NEHEMIA 3:1-31 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
NEHEMIA 3:1-31 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die hoëpriester Eljasib en sy ampsgenote die priesters het begin en die Skaappoort gebou. Hulle het die poort gewy en sy deure ingesit. Daarna het hulle gebou tot by die Toring-van-die-Honderd, dit gewy en toe verder gebou tot by die Gananeltoring. Die manne van Jerigo het die volgende stuk gebou en Sakkur seun van Imri die volgende. Die Senaäfamilie het die Vispoort gebou. Hulle het die houtwerk klaar gemaak en die deure, die skarniere en die sluitbalke ingesit. Meremot seun van Urija, seun van Kos, het die volgende stuk herstel, Mesullam seun van Berekja, seun van Mesesabel, die volgende, en Sadok seun van Baäna die volgende. Die volgende stuk is herstel deur die mense van Tekoa, maar hulle vooraanstaande mense was nie gewillig om swaar werk te doen vir hulle Here nie. Jojada seun van Paseag, en Mesullam seun van Besodja het die Ou Poort herstel. Hulle het die houtwerk klaar gemaak en die deure, die skarniere en die sluitbalke ingesit. Die volgende stuk is herstel deur Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot, en deur die manne van Gibeon en Mispa wat in diens was van die goewerneur van Wes-Eufraat. Ussiël seun van Garhaja, en die smede het die volgende stuk herstel, en Gananja, een van die salfmengers, die volgende. Hulle het buite om Jerusalem gebou tot by die Breë Muur. Refaja, seun van Gur en gesagvoerder oor 'n halwe stadswyk van Jerusalem, het die volgende stuk herstel, en Jedaja seun van Garumaf die volgende, tot regoor sy huis. Die volgende stuk is herstel deur Gattus seun van Gasabneja. 'n Volgende deel, tot by die Bakoondtoring, is herstel deur Malkija seun van Garim, en Gassub seun van Pagat-Moab. Sallum, seun van Loges en gesagvoerder oor 'n halwe stadswyk van Jerusalem, het die volgende stuk gebou, hy en sy dogters. Die Dalpoort is herstel deur Ganun en die inwoners van Sanoag. Hulle het die poort herbou, sy deure, skarniere en sluitbalke ingesit, en die stuk muur van vier honderd en vyftig meter tot by die Vullispoort gebou. Die Vullispoort self is herstel deur Malkija, seun van Rekab en gesagvoerder oor die stadswyk Bet-Kerem. Hy het die poort herbou en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Die Fonteinpoort is herstel deur Sallun, seun van Kol-Gose en gesagvoerder van die stadswyk Mispa. Hy het die poort herbou, die dak opgesit en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit, en verder ook die muur van die Kanaaldam herbou, van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom. Nehemia, seun van Asbuk en gesagvoerder oor die halwe stadswyk Bet-Sur, het die volgende stuk herstel, tot regoor die Dawidsgrafte en tot by die gemesselde dam en die kwartiere van die lyfwag. Die volgende stuk is herstel deur die Leviete, die eerste deur Regum seun van Bani, en die ander deel deur Gasabja, die gesagvoerder oor die halwe stadswyk Keïla, namens sy wyk. Die volgende stuk is herstel deur hulle ampsgenote, die eerste deur Binnuï, seun van Genadad en gesagvoerder oor die ander helfte van die stadswyk Keïla, en die ander deel deur Eser, seun van Jesua en gesagvoerder oor Mispa. Dit was die deel van regoor die ingang van die wapenkamer af tot by die draai in die muur. Die volgende deel is herstel deur Baruk seun van Sabbai, van die draai af tot by die ingang na die hoëpriester Eljasib se huis. Die volgende stuk, van die ingang na Eljasib se huis af tot aan die anderkant van die huis, is herstel deur Meremot seun van Urija, seun van Kos. 'n Volgende stuk is deur die priesters herstel, die eerste deur die manne van die omliggende gebied, die tweede deel deur Benjamin en Gassub, regoor hulle huise, die derde deel deur Asarja seun van Maäseja, seun van Ananeja, reg voor sy huis. Die volgende stuk, die deel van Asarja se huis af tot by die draai en verder tot in die hoek, is herstel deur Binnuï seun van Genadad. Palal seun van Usai het die stuk herstel van regoor die draai af, en ook die toring teen die boonste paleis by die Wagplein. Die volgende stuk is herstel deur Pedaja seun van Paros, en die tempelslawe wat op die Ofel gewoon het. Dit was die gedeelte tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die aangeboude toring. Die volgende deel, die stuk van regoor die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur, is herstel deur die mense van Tekoa. Die stuk van bokant die Perdepoort af is deur die priesters herstel, elkeen die gedeelte regoor sy huis. Sadok seun van Immer het die volgende stuk, dié regoor sy huis, herstel, en Semaja, seun van Sekanja en opsigter van die Oospoort, die volgende stuk. Die volgende deel is herstel deur Gananja seun van Selemja, en Ganun die sesde seun van Salaf, en die volgende deur Mesullam seun van Berekja tot regoor sy kamer. Malkija, een van die smede, het die volgende stuk herstel, tot by die kwartiere van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiepoort en verder tot by die kamer bo-op die hoek.
