MARKUS 6:45-52
MARKUS 6:45-52 Bybel vir almal (ABA)
Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en hulle moet voor Hom na die ander kant van die see gaan, na die stad Betsaida. Jesus het agtergebly en vir die mense gesê hulle moet huis toe gaan. Jesus het die mense gegroet, en toe het Hy na die berg gegaan om te bid. Toe dit aand geword het, was die dissipels en hulle boot amper in die middel van die see, en Jesus was alleen op die land. Hy het gesien sy dissipels kry swaar om te roei, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gegaan. Hy het op die water geloop en Hy wou na hulle toe kom. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook en hulle het hard geskree. Al die dissipels het Hom gesien en hulle het baie bang geword. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Jesus het by hulle in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die dissipels se monde was oop, hulle was baie verbaas. Hulle het ook nie verstaan wat dit beteken het toe Jesus die brood meer gemaak het nie. Maar hulle was hardkoppig, hulle wou nie verstaan nie.
MARKUS 6:45-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur. En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid. En toe dit aand geword het, was die skuit in die middel van die see en Hy alleen op die land. En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan. En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit 'n spook was en hard uitgeskreeu; want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie. En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd. Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was.
MARKUS 6:45-52 Afrikaans 1983 (AFR83)
Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid. Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie.
MARKUS 6:45-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en vooruit na die oorkant te vaar, na Betsaida toe, terwyl Hy die skare wegstuur. Nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid. Toe dit aand geword het, was die boot in die middel van die see, en Hy alleen aan land. Hy het gesien dat hulle worstel met die roeiery, want die wind was teen hulle. Teen ongeveer die vierde nagwaak kom Hy op die see na hulle toe aangeloop, en Hy wou by hulle verbygaan. Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook , en hulle het hard geskreeu; want hulle almal het Hom gesien en was vreesbevange. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek! Moenie langer bang wees nie!” Hy het toe by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was uitermate verbaas, want hulle het nie begryp wat met die brode gebeur het nie, omdat hulle harte verhard was.
MARKUS 6:45-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skip te klim en na die oorkant van Betsáida te gaan, terwyl Hy die volk weggestuur het. En nadat Hy hulle weggestuur het, het Hy na die berg gegaan om te bid. En toe dit aand geword het, was die skip in die middel van die see, en hy alleen op die land. En hy het gesien hoe hulle besig was om te roei; want die wind was hulle teë, en omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom terwyl Hy op die see wandel en by hulle verbygegaan het. Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dat dit 'n gees was, en het uitgeroep: Want almal het Hom gesien en was ontsteld. En dadelik het Hy met hulle gespreek en vir hulle gesê: Hou goeie moed! Dit is Ek; wees nie bang nie. En hy het na hulle geklim in die skuit; en die wind het gaan lê, en hulle was baie verbaas in hulleself en was verwonderd. Want hulle het die wonder van die brode nie in ag geneem nie, want hulle hart was verhard.
MARKUS 6:45-52 Die Boodskap (DB)
Toe hulle klaar geëet het, het Jesus die klomp mense gevra om huis toe te gaan. Hy het ook sy klein groepie getrouste volgelinge solank met die skuit vooruitgestuur na Betsaida toe. Nadat Hy alles gereël het en die mense weg was, is Hy teen die berg op om te gaan bid. Toe dit al goed donker was, was die boot mooi in die middel van die see. Jesus was alleen op die strand. Hy het gesien hoe sy dissipels swoeg met die roeiery, want die wind was teen hulle. Toe die son sy kop begin uitsteek, stap Jesus op die water na hulle toe. Hy wou langs hulle verbystap, maar toe hulle Hom op die water sien loop, dog hulle dit is ’n spook. Hulle het hulle spierwit geskrik. Jesus stel hulle toe dadelik gerus: “Moenie so skrik nie, dit is net Ek. Julle hoef nie bang te wees nie.” Hy klim toe in die boot by hulle. Daar en dan gaan die wind toe ook lê. Sy volgelinge was heeltemal uit die veld geslaan. Al het hulle gesien hoe so baie mense met so ’n bietjie kos genoeg kry om te eet, het hulle nie verstaan wie Jesus regtig is nie. Hulle kon hulle oë nie glo nie.
MARKUS 6:45-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur. Daarna het Hy alleen teen die berg op gegaan om te bid. Later die nag was die skuit al ver weg die see in en Hy was alleen op die land. Hy sien toe hoe swaar hulle aan die roei was, want die wind was teen hulle. Kort voor dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop. Hy wou by hulle verbygaan. Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle hard begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Hulle was almal verskrik toe hulle Hom sien. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle was baie verbaas oor wat hulle beleef het. Selfs ná die broodwonder het hulle nog nie begryp wie Hy werklik was nie; daarvoor was daar nog te veel weerstand in hulle harte.