERE, die wyse manne uit Edom verdelg nie en die verstand uit die gebergte van Esau? En jou helde sal verskrik wees, o Teman, sodat elkeen deur moord uit die gebergte van Esau uitgeroei sal word. Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg, sal skande jou bedek, en jy sal uitgeroei word vir ewig. Die dag toe jy daarby gestaan het, die dag toe vreemdes sy rykdom weggevoer en uitlanders deur sy poorte gedring en die lot oor Jerusalem gewerp het — toe was jy ook soos een van hulle! En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie, die dag van sy onheil, en jou nie verheug het oor die kinders van Juda op die dag van hulle ondergang nie en nie gespog het op die dag van benoudheid nie! Tog moes jy nie in die poort van my volk gekom het op die dag van hulle nood nie, moes jy ook nie met genot aanskou het sy onheil op die dag van sy nood nie en nie die hand uitgesteek het na sy rykdom op die dag van sy nood nie! En jy moes nie gestaan het op die kruispad om sy vlugtelinge uit te roei nie en nie sy vrygeraaktes uitgelewer het op die dag van benoudheid nie. Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom. Want net soos julle gedrink het op my heilige berg, sal al die nasies gedurigdeur drink, ja, hulle sal drink en swelg en word asof hulle nooit bestaan het nie. Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal 'n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem. Dan sal die huis van Jakob 'n vuur wees en die huis van Josef 'n vlam, maar die huis van Esau 'n stoppel; en dié sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die HERE het dit gespreek. Dan sal dié van die Suidland die gebergte van Esau, en dié van die Laeveld die land van die Filistyne in besit neem; en hulle sal die veld van Efraim en die veld van Samaría, en Benjamin Gílead in besit neem. Die ballinge van hierdie leërmag van die kinders van Israel sal die wat Kanaäniete is, tot by Sarfat verower; en die ballinge van Jerusalem, wat in Sefárad is, sal die stede van die Suidland in besit neem. Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.

OBADJA 1:8-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit is wat daardie dag sal gebeur, sê die Here. Ek sal die wyse mense uitroei uit Edom, Ek sal die slim mense uitroei uit die bergland van Esau. Jou dapper vegters sal bang word, Teman, al die mense sal uitgeroei word uit die bergland van Esau. Oor die moorde op jou broervolk Jakob, oor die geweld teen hom, sal jy verslaan word, uitgeroei word vir altyd. Die dag toe vreemdes die bevolking van Jakob gevange weggevoer het, het jy afsydig daar gestaan. Toe uitlanders die poorte van Jerusalem binnegegaan en oor hom begin lootjies trek het, was jy aan hulle kant. Jy moes jou nie daarin verlekker het dat jou broer se dag gekom het nie, die dag toe die ongeluk hom getref het; jy moes nie so bly gewees het oor wat gebeur het met die mense van Juda die dag toe hulle omgekom het nie; jy moes nie so uit die hoogte gepraat het die dag toe die ellende hulle getref het nie; jy moes nie die poorte van my volk binnegegaan het die dag toe die ramp hom getref het nie; jy moes jou nie ook verlekker het in sy ongeluk die dag toe die ramp hom getref het nie; jy moes nie sy besittings geroof het die dag toe die ramp hom getref het nie; jy moes nie by die kruispaaie gaan staan het om sy vlugtelinge dood te maak nie; jy moes nie sy oorlewendes uitgelewer het die dag toe die ellende hom getref het nie. Die dag van die Here is naby, naby vir al die nasies. Wat jy gedoen het, Edom, sal aan jou gedoen word, jou dade sal op jou eie kop afkom. Soos julle, my volk Jakob, die oordeelsbeker moes drink op my heilige berg, so sal die ander nasies dit drink, maar sonder ophou, hulle sal drink en sluk, en hulle sal word asof hulle nooit bestaan het nie. Maar op Sionsberg sal daar uitkoms kom, dit sal weer 'n heilige plek wees. Die volk van Jakob sal weer in besit neem wat aan hom behoort. Die volk van Jakob sal die vuur wees, die volk van Josef die vlam, en die volk van Esau die strooi: Josef sal hom brand en hom verteer, en van die volk van Esau sal niemand oorbly nie. Die Here het dit gesê. Mense uit die Suidland sal die bergland van Esau in besit neem, mense uit die Laeveld die gebied van die Filistyne. Jakob sal die Efraimsvelde in besit neem, en die veld van Samaria, Benjamin en Gilead. Dieselfde Israeliete wat in ballingskap weggevoer is, sal Kanaän in besit neem tot by Sarfat; die mense van Jerusalem wat nou ballinge in Sefarad is, sal die stede in die Suidland in besit neem. Die bevrydes op Sionsberg sal optrek om oor die bergland van Esau te regeer, en die heerskappy sal aan die Here behoort.