NEHEMIA 3:1-31 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN Éljasib, die hoëpriester, het hom klaargemaak met sy broers, die priesters, en hulle het die Skaapspoort gebou; hulle het dit geheilig en sy deure ingesit; verder tot by die toring Hamméa wat hulle geheilig het, tot by die toring Hanáneël. En naas hom het die manne van Jérigo gebou; en daarnaas het Sakkur, die seun van Imri, gebou. En die Vispoort het die seuns van Sénaä gebou; hulle het dit met balke uitgelê en sy deure, sy sluitbalke en sy grendels ingesit. En naas hulle het Méremot, die seun van Uría, die seun van Hakkos, herstel; en naas hulle het Mesúllam, die seun van Berégja, die seun van Mesesábeël, herstel; en naas hulle het Sadok, die seun van Báäna, herstel. En naas hulle het die Tekoïete herstel; maar hulle vername manne het hulle nek nie gebuig onder die diens van hulle HERE nie. En die Ou Poort het Jójada, die seun van Paséag, en Mesúllam, die seun van Besódja, herstel; hulle het dit met balke uitgelê en sy deure en sy sluitbalke en sy grendels ingesit. En naas hulle het Melátja, die Gibeoniet, en Jadon, die Meronotiet, die manne van Gíbeon en Mispa, herstel by die setel van die goewerneur van die gebied wes van die Eufraat. Naas hom het Ússiël, die seun van Harhája, van die goudsmede, herstel; en naas hom het Hanánja, 'n lid van die salfmengers, herstel; en hulle het Jerusalem onaangeroerd gelaat tot by die breë muur. En naas hulle het Refája, die seun van Hur, owerste van die halwe distrik Jerusalem, herstel. En naas hulle het Jedája, die seun van Harúmaf, herstel — teenoor sy huis; en naas hom het Hattus, die seun van Hasábneja, herstel. 'n Tweede stuk het Malkía, die seun van Harim, en Hassub, die seun van Pahat-Moab, herstel, ook die Bakoondtoring. En naas hom het Sallum, die seun van Hallóhes, owerste van die halwe distrik Jerusalem, herstel, hy met sy dogters. Die Dalpoort het Hanun en die inwoners van Sanóag herstel; hulle het dit opgebou en sy deure, sy sluitbalke en sy grendels ingesit, ook duisend el aan die muur tot by die Aspoort. En die Aspoort het Malkía, die seun van Regab, owerste van die distrik Bet-Hakkerém, herstel; hy het dit opgebou en sy deure, sy sluitbalke en sy grendels ingesit. En die Fonteinpoort het Sallum, die seun van Kol-Hosé, owerste van die distrik Mispa, herstel; hy het dit opgebou en dit oordek, en hy het sy deure, sy sluitbalke en sy grendels ingesit, ook die muur van die dam van die waterleiding by die koning se tuin, en tot by die trappe wat van die Dawidstad afloop. Ná hom het Nehemía, die seun van Asbuk, owerste van die halwe distrik Bet-Sur, tot teenoor die Dawidsgrafte herstel en tot by die kunstig aangelegde dam en tot by die huis van die helde. Ná hom het die Leviete — Rehum, die seun van Bani, herstel; naas hom het Hasábja, die owerste van die halwe distrik Kehíla, vir sy distrik herstel. Ná hom het hulle broers, Bágwai, die seun van Hénadad, die owerste van die ander halwe distrik Kehíla, herstel. En naas hom het Eser, die seun van Jésua, die owerste van Mispa, 'n tweede stuk herstel teenoor die opgang na die wapenhuis, die Winkelhaak. Ná hom het Barug, die seun van Sábbai, 'n tweede stuk ywerig herstel; van die Winkelhaak af tot by die huisdeur van die hoëpriester Éljasib. Ná hom het Méremot, die seun van Uría, die seun van Hakkos, 'n tweede stuk herstel, van die huisdeur van Éljasib af tot by die end van Éljasib se huis. En ná hom het die priesters, die manne van die Jordaanstreek, herstel. Ná hom het Benjamin en Hassub teenoor hulle huis herstel; ná hom het Asárja, die seun van Maäséja, die seun van Anánja, langs sy huis herstel. Ná hom het Bínnuï, die seun van Hénadad, 'n tweede stuk herstel; van die huis van Asárja af tot by die Winkelhaak en tot by die Hoek. Palal, die seun van Úsai, teenoor die Winkelhaak en die boonste toring wat uit die huis van die koning uitsteek, by die voorhof van bewaking; ná hom Pedája, die seun van Parhos. En die tempelbediendes het gewoon op die Heuwel tot teenoor die Waterpoort, teen die ooste, en die toring wat uitsteek. Ná hom het die Tekoïete 'n tweede stuk herstel, van teenoor die groot toring af wat uitsteek, tot by die Heuwel-muur. Bokant die Perdepoort het die priesters herstel, elkeen teenoor sy huis. Daarnaas het Sadok, die seun van Immer, teenoor sy huis herstel; en ná hom het Semája, die seun van Segánja, die bewaker van die Oospoort, herstel. Ná hom het Hanánja, die seun van Selémja, en Hanun, die sesde seun van Salaf, 'n tweede stuk herstel; daarnaas het Mesúllam, die seun van Berégja, teenoor sy kamer herstel. Ná hom het Malkía, lid van die goudsmede, herstel tot by die huis van die tempelbediendes en die koopmans, teenoor die Wagpoort en tot by die bo-kamer op die Hoek.
