MARKUS 6:47-51
MARKUS 6:47-51 Bybel vir almal (ABA)
Toe dit aand geword het, was die dissipels en hulle boot amper in die middel van die see, en Jesus was alleen op die land. Hy het gesien sy dissipels kry swaar om te roei, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gegaan. Hy het op die water geloop en Hy wou na hulle toe kom. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook en hulle het hard geskree. Al die dissipels het Hom gesien en hulle het baie bang geword. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Jesus het by hulle in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die dissipels se monde was oop, hulle was baie verbaas.
MARKUS 6:47-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe dit aand geword het, was die skuit in die middel van die see en Hy alleen op die land. En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan. En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit 'n spook was en hard uitgeskreeu; want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie. En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd.
MARKUS 6:47-51 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan
MARKUS 6:47-52 Die Boodskap (DB)
Toe dit al goed donker was, was die boot mooi in die middel van die see. Jesus was alleen op die strand. Hy het gesien hoe sy dissipels swoeg met die roeiery, want die wind was teen hulle. Toe die son sy kop begin uitsteek, stap Jesus op die water na hulle toe. Hy wou langs hulle verbystap, maar toe hulle Hom op die water sien loop, dog hulle dit is ’n spook. Hulle het hulle spierwit geskrik. Jesus stel hulle toe dadelik gerus: “Moenie so skrik nie, dit is net Ek. Julle hoef nie bang te wees nie.” Hy klim toe in die boot by hulle. Daar en dan gaan die wind toe ook lê. Sy volgelinge was heeltemal uit die veld geslaan. Al het hulle gesien hoe so baie mense met so ’n bietjie kos genoeg kry om te eet, het hulle nie verstaan wie Jesus regtig is nie. Hulle kon hulle oë nie glo nie.
MARKUS 6:47-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Later die nag was die skuit al ver weg die see in en Hy was alleen op die land. Hy sien toe hoe swaar hulle aan die roei was, want die wind was teen hulle. Kort voor dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop. Hy wou by hulle verbygaan. Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle hard begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Hulle was almal verskrik toe hulle Hom sien. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle was baie verbaas oor wat hulle beleef het.