NEHEMIA 10:28-33

NEHEMIA 10:28-33 Bybel vir almal (ABA)

Die ander mense het saam met mekaar en saam met hulle leiers belowe dat hulle sal doen wat die wette van God sê, die wette wat Moses, die dienaar van God, vir die volk gegee het. Hulle het gesê dat God hulle kan doodmaak as hulle nie gehoorsaam is aan al die gebooie van die Here, ons Here, nie, as hulle nie gehoorsaam is aan alles wat Hy besluit het en gesê het nie. Hierdie mense was die priesters, die Leviete, die poortwagte, die mense wat moes sing, die tempel-slawe, almal wat apart gegaan het, weg van die ander volke in die land. Hulle het weggegaan sodat hulle kan doen wat die wette van God sê. Hulle vroue, hulle kinders en almal wat kon verstaan, het ook saam met hulle gegaan. Hulle het gesê: “Ons sal ons kinders nie laat trou met die kinders van die ander mense in die land nie. “Wanneer die ander mense op die Sabbatdag goed of koring bring om te verkoop, dan sal ons dit nie van hulle koop nie, nie op die Sabbatdag of op 'n ander gewyde dag nie. “In die sewende jaar sal ons nie ons lande ploeg of saai nie en ons sal sê mense moenie betaal wat hulle vir ons skuld nie. “Ons besluit dat elkeen van ons elke jaar een derde van 'n sikkel goud sal gee vir die werk in die tempel van ons God. Hierdie geld is om te betaal vir die offer-brood, die koring-offer en die brand-offer elke dag, vir die offers op die Sabbatdag, die Nuwemaan-feeste en die ander feeste, en vir die gewyde presente en die sonde-offers. Die priesters moet daarmee versoening doen vir die volk. Hulle sal al die ander werk in die tempel van ons God ook met daardie geld betaal.

NEHEMIA 10:28-33 Die Boodskap (DB)

Die res van die volk, die priesters, Leviete, tempelwagte, sangers en die ander tempelwerkers en al die ander mense wat hulle bande met die heidenvolke verbreek het om God te dien, asook hulle vroue en kinders, almal wat oud genoeg was om self ’n besluit te kon neem, het hulle leiers se voorbeeld gevolg. Hulle het ’n eed afgelê om volgens die Here se wil te leef soos Hy dit deur sy dienaar Moses bekendgemaak het. Verder het hulle ook belowe om al die Here ons God se voorskrifte te gehoorsaam. Dit is wat hulle belowe het: “Ons sal nie ons kinders toelaat om met die kinders van die mense van hierdie land wat U nie ken nie, te trou nie. “Wanneer die ongelowiges hulle handelsware of koring op ’n sabbat of enige ander dag wat spesiaal aan die Here gewy word na ons toe bring, sal ons dit nie koop nie. “Ons sal ook elke sewende jaar nie ons landbougrond bewerk nie en ons sal almal se skuld kanselleer. “Verder sal ons almal jaarliks vier gram silwer bydra vir die uitgawes om die woonplek van God in stand te hou. Dit is nou vir die offerbrood, die gereelde graanoffer, die gereelde brandoffer van ’n lam in die oggend en ’n lam in die aand, ook vir die offers op die sabbat, nuwemaansfeeste en die ander jaarlikse feeste; vir die spesiaal afgesonderde dae wat aan die Here gewy word en vir die offers vir Israel se sondes om hulle verhouding met die Here in orde te kry; en ook vir al die ander werk in God se woning in Jerusalem.