NEHEMIA 3:1-31 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die hoëpriester Eljasib en van die ander priesters het by die Skaappoort met die bouwerk begin. Nadat hulle die deure gehang het, het hulle dit aan die HERE toegewy. Hulle het ook die gedeeltes van die muur tot by die Toring van die Honderd en die Gananeltoring toegewy. Mense uit Jerigo het die volgende deel gebou en langs húlle het Sakkur seun van Imri gebou. Die Senaäfamilie het die Vispoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Meremot, seun van Urija en kleinseun van Kos, het die volgende deel van die muur herstel. Langs hom het Mesullam, seun van Berekja en kleinseun van Mesesabel, gewerk, en langs hóm Sadok seun van Baäna. Langs hulle het die mense van Tekoa gewerk, maar hulle leiers het geweier om vir hulle Here te werk. Jojada seun van Paseag en Mesullam seun van Besodja het op hulle beurt weer die Ou Stadspoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Langs hulle het Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot herstelwerk gedoen. So ook die mense van Gibeon en Mispa waar die hoofkwartier van die goewerneur van die provinsie wes van die Eufraatrivier gesetel was. Ussiël seun van Garhaja, ’n goudsmid, het aan die volgende deel van die muur gewerk, gevolg deur Gananja, ’n parfuumvervaardiger. Hulle het ’n deel van die muur om Jerusalem gebou tot so ver as die gedeelte bekend as die Breë Muur. Die volgende deel van die muur is deur Refaja seun van Gur herstel. Hy was die hoof van die helfte van die Jerusalemdistrik. Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte van die muur wat reg langs sy huis was, reggemaak. Langs hom het Gattus seun van Gasabneja gewerk. Op hulle beurt het Malkija seun van Garim en ook Gassub seun van Pagat-Moab langs hulle gewerk. Hulle het die Bakoondtoring asook ’n verdere gedeelte van die muur herstel. Sallum seun van Loges het saam met sy dogters die volgende gedeelte van die muur herstel. Sallum was die hoof van die ander helfte van die Jerusalemdistrik. Ganun en die inwoners van Sanoag het die Dalpoort herstel. Hulle het dit herbou, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Hulle het ook die 450 meter lange muur tot by die Mispoort herstel. Milkija seun van Rekab het die Mispoort herstel. Hy was die hoof van die Bet-Keremdistrik. Nadat hy die poort herstel het, het hy die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Sallum seun van Kol-Gose was die hoof van die Mispadistrik. Hy het aan die Fonteinpoort gewerk. Hy het dit herbou, die dak opgesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Daarna het hy die muur van die Siloampoel naby die koning se tuin herstel. Hy het die muur herbou tot by die trappe wat van die stad van Dawid af kom. Langs hom het Nehemia seun van Asbuk gewerk. Hy was die hoof van die helfte van die Bet-Surdistrik. Hy het aan die muur gewerk tot oorkant die koningsbegraafplaas en tot by die opgaardam en die soldate-kwartiere. ’n Groep Leviete onder die toesig van Regum seun van Bani was die volgende werkgroep. Langs hulle het Gasabja, die hoof van die helfte van die Keiladistrik, gewerk. Hy het namens sy distrik oor die herstel van die muur toesig gehou. Hulle familie was die volgende groep wat gewerk het. Hulle het onder leiding van Binnuï seun van Genadad, hoof van die res van die Keiladistrik, gewerk. Hulle is gevolg deur Eser seun van Jesua wat die hoof van die Mispagebied was. Hy het aan ’n gedeelte van die muur wat ’n hoek vorm, gewerk. Dit was reg oorkant die wapenkamer. Barug seun van Sabbai het aan die aangrensende deel van die muur gewerk. Die deel van die muur het vanaf die versterkte hoekgedeelte tot by die deur van die huis van die hoëpriester Eljasib gestrek. Meremot seun van Urija, kleinseun van Kos, het verder aan die muur gewerk wat gestrek het vanaf die deur van die huis van Eljasib tot aan die einde van die huis. ’n Volgende stuk van die muur is deur die priesters van die omgewing herstel. Langs hulle het Benjamin, Gassub en Asarja seun van Maäseja, kleinseun van Ananeja gewerk. Hulle het die gedeeltes van die muur reg voor hulle huise herstel. Die volgende stuk, die deel van Asarja se huis tot by die versterkte hoekgedeelte, het Binnuï seun van Genadad reggemaak. Palal seun van Usai het die gedeelte van regoor die hoekgedeelte herstel tot by die toring