NUMERI 6:1-5
NUMERI 6:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet met die Israeliete praat en jy moet vir hulle sê: Wanneer 'n man of 'n vrou 'n gelofte maak om 'n nasireër te wees en om homself aan die Here te wy, dan mag hy nie wyn of sterk drank drink nie. Hy mag nie wyn of asyn of sterk drank drink nie. Hy mag ook nie druiwesap drink nie en hy mag nie druiwe eet nie, nie vars druiwe of rosyne nie. In die tyd terwyl hy 'n nasireër is, mag hy niks eet wat van 'n wingerdstok kom nie, ook nie die pitte of die skille nie. Terwyl hy 'n nasireër is soos hy belowe het, mag hy nie sy hare skeer nie. Hy moet gewyd bly. Hy het homself 'n tyd lank aan die Here gewy, en hy moet gewyd bly totdat daardie tyd verby is. Sy hare moet lank word.
NUMERI 6:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As 'n man of 'n vrou 'n besondere gelofte aflê, die gelofte van 'n nasireër, om hom aan die HERE te wy, moet hy hom van wyn en sterk drank onthou; wyn-asyn en asyn van sterk drank mag hy nie drink nie, ja, geen druiwesap mag hy drink nie en geen vars of gedroogde druiwe eet nie. Al die dae van sy nasireërskap mag hy niks eet van alles wat van die wynstok gemaak is nie, selfs nie van die pitte en doppe nie. Al die dae van die gelofte van sy nasireërskap mag geen skeermes oor sy hoof gaan nie. Totdat die dae om is dat hy hom aan die HERE toewy, moet hy heilig wees — hy moet die hare van sy hoof vry laat groei.
NUMERI 6:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het aan Moses opdrag gegee om met die Israeliete te praat en vir hulle te sê: “Wanneer iemand, 'n man of 'n vrou, 'n besondere nasireërgelofte aflê om hom aan die Here te wy, moet hy hom weerhou van wyn en bier. Hy mag geen druiwe-asyn of ander asyn drink nie, geen druiwesap nie en ook nie druiwe of rosyntjies eet nie. Die hele tydperk van sy wyding mag hy hoegenaamd niks eet wat die wingerdstok voortbring nie, selfs nie druiwepitte of -doppe nie. “Vir die volle duur van sy nasireërgelofte mag hy nie sy hare of sy baard skeer nie. Hy is iemand wat vir die Here afgesonder is, en hy moet sy hare vrylik laat groei totdat die tyd van sy wyding aan die Here verby is.
NUMERI 6:1-5 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir Moses gesê om die volgende opdrag aan die volk oor te dra: “Wanneer iemand, ’n man of ’n vrou, die nasireërsbelofte aan die Here maak waarin hulle hulle verbind om Hom voltyds te dien vir ’n sekere tyd, moet so ’n persoon dadelik ophou om wyn of bier te drink. Hulle mag ook nie asyn gebruik wat van wyn gemaak is of enige ander gegiste drank of selfs vars druiwesap nie. Hulle mag ook nie druiwe of rosyntjies eet nie. Vir so lank as wat die persoon aan die Here se diens afgesonder is, mag hy of sy niks eet wat van ’n wingerd af kom nie, nie eers die pitte of die doppe van die druiwe nie. “Nasireërs mag ook nooit hulle hare afsny nie. Die mans mag ook nie hulle baard afskeer vir die tydperk dat hulle voltyds in die Here se diens staan nie. Hulle moet hulle hare laat groei totdat hierdie tydperk van afsondering verby is.
NUMERI 6:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE sê toe vir Moses: “Sê vir die Israeliete: As enige persoon, man of vrou, ’n gelofte aflê om ’n nasireër vir die HERE te wees, mag die persoon nie sterk drank, of asyn wat van wyn gemaak is, of gefermenteerde druiwesap, of vars druiwe of rosyntjies eet nie. Solank hulle nasireërs is, mag hulle niks gebruik wat van druiwe af kom nie, selfs nie eens die pitte of druiwedoppe nie. “Solank hulle nasireërs is, mag hulle hare nie gesny word nie. Hulle is afgesonder vir die HERE. Hulle moet hulle hare laat groei.