MARKUS 6:1-56
MARKUS 6:1-56 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het weggegaan van daardie plek. Hy kom toe in Nasaret, die stad waar Hy grootgeword het. Sy dissipels het saam met Hom gegaan. Toe die Sabbatdag begin, het Hy vir die mense begin leer in die sinagoge. Baie mense het geluister na Hom. Hulle was baie verbaas en hulle het gesê: “Waar het hy al hierdie dinge geleer? Waar het hy hierdie wysheid gekry? Hoe kan hy hierdie wonderwerke doen? Ons weet Jesus is 'n man wat houtwerk doen. Hy is Maria se seun en hy is die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon. Sy susters is ook hier by ons.” Die mense het glad nie gehou van wat Jesus gesê en gedoen het nie. Jesus het vir hulle gesê: “Die mense in ander stede luister na 'n profeet en hulle respekteer hom. Maar die mense in sy eie stad, in sy eie familie en sy eie huisgesin respekteer hom nie.” Jesus kon nie een wonderwerk in Nasaret doen nie. Hy het sy hande net op 'n paar siek mense gesit en Hy het hulle gesond gemaak. Jesus was verbaas omdat die mense nie in Hom geglo het nie. Jesus het aangehou om in elke stad daar naby vir die mense te leer. Hy het ook die twaalf dissipels geroep en Hy het hulle na die mense toe gestuur. Hy het gesê hulle moenie alleen gaan nie, hulle moet twee-twee saam gaan. Hy het gesê Hy sal vir hulle krag gee om onrein geeste uit mense uit te jaag. Jesus het vir hulle gesê hulle mag niks saamneem wanneer hulle gaan nie. Hulle mag net 'n kierie saamneem, maar nie kos, of 'n rugsak, of geld in hulle beursies nie. Hulle mag sandale aantrek, en hulle moenie nog klere saamneem nie. Jesus het ook vir hulle gesê: “Wanneer mense julle nooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad. En wanneer die mense in 'n stad julle nie daar wil laat bly nie en nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.” Die dissipels het na die mense toe gegaan en gepreek. Hulle het vir die mense gesê hulle moet verander en lewe soos God wil hê. Die dissipels het ook baie duiwels uitgejaag uit mense, en hulle het baie siek mense gesalf met olyf-olie en hulle het die mense gesond gemaak. Al die mense het oor Jesus gepraat, daarom het koning Herodes ook van Hom gehoor. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.” Party mense het gesê: “Hy is Elia.” Ander mense het gesê: “Jesus is 'n profeet, soos een van die profete wat lank gelede gelewe het.” Toe koning Herodes van Jesus hoor, het hy gesê: “Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap, en nou lewe hy weer.” Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om Johannes te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het getrou met Herodias, sy broer Filippus se vrou, en Johannes het aangehou om vir Herodes te sê hy mag nie met sy broer se vrou trou nie. Daarom het Herodes vir Johannes laat vang. Herodias het vir Johannes gehaat. Sy wou hom laat doodmaak maar sy kon nie, want koning Herodes was bang vir Johannes. Hy het geweet Johannes is 'n goeie en 'n eerlike man en hy lewe naby God. Daarom het koning Herodes vir Johannes beskerm. Herodes het baie maal na Johannes toe gegaan om te hoor wat hy sê, en dan het hy bekommerd geword. Maar hy het weer en weer gegaan, want hy wou graag na Johannes luister. Eendag het Herodias gesien sy kan nou vir Johannes laat doodmaak. Koning Herodes het verjaar en hy het 'n groot fees gehou vir al sy belangrike amptenare en offisiere en die belangrike mense van die provinsie Galilea. Herodias se dogter het ingekom om vir hulle te dans. Koning Herodes en al die mense wat daar was, het baie daarvan gehou. Die koning sê toe vir die meisie: “Jy mag vir my enige iets vra wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.” Hy het weer en weer vir haar belowe: “Ek sal vir jou enige iets gee wat jy vir my vra. As jy vir my die helfte van my land vra, dan sal ek dit ook vir jou gee.” Die dogter het na haar ma toe gegaan en vir haar gevra: “Wat moet ek vra?” Herodias het geantwoord: “Jy moet sê jy wil die kop van Johannes die Doper hê.” Die dogter het haastig na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Ek wil