OBADJA 1:8-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Sal Ek nie op daardie dag,” is die uitspraak van die HERE, “wyse manne uit Edom laat verdwyn en raadgewers uit die bergland van Esau nie?” Teman, jou krygshelde sal verskrik wees, sodat mense uitgeroei sal word op die bergland van Esau. “Vanweë moord, vanweë geweld teen jou broer Jakob, sal skaamte jou oorval en jy sal uitgeroei word vir altyd. Die dag toe jy eenkant gaan staan het, die dag toe vreemdes die besittings van Jakob weggevoer het, toe buitelanders sy poorte binnegedring en geloot het oor Jerusalem, was ook jy soos een van hulle! Jy moes nie gestaan en toekyk het op die dag van jou broer, op die dag toe 'n ramp hom getref het nie. Jy moes nie bly gewees het oor die Judeërs op die dag van hulle ondergang nie. Jy moes nie 'n groot mond gehad het op die dag van angs nie. Jy moes nie in die poort van my volk gekom het op die dag van hulle teenspoed nie. Jy moes nie ook sy onheil staan en dophou het op die dag van sy teenspoed nie. Jy moes nie jou hande uitgesteek het na sy besittings op die dag van sy teenspoed nie. Jy moes nie op die ontsnaproetes gaan staan het om sy vlugtelinge uit te roei nie. Jy moes nie sy mense wat wou ontvlug uitgelewer het op die dag van angs nie. Voorwaar, die dag van die HERE oor al die nasies is naby! Soos wat jy gedoen het, sal aan jou gedoen word. Jou daad sal terugkeer op jou kop. ” HERE “ Ja, soos wat julle die beker moes drink op my heilige berg, sal al die nasies voortdurend moet drink. Hulle sal drink en onsamehangend praat en hulle sal wees asof hulle nooit bestaan het nie. Maar op die berg Sion sal daar ontvlugting wees, en Sion sal heilig wees. “Die huis van Jakob sal dié wat hulle verdryf het, uitdryf. Die huis van Jakob sal vuur wees en die huis van Josef 'n vlam, maar die huis van Esau sal strooi wees. Die vuur sal die strooi brand en dit verteer. Daar sal van die huis van Esau nie een ontvlug nie.” Want die HERE het dit gesê. Hulle sal die Negev saam met die bergland van Esau in besit neem, die Sjefela saam met Filistea. Hulle sal die gebied van Efraim en die gebied van Samaria in besit neem en Benjamin saam met Gilead. Die ballinge van hierdie leër, die Israeliete, sal Kanaänitiese gebied in besit neem tot by Sarfat, en die ballinge van Jerusalem wat in Sefarad is, sal die stede van die Negev in besit neem. Verlossers sal dan na die berg Sion opgaan om oor die bergland van Esau te regeer; en die koningskap sal aan die HERE behoort.