teen die boonste paleis by die Wagplein. Aan die gedeelte van die muur langs hom het Pedaja seun van Paros gewerk, asook die tempelslawe wat op die Ofelheuwel gewoon het. Hulle het die gedeelte van die muur tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die aangeboude toring herstel. Die mense van Tekoa het aan die volgende deel gewerk. Hulle het die stuk van die muur van regoor die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herstel. Die priesters het die volgende gedeelte van die muur bokant die Perdepoort herstel. Elkeen het aan die gedeelte regoor sy huis gewerk. Sadok seun van Immer het die volgende deel wat reg oorkant sy huis was, herstel. Semaja seun van Sekanja en opsigter van die Oospoort het die stuk van die muur wat gevolg het, reggemaak. Langs hulle het Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, aan die muur gewerk. Hulle is gevolg deur Mesullam seun van Berekja wat die deel regoor sy kamer herstel het. Malkija, een van die goudsmede, het die volgende stuk van die muur herstel. Hy het gewerk tot by die kwartiere van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiepoort en verder tot by die kamer bo-op die hoek.
NEHEMIA 3:1-31 DB (Die Boodskap)
Die hoëpriester Eljasib en die ander priesters het die bouwerk begin. Hulle het by die Skaaphek begin. Toe hulle die deure klaar gehang het, het hulle dit aan die Here opgedra. Daarna het hulle die gedeeltes tot by die Toring van die Honderd en die Gananeltoring voltooi en dit ook aan die Here opgedra. Die mense van Jerigo het die volgende gedeelte gebou en Imri se seun Sakkur die volgende. Die Senaäfamilie het die Vispoort herbou. Hulle het ook al die balke, deure, skarniere en sluitbalke van die muur ingesit. Meremot die seun van Urija en kleinseun van Kos het die volgende gedeelte herstel. Mesullam die seun van Berekja en die kleinseun van Mesesabel, die volgende, en Sadok Baäna se seun, die volgende. Die mense van Tekoa het die volgende gedeelte opgebou, maar die vooraanstaande mense onder hulle was nie bereid om sulke handewerk vir die Here te doen nie. Jojada seun van Paseag en Mesullam seun van Besodja het die Jesjanahek herstel. Hulle het ook die balke, deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Die volgende gedeelte is deur Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot, en deur die mans van Gibeon en Mispa herstel tot by die hoofkwartier van die goewerneur van die Wes-Eufraatprovinsie. Ussiël seun van Garhaja, wat ’n goudsmid is, het die volgende gedeelte herstel, en Gananja, ’n salfmenger, die volgende deel. Hulle het die gedeelte tot by die Breë Muur herbou. Refaja seun van Gur en raadslid oor ’n groot gebied van Jerusalem het die gedeelte langs hulle herstel. Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte langs sy eie huis herstel. En Gattus seun van Gasabneja die volgende gedeelte. Malkija seun van Garim en Gassub die seun van Pagat-Moab het saam die deel tot by die Bakoondtoring herbou. ’n Ander raadslid oor ’n groot gedeelte van Jerusalem, Sallum die seun van Loges, en sy dogters het die volgende gedeelte herstel. Die Valleihek is deur Ganun en die mense van Sanoag herstel. Hulle het die balke, deure, skarniere en sluitbalke ingesit en die gedeelte van 450 meter tot by die Vullishek gebou. Malkija seun van Rekab en hoof oor die gebied Bet-Kerem het die Vullishek reggemaak. Hy het die hek herbou en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Sallun die seun van Kol-Gose en hoof oor die gebied Mispa het die Fonteinhek reggemaak. Hy het die hek herbou, die dak opgesit en ook al die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Hy het ook die muur langs die Siloamdam herbou wat strek van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom. Nehemia seun van Asbuk en hoof oor die gebied Bet-Sur, het van daar af die muur tot regoor die Dawidsgrafte herstel, tot so ver as die stad se wateropgaardam en die soldate se woonkwartiere. Die volgende deel van die stadsmuur is deur die Leviete opgebou. Regum die seun van Bani het ’n gedeelte reggemaak, en Gasabja, hoof oor ’n gedeelte van Keïla, ’n ander gedeelte namens al sy mense. Die volgende gedeelte is deur Binnuï seun van Genadad en hoof oor die res van Keïla, herstel.Langs hom het Eser die seun van Jesua en die hoof oor die gebied Mispa gewerk. Dit was die deel wat regoor