hê jy moet dadelik vir my die kop van Johannes die Doper in 'n skottel bring.” Die koning het baie hartseer geword, maar al die mense wat saam geëet het, het gehoor wat hy belowe het, en hy wou nie sy belofte breek nie. Die koning het dadelik 'n soldaat gestuur en vir hom gesê hy moet Johannes se kop bring. Die soldaat het na die tronk gegaan en hy het Johannes se kop afgekap. Hy het Johannes die Doper se kop in 'n skottel gebring en hy het dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. Toe Johannes se dissipels daarvan hoor, het hulle gekom en hulle het sy lyk weggeneem en begrawe. Die apostels het teruggekom na Jesus toe en hulle het vir Hom alles vertel wat hulle gedoen het en wat hulle vir die mense geleer het. Mense het aanhoudend na Jesus toe gekom en hulle het nie tyd gehad om te eet nie. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Julle moet saam met My na 'n stil plek gaan sodat julle 'n bietjie kan rus.” Hulle het in 'n boot weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Baie mense het gesien Jesus en sy dissipels gaan weg en hulle het geweet waarnatoe hulle gaan. Die mense het van verskillende stede vinnig na die plek gehardloop. Hulle het voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Jesus het uit die boot geklim, en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy was bekommerd oor hulle, want hulle was soos skape wat nie 'n skaapwagter het nie. Jesus het begin om vir die mense baie dinge te leer. Dit het laat geword, en Jesus se dissipels het na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die mense weg sodat hulle na die plase en dorpies hier naby kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het gesê: “Dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Hom: “As ons vir al hierdie mense kos moet koop, dan sal dit 200 silwer geldstukke kos. Wil U hê ons moet dit doen?” Jesus het vir hulle gevra: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Die dissipels het gaan kyk en hulle sê toe vir Jesus: “Ons het vyf brode en twee visse.” Jesus het gesê hulle moet al die mense in groepe bymekaar op die groen gras laat sit om te eet. Die mense het gaan sit. In party groepe was daar 100 mense, en in ander groepe was daar 50 mense. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee om vir die mense te gee. Hy het ook die twee visse verdeel en vir al die mense daarvan gegee. Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies brood en vis opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat van die kos geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en hulle moet voor Hom na die ander kant van die see gaan, na die stad Betsaida. Jesus het agtergebly en vir die mense gesê hulle moet huis toe gaan. Jesus het die mense gegroet, en toe het Hy na die berg gegaan om te bid. Toe dit aand geword het, was die dissipels en hulle boot amper in die middel van die see, en Jesus was alleen op die land. Hy het gesien sy dissipels kry swaar om te roei, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gegaan. Hy het op die water geloop en Hy wou na hulle toe kom. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook en hulle het hard geskree. Al die dissipels het Hom gesien en hulle het baie bang geword. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.” Jesus het by hulle in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die dissipels se monde was oop, hulle was baie verbaas. Hulle het ook nie verstaan wat dit beteken het toe Jesus die brood meer gemaak het nie. Maar hulle was hardkoppig, hulle wou nie verstaan nie. Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret gekom. Hulle het die boot daar vasgemaak. Toe hulle uit die boot klim, het die mense dadelik gesien dit is Jesus. Die mense het na al die plekke gehardloop, en hulle het die siek mense op hulle slaapmatte na Jesus toe gedra. Op elke dorpie, in elke stad en op elke plaas waar Jesus gekom het, het hulle die siek mense op die oop plekke neergesit. Hulle het vir Jesus gevra of die siek mense aan die soom van sy bo-kleed mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.