OBADJA 1:8-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Sal Ek nie in dié dag, spreek die HERE, die wyse manne uit Edom en die verstand uit die berg Esau uitroei nie? En jou helde, o Teman, sal verskrik wees, sodat elkeen van die gebergte van Esau deur slagting uitgeroei kan word. Want jou geweld teen jou broer Jakob sal jou oordek, en jy sal vir ewig uitgeroei word. Die dag toe jy oorkant gestaan het, op die dag toe die vreemdelinge sy leërs weggevoer het en vreemdelinge in sy poorte ingegaan en die lot oor Jerusalem gewerp het, was jy ook soos een van hulle. Maar jy moes die dag van jou broer nie gekyk het op die dag dat hy 'n vreemdeling geword het nie; en jy moes jou nie oor die kinders van Juda verheug het op die dag van hulle vernietiging nie; en jy moes nie hoogmoedig gespreek het op die dag van benoudheid nie. Jy moes nie in die poort van my volk ingegaan het op die dag van hulle onheil nie; ja, jy moes nie na hulle ellende gekyk het op die dag van hulle onheil nie, en ook nie die hande op hulle besittings opgelê het op die dag van hulle onheil nie; Jy moes ook nie op die kruispad gestaan het om dié van hom wat ontsnap het, uit te roei nie; en die van hom wat op die dag van benoudheid oorgebly het, moes jy nie oorgee nie. Want naby is die dag van die HERE oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal dit met jou gedoen word; jou loon sal op jou eie hoof terugkeer. Want soos julle op my heilige berg gedrink het, so sal al die nasies voortdurend drink, ja, hulle sal drink, en hulle sal verslind, en hulle sal wees asof hulle nie was nie. Maar op die berg Sion sal verlossing wees, en daar sal heiligheid wees; en die huis van Jakob sal hulle besittings in besit neem. En die huis van Jakob sal 'n vuur wees en die huis van Josef 'n vlam en die huis van Esau 'n stoppel, en hulle sal daarin aansteek en dit verteer; en daar sal niks oorbly van die huis van Esau nie; want die HERE het dit gespreek. En hulle van die Suide sal die berg Esau in besit neem; en hulle van die Vlakte, die Filistyne, en hulle sal die veld van Efraim en die veld van Samaría in besit neem; en Benjamin sal Gílead in besit neem. En die lot van hierdie leër van die kinders van Israel sal dié van die Kanaäniete in besit neem, tot by Sarfat; en die ballinge van Jerusalem wat in Sefarad is, sal die stede van die suide in besit neem. En verlossers sal op die berg Sion opklim om die berg Esau te oordeel; en die koninkryk sal aan die HERE behoort.

OBADJA 1:8-21 Die Boodskap (DB)

Op daardie dag, sê die Here, sal Ek Edom se slim mense by hom wegvat. Ek sal dié wat kennis het uit Edom se berge laat verdwyn. Die dapper soldate van Teman se broek sal bewe. Elke man daar bo in Edom se berge sal doodgemaak word. Jy het die nageslag van jou pa se broer baie hard behandel. Jy behoort jou daaroor te skaam. Omdat jy jou oom Jakob se nageslag vermoor het, sal jy self uitgemoor word. Die dag toe daar mense van ’n ander plek gekom en Jerusalem verwoes het, het jy met gevoude arms gestaan en kyk sonder om ’n vinger te verroer. Toe vreemdelinge deur die hekke van Jerusalem marsjeer en lootjies getrek het oor die goed wat hulle uit die stad gevat het, was jy aan hulle kant. Jy moes nie staan en lekkerkry het die dag toe die teëspoed jou broersvolk getref het nie. Dit was nie nodig dat jy gewys het hoe bly jy is die dag toe hulle die mense van Juda doodgemaak het nie. Dit was nie reg dat jy alles oor hulle te sê gehad het die dag toe hulle benoud geraak het nie. Dit was nie reg dat jy ook in Jerusalem moes ingaan op die dag toe die ramp hom getref het nie. Jy moes nie so ingenome toegekyk het toe die ongeluk hom tref nie. Jy moes nie ook sy goed gaan staan en steel het toe die onheil oor hom gekom het nie. Jy moes nie by die plek gaan staan het waar die paaie kruis om dié dood te maak wat uit die stad uit weggekom het nie. Dit was verkeerd van jou om dié wat die aanval oorleef het aan die vyand uit te lewer. Die dag waarop die Here met al die nasies sal afreken, is baie naby. Presies net soos jy met ander gemaak het, Edom, sal daar met jou gemaak word. Jy sal presies net so behandel word. Soos julle by my tempel drank gedrink het, sal al die nasies my oordeel moet drink. Hulle sal alles moet opdrink tot daar niks meer van hulle oorbly nie. My tempel op die berg Sion sal ’n plek word waarheen die mense vlug. Dit sal die plek wees wat vir My eenkant gesit is. Die nageslag van Jakob sal daar kom kry wat aan hulle behoort. Die Here sê: Jakob se nageslag sal soos vuur wees en die huis van Josef soos ’n vlam wat brand. Esau se nageslag sal soos ’n stuk droë gras wees. Hulle sal hom verteer en hom wegbrand totdat daar van Edom nie ’n stukkie oor is nie. Die Here het so gesê. Dié wat in Negev in die suide bly, sal die berge van Edom vir hulle vat. Dié wat in die kusvlakte teen die see bly, sal die land van die Filistyne oorneem. Ander sal die lande Efraim en Samaria vir hulle vat. Benjamin sal Gilead inpalm. Die Israeliete wat uit hulle land weggevat is, sal terugkom en alles tot bo by Sarfat van Kanaän terugvat. Dié wat in Jerusalem gebly het en van daar af weggevat is na Sarefat, sal weer in die dorpe van Juda kom bly. Dié wat Jerusalem bevry het, sal by die tempel op Sion bymekaarkom om oor Edom te besluit. En die Here sal oor hulle regeer.