die ingang van die wapenkamer begin het en gestrek het tot by die draai in die muur. Baruk die seun van Sabbai het die gedeelte van die draai af tot by die ingang na die hoëpriester Eljasib se huis herstel. Meremot die seun van Urija en kleinseun van Kos het die gedeelte vanaf die ingang na Eljasib se huis tot aan die ander kant van die huis opgebou. Die priesters van die omliggende gebiede het ook gedeeltes van die muur herstel. Benjamin en Gassub het die deel regoor hulle huise reggemaak, en Asarja die seun van Maäseja en kleinseun van Ananeja, die deel reg voor sy huis. Die volgende gedeelte, van Asarja se huis af tot by die draai in die muur en verder tot in die hoek, is deur Binnuï seun van Genadad opgebou. Palal die seun van Usai het die deel van regoor die draai af herstel tot by die toring van die boonste paleis by die Wagplein. Die volgende gedeelte is deur Pedaja seun van Paros en die tempelslawe wat op die Ofel gewoon het, herbou. Hulle het aan die deel van die muur gewerk tot regoor die Waterhek en die aangeboude toring aan die oostekant. Die mense van Tekoa het die muur van die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herbou; dit was al die tweede gedeelte waarmee hulle besig was. Van bokant die Perdehek af het die priesters elkeen die gedeelte regoor sy huis herstel. Sadok seun van Immer het ook die muur regoor sy huis herstel, en Semaja die seun van Sekanja en opsigter van die Ooshek, die volgende gedeelte. Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, het hulle deel herstel. Mesullam die seun van Berekja het die deel tot regoor sy blyplek reggemaak. Malkija, ’n goudsmid, het die muur tot by die blyplek van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiehek en tot by die kamer bo-op die hoek, herbou.
NEHEMIA 3:1-31 ABA (Bybel vir almal)
Die hoëpriester Eljasib en die ander priesters het begin om die muur te bou. Hulle het die Skaap-poort gebou. Hulle het dit gewy en hulle het die deure ingesit. Toe het hulle die muur gebou tot by die Toring-van-die-Honderd. Hulle het dit gewy, en toe het hulle verder gebou tot by die Gananel-toring. Die manne van Jerigo het die volgende stuk van die muur gebou, en Sakkur seun van Imri het die volgende stuk gebou. Die Senaä-familie het die Vis-poort gebou. Hulle het die balke op die mure gesit en hulle het die deure ingesit, saam met die slotte en die sluitbalke. Meremot seun van Urija seun van Kos het die volgende stuk van die muur reggemaak, Mesullam seun van Berekja seun van Mesesabel het die volgende stuk reggemaak, en Sadok seun van Baäna die volgende stuk. Die Tekoa-mense het die volgende stuk van die muur reggemaak, maar hulle belangrike mense wou nie hard werk vir hulle Here nie. Jojada seun van Paseag, en Mesullam seun van Besodja het die Ou Poort reggemaak. Hulle het die balke op die mure gesit en hulle het die deure ingesit, saam met die slotte en sluitbalke. Melatja van die stad Gibeon, en Jadon van die stad Meronot, en die manne van die stede Gibea en Mispa het die volgende stuk van die muur reggemaak, tot by die huis van die goewerneur van die provinsie Wes-Eufraat. Die goudsmid Ussiël seun van Garhaja het die volgende stuk van die muur reggemaak, en Gananja, die man wat die salf gemeng het, het die volgende stuk reggemaak. Hulle het die muur van Jerusalem reggemaak tot by die Breë Muur. Refaja seun van Gur het die volgende stuk van die muur reggemaak. Refaja was die amptenaar wat regeer het oor die helfte van een van die dele van die stad Jerusalem. Jedaja seun van Garumaf het die volgende stuk reggemaak, tot oorkant sy huis. Gattus seun van Gasabneja het die volgende stuk reggemaak. Malkija seun van Garim, en Gassub seun van Pagat-Moab het 'n tweede stuk reggemaak. Dit was die stuk tot by die Bakoond-toring. Sallum seun van Loges het die volgende stuk gebou, hy en sy dogters. Sallum was die amptenaar wat regeer het oor die ander helfte van een van die dele van Jerusalem. Ganun en die mense van die stad Sanoag het die poort in die vallei reggemaak. Hulle het die mure van die poort gebou en hulle het die deure ingesit, saam met die slotte en sluitbalke. Hulle het ook die stuk muur tot by die Vullis-poort gebou, die stuk muur was 1 000 el lank. Malkija seun van Rekab het die Vullis-poort reggemaak. Malkija was die amptenaar wat regeer het oor Bet-Kerem, een van die