MARKUS 6:1-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het daarvandaan weggegaan en in sy vaderstad gekom, en sy dissipels het Hom gevolg. En toe dit sabbat geword het, begin Hy in die sinagoge te leer, en baie wat Hom gehoor het, was verslae en sê: Waar kry Hy hierdie dinge vandaan, en watter wysheid is aan Hom gegee, dat ook sulke kragte deur sy hande plaasvind? Is Hy nie die timmerman, die seun van Maria, en die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon nie? En is sy susters nie hier by ons nie? En hulle het aanstoot aan Hom geneem. En Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en onder sy familie en in sy huis. En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het. En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof. Daarop het Hy die dorpe rondom deurgegaan en geleer. EN Hy het die twaalf na Hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur en het hulle mag gegee oor die onreine geeste, en hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te neem nie as net 'n stok alleen — geen reissak, geen brood, geen geld in die beurs nie, maar skoene aan die voete; en: Julle moet nie twee kledingstukke aantrek nie. En Hy het vir hulle gesê: Waar julle ook al in 'n huis mag kom, bly dáár totdat julle daarvandaan vertrek. En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer. En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. TOE koning Herodes dit hoor — want sy naam het bekend geword — het hy gesê: Johannes die Doper het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in Hom. Ander het gesê: Hy is Elía, en ander weer het gesê: Hy is 'n profeet of soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan. Want Herodes self het gestuur en Johannes gevange geneem en hom in die gevangenis geboei, vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie. En Heródias het 'n oog op hom gehad en wou hom om die lewe bring en sy kon nie. Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister. En op die geskikte dag, toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy groot manne en die owerstes oor duisend en die vernaamstes van Galiléa 'n maaltyd gegee het; en toe die dogter van dieselfde Heródias inkom en dans, en Herodes en die wat saam aan tafel was, behaag, sê die koning vir die meisie: Vra my net wat jy wil, en ek sal dit aan jou gee. En hy het vir haar gesweer: Net wat jy my vra, sal ek jou gee, al was dit ook die helfte van my koninkryk. Daarop gaan sy uit en sê vir haar moeder: Wat sal ek vra? Toe antwoord sy: Die hoof van Johannes die Doper. En dadelik gaan sy haastig in na die koning en vra en sê: Ek wil hê dat u my op die daad die hoof van Johannes die Doper op 'n skottel gee. Toe word die koning baie bedroef, maar ter wille van die eed en die wat saam aan tafel was, wou hy haar nie afwys nie. En die koning stuur dadelik een van sy lyfwag met die bevel om sy hoof te bring; en hy het gegaan en hom in die gevangenis onthoof en sy hoof op 'n skottel gebring en dit aan die meisie gegee, en die meisie het dit aan haar moeder gegee. En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in 'n graf neergelê. EN die apostels het by Jesus saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het. En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie. En hulle het met die skuit vertrek na 'n verlate plek in die eensaamheid. En die skare het hulle sien weggaan, en baie het Hom herken en te voet van al die stede af daar saamgestroom en voor hulle uit gegaan en by Hom vergader. En toe Jesus uitklim, sien Hy 'n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer. En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat. Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir tweehonderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet? En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse. En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit. En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel. En almal het geëet en versadig geword; en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse. En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyfduisend manne. EN dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur. En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid. En toe dit aand geword het, was die skuit in die middel van die see en Hy alleen op die land. En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan. En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit 'n spook was en hard uitgeskreeu; want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie. En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd. Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was. En nadat hulle oorgevaar het, het hulle by die land Gennésaret aangekom en daar aan wal gaan lê. En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken, en hulle het in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is. En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.
MARKUS 6:1-56 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie 'n timmerman, 'n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?” Die mense wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.” Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense. Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer. Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net 'n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog 'n kledingstuk saamvat nie. Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in 'n plek kom en in 'n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. En as 'n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.” Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.” En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is 'n profeet soos een van die ou profete.” Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.” Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.” Herodias het daarna 'n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy 'n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in 'n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister. Op 'n dag het Herodias 'n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea 'n feesmaal gegee het, het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.” Daarby het hy dit herhaaldelik met 'n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.” Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?” Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.” Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in 'n skottel die kop gee van Johannes die Doper.” Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met 'n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, sy kop in 'n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe. Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie.” Hulle het met 'n skuit na 'n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer. Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.” Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?” Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. Al die mense het geëet en genoeg gekry. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend. Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid. Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie. Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.