OBADJA 1:8-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE sê: “Die dag as dit gebeur, sal daar nie meer ’n enkele verstandige mens in die hele Edom oor wees nie! Ek sal al die slim en verstandige mense uitwis in die berggebiede van Edom. Jou dapper soldate uit Teman sal vreesbevange wees en al die mense bo in die berge van Edom sal doodgemaak word.” “Hoekom sal dit gebeur? Omdat jy gewelddadig was teenoor Israel wat eintlik jou bloedverwante is. Die vernedering daaroor sal jy vir altyd moet dra. Jy sal heeltemal uitgewis word. Toe Israel ’n tyd beleef het toe hulp regtig nodig was, het jy jou bloedverwante in die steek gelaat. Jy het afsydig gestaan en toekyk toe vreemde invallers Jerusalem binnegeval het. Jy het nie ’n vinger gelig om te help toe hulle rykdom weggedra en lootjies getrek het om die stad te verdeel nie. Jy het soos een van Israel se vyande opgetree. Jy het verkeerd opgetree! Jy moes jou nie verlekker het toe hulle jou bloedverwante in ballingskap weggevoer het na verafgeleë lande nie. Jy moes nie so bly gewees het oor die ongeluk wat hulle getref het nie. Dit was nie vir jou nodig om met minagting op hulle neer te sien oor hulle ellende nie. Jy moes nie die poorte van my volk ingeval het terwyl so ’n groot ramp hulle getref het nie. Jy moes nie met genoegdoening toegekyk het terwyl hulle ondergegaan het nie. Jy moes nie hulle goed gesteel het toe so ’n ramp hulle getref het nie. Jy moes nie by die kruisings gaan staan het om die vlugtelinge dood te maak nie. Jy moes ook nie in hierdie rampspoedige tyd die oorlewendes van die aanval aan hulle vyande uitgelewer het nie.” “Die dag is naby dat Ek, die HERE, met die goddelose nasies sal afreken! Edom, soos jy met ander gemaak het, so sal met jou gedoen word. Jy sal terugbetaal word vir alles wat jy aan ander gedoen het. My volk moes op my heilige berg die beker van straf drink. Net so sal jy en die nasies in die omgewing die straf moet drink wat Ek op julle gaan uitstort. Die nasies sal drink en rondslinger, totaal uit die geskiedenis verdwyn. Dit sal wees asof julle nooit bestaan het nie. “Jerusalem sal ’n toevlugsoord wees. Dit sal ’n heilige plek wees. Die mense van Israel sal weer terugkom om hulle erfdeel op te eis. “Ek, die HERE, sê: Israel sal wees soos vuur en Josef se nageslag soos ’n vlam wat brand. Edom sal wees soos ’n veld vol droë gras. Die vuur sal versprei soos ’n veldbrand en alles verteer. Niemand van die mense van Edom sal oorleef nie. Die mense wat in die Suidland bly, sal die berglande van Edom beset. Dié wat kom van die heuwels van Juda sal die Filistyne se kusvlakte kry. Nog ander sal die velde van Efraim oorneem en ook dié van Samaria. Die mense van Benjamin sal die Gileadgebied inpalm. Die mense van Israel sal uit ballingskap na hulle land toe terugkom. Hulle sal Kanaän tot so ver noord soos Sarfat in besit neem. Mense wat uit Jerusalem weggevat is en nou ballinge is in Sefarad, sal na hulle land toe terugkom en weer kom woon in die dorpe van die Suidland. Die bevryders van Jerusalem sal na die Sionsberg toe gaan en oor die bergland Edom regeer. Die HERE sal Koning wees!”