dele van Jerusalem. Hy het die mure van die poort gebou en hy het die deure ingesit, saam met die slotte en sluitbalke. Sallun seun van Kol-Gose het die Fontein-poort reggemaak. Sallun was die amptenaar wat regeer het oor Mispa, een van die dele van die stad. Hy het die mure van die poort gebou en hy het die dak opgesit en die deure ingesit, saam met die slotte en sluitbalke. Hy het ook die muur by die Kanaal-dam weer gebou, van die tuin van die koning tot by die trappe wat afkom uit die Dawidstad. Nehemia seun van Asbuk het die stuk muur reggemaak tot oorkant die Dawid-grafte en tot by die dam wat die mense gebou het. Dit was by die kamers waar die spesiale manne van die koning gewoon het. Nehemia was die amptenaar wat regeer het oor die helfte van Bet-Sur, een van die dele van Jerusalem. Die Leviete het die volgende stukke van die muur reggemaak. Regum seun van Bani het die eerste stuk reggemaak. Gasabja het die volgende stuk reggemaak. Dit was die stuk langs sy deel van die stad. Gasabja was die amptenaar wat regeer het oor die helfte van Keïla, een van die dele van die stad. Die Leviet Bawwai seun van Genadad het die volgende stuk reggemaak. Bawwai was die amptenaar wat regeer het oor die ander helfte van Keïla, een van die dele van die stad. Die Leviet Eser seun van Jesua het 'n tweede stuk reggemaak, die stuk van oorkant die plek waar 'n mens opgaan na die wapenkamer op die hoek van die muur. Eser was die amptenaar wat regeer het oor Mispa, 'n deel van die stad. Baruk seun van Sabbai het ook 'n tweede stuk reggemaak. Dit was die stuk van die hoek tot by die poort van die huis van Eljasib, die hoëpriester. Meremot seun van Urija seun van Kos het 'n tweede stuk reggemaak. Dit was die stuk van die poort voor die huis van Eljasib tot by die kant van Eljasib se huis. Die priesters wat daar naby gewoon het, het die volgende stuk van die muur reggemaak. Benjamin en Gassub het die stuk oorkant hulle huis reggemaak, en Asarja seun van Maäseja seun van Ananeja het die stuk oorkant sy huis reggemaak. Binnuï seun van Genadad het 'n tweede stuk van die muur reggemaak. Dit was van die huis van Asarja tot by die draai en die hoek van die muur. Palal seun van Usai het die stuk reggemaak oorkant die draai en die toring. Dit is die toring wat uitsteek bokant die boonste paleis wat by die binneplaas van die wagte is. Pedaja seun van Paros en die tempel-slawe wat op die Ofel gewoon het, het die stuk van die muur reggemaak tot by die Water-poort oos van die toring wat uitsteek. Die mense van Tekoa het ook 'n tweede stuk muur reggemaak, dit was van oorkant daardie groot toring tot by die muur van die Ofel. Die priesters het die stuk muur bokant die Perde-poort reggemaak, elkeen het die stuk muur oorkant sy huis reggemaak. Sadok seun van Immer het die stuk muur oorkant sy huis reggemaak. Semaja seun van Sekanja het die volgende stuk reggemaak. Semaja was die wag by die poort oos van die tempel. Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, het ook 'n tweede stuk muur reggemaak. Mesullam seun van Berekja het die stuk oorkant sy kamer reggemaak. Malkija, 'n goudsmid, het die stuk muur reggemaak tot by die woonplek van die tempel-slawe en die handelaars. Dit was die stuk muur langs die Wag-poort, tot by die bo-kamer op die hoek van die muur.
NEHEMIA 3:1-31 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Eljasib, die hoëpriester en sy ampsgenote, die priesters, het gereedgemaak en die Skaappoort herbou. Hulle het dit self geheilig en die poortdeure ingesit. Tot by die Toring van die Honderd het hulle dit geheilig, ook tot by die Toring van Gananel. Langs hulle het die manne van Jerigo gebou. Langs hulle het Sakkur, seun van Imri, gebou. Die Vispoort is deur die seuns van Hassenaä herbou. Hulle het die balke gelê en die poortdeure, sokgrendels en sluitbalke ingesit. Langs hulle het Meremot, seun van Urija, seun van Kos, herstelwerk gedoen. Langs hulle het Mesullam, seun van Beregja, seun van Mesesabel, herstelwerk gedoen. Langs hulle het Sadok, seun van Baäna, herstelwerk gedoen. Langs hulle het mense van Tekoa herstelwerk gedoen, maar die vernames onder hulle het nie hulle nekke onder die juk van hulle Heer se werk gesit nie. Die Jesanapoort het Jojada, seun van Paseag, en Mesullam, seun van Basodja, herstel. Hulle het die balke gelê en die poortdeure, sokgrendels