MARKUS 6:1-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En Hy het van daar af vertrek en na sy tuisdorp gegaan. Sy dissipels het Hom gevolg. Toe die Sabbat aanbreek, het Hy die mense in die •sinagoge begin leer, en baie van hulle wat Hom gehoor het, was verwonderd. Hulle het gesê: “Waar kom hy aan hierdie dinge, en watter wysheid is aan hom gegee , dat sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?” Hulle het aan Hom aanstoot geneem. Jesus het toe vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp , en binne sy familiekring en in sy huis.” En Hy kon nie 'n enkele kragtige daad daar verrig nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes gesond gemaak het deur hulle die hande op te lê. Hy was verbaas oor hulle ongeloof. Hy het by die dorpies in die omgewing rondgegaan en die mense onderrig. Hy het die twaalf nader geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur. Hy het vir hulle gesag oor die •onrein geeste gegee. Ook het Hy hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe net 'n wandelstok – nie brood of 'n reissak of geld in die gordel nie. Hulle kon wel sandale dra, maar, het Hy gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” Hy het ook vir hulle gesê: “Waar julle in 'n huis ingaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as 'n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle. ” Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak. Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geword. Sommige het gesê dat Johannes die Doper uit die dood opgewek is, en dié kragte daarom in hom werk. Ander weer het gesê dit is Elia. Nog ander het gesê dat Hy 'n profeet is, soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Johannes, wat ek laat onthoof het – dit is hy wat opgewek is.” Herodes self het immers vroeër mense gestuur en Johannes gevange laat neem, en hom in die tronk laat boei – en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is nie vir u toelaatbaar om die vrou van u broer te vat nie.” Herodias het toe 'n wrok teen hom gekoester, en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie; want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy besef het dat hy 'n •regverdige en heilige man is, en hom wou beskerm. Wanneer Herodes hom gehoor het, het hy telkens in groot vertwyfeling verkeer – tog het hy graag na hom geluister. 'n Geskikte geleentheid het hom voorgedoen toe Herodes op sy verjaarsdag 'n feesmaal vir sy hoë amptenare, die chiliarge en die vooraanstaande mense van Galilea aangebied het. Sy dogter Herodias het ingekom en Herodes en hulle wat aangeleun het vir ete vermaak deur te dans. Die koning sê toe vir die meisie: “Vra my net wat jy wil, en ek sal dit vir jou gee.” Hy het vir haar gesweer: “Wat jy my ook al vra, sal ek vir jou gee, selfs die helfte van my koninkryk.” Sy het toe uitgegaan en vir haar moeder gesê: “Wat moet ek vra?” En sy het geantwoord: “Die kop van Johannes die Doper.” Toe het sy haastig direk na die koning gegaan en hom versoek: “Ek wil hê dat u onmiddellik vir my die kop van Johannes die Doper op 'n skinkbord bring.” Die koning het toe baie bedroef geword, maar ter wille van sy eed en die gaste wou hy haar dit nie weier nie. Die koning het dadelik sy laksman gestuur en opdrag gegee om die kop te bring. Hy het gegaan en hom in die tronk onthoof. Hy het sy kop op 'n skinkbord gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar moeder gegee. Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle gekom en sy liggaam weggeneem en dit in 'n graf neergelê. En die •apostels het by Jesus byeengekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen en onderrig het. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle saam na 'n verlate plek en rus 'n bietjie op julle eie.” Want daar was baie mense wat voortdurend gekom en gegaan het; hulle het selfs nie kans gekry om te eet nie. En hulle het in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op hulle eie te wees. Maar baie mense wat hulle sien vertrek het, het hulle herken en te voet van al die dorpe af daarheen gestroom, en nog voor hulle daar aangekom. Toe Jesus uitklim, het Hy die groot skare gesien en hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder 'n herder was, en Hy het begin om hulle uitvoerig te onderrig. Toe dit al baie laat begin word, kom sy dissipels na Hom en sê: “Dit is 'n verlate plek, en dit is reeds baie laat. Stuur hulle weg na die plase in die omgewing en na die dorpies om vir hulleself iets te ete te gaan koop.” Maar Hy het hulle geantwoord: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Moet ons dan met tweehonderd denarius gaan brood koop en vir hulle gee om te eet?” Maar Hy vra vir hulle: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk!” Hulle het gaan uitvind en kom sê: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om almal in groepe op die groen gras te laat sit om saam te eet. Hulle het in groepe van honderd en van vyftig gaan sit. Hy het toe die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Daarna het Hy die brode in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om vir die mense uit te deel. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het twaalf mandjies vol van die stukke brood en van die vis wat oorgebly het, opgetel. Daar was vyfduisend mans wat van die brode geëet het. En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en vooruit na die oorkant te vaar, na Betsaida toe, terwyl Hy die skare wegstuur. Nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid. Toe dit aand geword het, was die boot in die middel van die see, en Hy alleen aan land. Hy het gesien dat hulle worstel met die roeiery, want die wind was teen hulle. Teen ongeveer die vierde nagwaak kom Hy op die see na hulle toe aangeloop, en Hy wou by hulle verbygaan. Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook , en hulle het hard geskreeu; want hulle almal het Hom gesien en was vreesbevange. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek! Moenie langer bang wees nie!” Hy het toe by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was uitermate verbaas, want hulle het nie begryp wat met die brode gebeur het nie, omdat hulle harte verhard was. Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle by Gennesaret aan wal gegaan en vasgemeer. Toe hulle uit die boot klim, het die mense Hom dadelik herken. Hulle het haastig deur die hele landstreek gegaan en dié wat siek was, op slaapmatte begin aandra na waar hulle gehoor het Hy is. Waar Hy ook al in gehuggies of in dorpe of op plase gekom het, het hulle die siekes op die markpleine neergesit en Hom gesmeek dat die siekes selfs net die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat Hom aangeraak het, is genees.
MARKUS 6:1-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het daarvandaan uitgegaan en in sy land gekom; en sy dissipels volg Hom. En toe die sabbatdag aangebreek het, het Hy in die sinagoge begin leer; en baie wat hom hoor, was verbaas en sê: Waarvandaan het hierdie man hierdie dinge? en watter wysheid is dit wat aan hom gegee word, dat selfs sulke magtige werke deur sy hande verrig word? Is dit nie die timmerman, die seun van Maria, die broer van Jakobus en Joses en van Juda en Simon nie? en is sy susters nie hier by ons nie? En hulle was aanstoot aan hom. Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, maar in sy eie land en onder sy familie en in sy huis. En hy kon daar geen kragtige werk doen nie, behalwe dat hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle genees het. En hy was verwonderd oor hulle ongeloof. En hy het in die dorpe rondgegaan en geleer. En hy het die twaalf na hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur; en het hulle mag gegee oor onrein geeste; En hulle het bevel gegee dat hulle niks op hulle reis moes neem nie, behalwe net 'n staf; geen skroef, geen brood, geen geld in hulle beursie nie. Maar wees geskoei met sandale; en nie twee jasse aantrek nie. En Hy sê vir hulle: Waar julle ook al in 'n huis ingaan, bly daar totdat julle van daardie plek weggaan. En elkeen wat julle nie ontvang en na julle nie luister nie, as julle daarvandaan vertrek, skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer. En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en hulle gesond gemaak. En koning Herodes het van hom gehoor; (want sy naam is in die buiteland versprei) en hy het gesê: Johannes die Doper is uit die dode opgewek, en daarom word kragtige werke in hom openbaar. Ander het