en sluitbalke ingesit. Langs hulle het Melatja, uit Gibeon, en Jadon, uit Meronot, herstelwerk gedoen. Die manne van Gibeon en Mispa het behoort tot die ampsgebied van die •streekgoewerneur wes van die Rivier. Langs hulle het Ussiël, seun van Garhaja, 'n lid van die goudsmede, herstelwerk gedoen. Langs hom het Gananja, 'n lid van die salfmengers, herstelwerk gedoen. Hulle het Jerusalem opgeknap tot by die Breë Muur. Langs hulle het Refaja, seun van Gur, die bevelvoerder van die helfte van die Jerusalem-distrik, herstelwerk gedoen. Langs hulle het Jedaja, seun van Garumaf, reg voor sy huis die herstelwerk gedoen. Langs hom het Gattus, seun van Gasabneja, herstelwerk gedoen. 'n Tweede afgemete deel, het Malkija, seun van Garim, en Gassub, seun van Pagat-Moab, herstel, en ook die Toring van die Oonde. Langs hulle het Sallum, seun van Halloges, die bevelvoerder van die ander helfte van die Jerusalem-distrik, herstelwerk gedoen, hy en sy dogters. Die Dalpoort is deur Ganun en die inwoners van Sanoag herstel. Hulle het dit self herbou, die deure, sokgrendels en sluitbalke ingesit, en ook duisend el van die stadsmuur herstel, tot by die Ashooppoort. Die Ashooppoort is deur Malkija, seun van Regab, bevelvoerder van die Bet-Hakkêrêm-distrik, herstel. Hy het dit self herbou en die deure, sokgrendels en sluitbalke ingesit. Die Fonteinpoort is deur Sallun, seun van Kol-Gose, die bevelvoerder van die Mispa-distrik, herstel. Hy het dit self herbou, die dak opgesit en die deure, sokgrendels en sluitbalke ingesit; so ook die stadsmuur by die dam van die watervoor wat na die koningstuin loop, tot by die trappe wat afgaan vanaf die Stad van Dawid. Daar langsaan het Nehemia, seun van Asbuk, bevelvoerder van die helfte van die Bet-Sur-distrik, herstelwerk gedoen tot regoor die grafte van Dawid, en ook verder tot by die geboude dam en die Huis van die Helde. Daar langsaan het die Leviete onder Regum, seun van Bani, herstelwerk gedoen. Langs hom het Gasabja, die bevelvoerder van die helfte van die Keïla-distrik herstelwerk namens sy distrik gedoen. Daar langsaan het hulle stamgenote onder Binnuï, seun van Genadad, die bevelvoerder van die ander helfte van die Keïla-distrik, herstelwerk gedoen. Langs hom het Eser, seun van Jesua, die bevelvoerder van Mispa, herstelwerk gedoen aan 'n tweede afgemete deel teenoor die opdraande na die wapenhuis, by die hoek. Daar langsaan het Barug, seun van Sabbai, 'n tweede afgemete deel ywerig herstel, vanaf die hoek tot by die ingang na die huis van Eljasib, die hoëpriester. Daar langsaan het Meremot, seun van Urija, seun van Kos, 'n tweede afgemete deel herstel, van die ingang na die huis van Eljasib tot by die einde van die huis van Eljasib. Daar langsaan het die priesters, manne uit die onmiddellike omgewing, herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Benjamin en Gassub herstelwerk gedoen, reg voor hulle huis. Daar langsaan het Asarja, seun van Maäseja, seun van Ananja, langs sy huis herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Binnuï, seun van Genadad, 'n tweede afgemete deel herstel, vanaf die huis van Asarja tot by die hoek en tot by die draai van die stadsmuur. Palal, seun van Usai, was aan die bou teenoor die hoek en die boonste toring wat bo die koninklike paleis uittroon, by die binnehof van die paleiswag. Daar langsaan was dit Pedaja, seun van Paros. Die tempeldienaars het op die Ofel gewoon; hulle was besig tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die toring wat daar uittroon. Daar langsaan het die mense van Tekoa 'n tweede afgemete deel herstel, regoor die groot toring wat uittroon en verder tot by die muur van die Ofel. Bo die Perdepoort het die priesters herstelwerk gedoen – elkeen regoor sy huis. Daar langsaan het Sadok, seun van Immer, herstelwerk gedoen voor sy huis. Daar langsaan het Semaja, seun van Seganja, die wag by die Oospoort, herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Gananja, seun van Selemja, en Ganun, die sesde seun van Salaf, 'n tweede afgemete deel herstel. Daar langsaan het Mesullam, seun van Beregja, herstelwerk gedoen regoor sy kamer. Daar langsaan het Malkija, 'n lid van die goudsmede, herstelwerk gedoen tot by die huis van die tempeldienaars en die handelaars, regoor die Poort vir die Monstering, tot by die bovertrek van die draai van die stadsmuur.
NEHEMIA 3:1-31 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe het Eljasib, die hoëpriester, opgestaan met sy broers, die priesters, en hulle het die Skaapspoort gebou; hulle het dit geheilig en die deure daarvan opgesit; tot by die toring van Mea het hulle dit geheilig, tot by die toring van Hananeel. En langs hom het die manne van Jerigo gebou. En langs hulle het Sakkur, die seun van Imri, gebou. Maar die Vispoort het die seuns van Hassenaa gebou, en hulle het ook sy balke gelê en sy deure, sy slotte en sy grendels opgestel. En naas hulle het Meremot, die seun van Uría, die seun van Kos, herstel. En naas hulle het Mesúllam, die seun van Beregja, die seun van Mesésabeel, herstel. En naas hulle het Sadok, die seun van Baäna, herstel. En naas hulle het die Tekoïete herstel; maar hulle edeles het hulle nekke nie aan die werk van hulle HERE gelê nie. Verder het die ou poort Jojada, die seun van Paseag, en Mesullam, die seun van Besodja, herstel; hulle het sy balke neergesit en sy deure en sy slotte en sy grendels opgesit. En naas hulle het Melatja, die Gibeoniet, en Jadon, die Meronotiet, die manne van Gibeon en Mispa, herstel tot by die troon van die goewerneur wes van die Eufraat. Naas hom het Ussiël, die seun van Harhája, van die goudsmede, herstel. Naas hom het Hanánja, die seun van een van die aptekers, ook herstel, en hulle het Jerusalem versterk tot by die breë muur. En naas hulle het Refaja, die seun van Hur, die owerste van die halwe deel van Jerusalem, herstel. En naas hulle het Jedája, die seun van Harumaf, reggemaak, teenoor sy huis. En naas hom het Hattus, die seun van Hasabnja, herstel. Malkia, die seun van Harim, en Hasub, die seun van Pahat-Moab, het die ander stuk en die toring van die oonde herstel. En naas hom het Sallum, die seun van Halohes, die owerste van die halwe deel van Jerusalem, herstel, hy en sy dogters. Die Dalpoort het Hanun en die inwoners van Sanóag herstel; hulle het dit gebou en sy deure, sy grendels en grendels, en duisend el teen die muur tot by die mispoort opgesit. Maar die mispoort het Malkía, die seun van Regab, die owerste van 'n deel van Bet-Hakkerem, herstel; hy het dit gebou en sy deure, sy slotte en sy grendels opgesit. Maar die poort van die fontein het Sallun, die seun van Kolhose, die owerste van die deel van Mispa, herstel; hy het dit gebou en dit bedek, en sy deure, sy sluise en sy grendels, en die muur van die bad Siloag by die koning se tuin en tot by die trappe wat van die stad van Dawid afgaan, opgesit. Ná hom het Nehemia, die seun van Asbuk, die owerste van die halwe deel van Bet-Sur, herstel tot by die plek teenoor die grafte van Dawid en tot by die dam wat daar gemaak is, en tot by die huis van die helde. Ná hom het die Leviete herstel, Rehum, die seun van Bani. Naas hom het Hasábja, die owerste van die halwe deel van Kehíla, in sy deel herstel. Ná hom het hulle broers, Bawai, die seun van Henadad, die owerste van die halwe deel van Kehíla, herstel. En naas hom het Eser, die seun van Jesua, die owerste van Mispa, 'n ander stuk reggemaak teenoor die opgang na die wapenkamer by die draai van die muur. Ná hom het Barug, die seun van Sabbai, die ander stuk ernstig herstel, van die draai van die muur af tot by die deur van die huis van die hoëpriester Eljasib. Ná hom het Meremot, die seun van Uría, die seun van Kos, nog 'n stuk herstel, van die ingang van die huis van Eljasib af tot by die einde van die huis van Eljasib. En ná hom het die priesters, die manne van die Vlakte, herstel. Ná hom het Benjamin en Hassub reg teenoor hulle huis herstel. Ná hom het Asárja, die seun van Maäséja, die seun van Anánja, by sy huis herstel. Ná hom het Binnui, die seun van Henadad, nog 'n stuk herstel, van die huis van Asarja af tot by die draai van die muur, tot by die hoek. Palal, die seun van Usai, teenoor die draai van die muur en die toring wat uitsteek van die hoë huis van die koning af, wat by die voorhof van die gevangenis was. Ná hom Pedaja, die seun van Paros. Verder het die tempelbediendes in Ofel gewoon, tot by die plek teenoor die Waterpoort na die ooste, en die toring wat uitsteek. Daarna het die Tekoïete nog 'n stuk herstel, teenoor die groot toring wat uitsteek, tot by die muur van Ofel. Van bo af het die perdepoort die priesters herstel, elkeen teenoor sy huis. Ná hulle het Sadok, die seun van Immer, reg teenoor sy huis herstel. Ná hom het Semaja, die seun van Segánja, die bewaker van die Oospoort, ook herstel. Ná hom het Hanánja, die seun van Selemja, en Hanun, die sesde seun van Salaf, nog 'n stuk herstel. Ná hom het Mesullam, die seun van Beregja, teenoor sy kamer herstel. Ná hom het Malkía, die seun van die goudsmid, herstel tot by die plek van die tempelbediendes en van die handelaars, teenoor die poort Mifkad en tot by die opgang van die hoek.