gesê: Dit is Elia. En ander het gesê: Dit is 'n profeet, of soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Dit is Johannes wat ek onthoof het; hy het uit die dode opgestaan. Want Herodes het self uitgestuur en Johannes gegryp en hom in die gevangenis geboei ter wille van Herodias, sy broer Filippus se vrou, want hy het met haar getrou. Want Johannes het vir Herodes gesê: Dit is jou nie geoorloof om jou broer se vrou te hê nie. Daarom het Herodias 'n twis teen hom gehad en sou hom doodgemaak het; maar sy kon nie: Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy geweet het dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom bewaar; en toe hy hom hoor, het hy baie dinge gedoen en hom met graagte gehoor. En toe 'n gerieflike dag aangebreek het, het Herodes op sy verjaarsdag 'n maaltyd gemaak vir sy here, hoë owerstes en owerstes van Galilea; En toe die dogter van genoemde Heródias inkom en dans en Herodes en die wat by hom sit, behaag, sê die koning vir die meisie: Vra my net wat jy wil, en ek sal dit aan jou gee. En hy het vir haar gesweer: Alles wat jy van my sal vra, sal ek jou gee tot die helfte van my koninkryk. En sy het uitgegaan en vir haar moeder gesê: Wat moet ek vra? En sy sê: Die hoof van Johannes die Doper. En sy het dadelik inderhaas by die koning ingekom en gevra en gesê: Ek wil hê jy moet vir my die kop van Johannes die Doper op 'n bakkie gee. En die koning was baie jammer; maar ter wille van sy eed en ter wille van hulle wat by hom gesit het, wou hy haar nie verwerp nie. En dadelik het die koning 'n laksman gestuur en bevel gegee om sy hoof te bring; en hy het gegaan en hom in die tronk onthoof. En hy het sy kop in 'n skottel gebring en dit aan die meisie gegee, en die meisie het dit aan haar moeder gegee. En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk opgetel en dit in 'n graf neergelê. En die apostels het by Jesus vergader en Hom alles vertel, wat hulle gedoen het en wat hulle geleer het. En Hy sê vir hulle: Kom julle self afsonderlik na 'n verlate plek en rus 'n rukkie, want daar was baie wat gekom en gegaan het, en hulle het geen tyd gehad om te eet nie. En hulle het afsonderlik per skip na 'n verlate plek vertrek. En die volk het hulle sien wegtrek, en baie het hom geken, en uit al die stede daarheen gehardloop en hulle uitgetrek en by hom bymekaargekom. En toe Jesus uitkom, het Hy baie mense gesien en was innig jammer vir hulle, omdat hulle soos skape was wat geen herder het nie; en Hy het hulle baie dinge begin leer. En toe die dag verby was, het sy dissipels na Hom gekom en gesê: Dit is 'n verlate plek, en nou is die tyd verby. Stuur hulle weg, dat hulle die land rondom en na die dorpe kan gaan en vir hulle brood kan koop, want hulle het niks om te eet nie. Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle vir hulle om te eet. En hulle sê vir hom: Sal ons gaan en brood koop vir twee honderd penninge en hulle om te eet? Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? gaan kyk. En toe hulle dit weet, sê hulle: Vyf en twee visse. En hy het hulle beveel om almal by groepe op die groen gras te laat sit. En hulle het in geledere gaan sit, by honderde en by vyftig. En nadat Hy die vyf brode en die twee visse geneem het, het Hy opgekyk na die hemel en geseën en die brode gebreek en dit aan sy dissipels gegee om voor hulle voor te sit; en die twee visse het hy onder almal verdeel. En hulle het almal geëet en versadig geword. En hulle het twaalf mandjies vol van die brokstukke en van die visse opgetel. En die wat van die brode geëet het, was omtrent vyfduisend man. En dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skip te klim en na die oorkant van Betsáida te gaan, terwyl Hy die volk weggestuur het. En nadat Hy hulle weggestuur het, het Hy na die berg gegaan om te bid. En toe dit aand geword het, was die skip in die middel van die see, en hy alleen op die land. En hy het gesien hoe hulle besig was om te roei; want die wind was hulle teë, en omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom terwyl Hy op die see wandel en by hulle verbygegaan het. Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dat dit 'n gees was, en het uitgeroep: Want almal het Hom gesien en was ontsteld. En dadelik het Hy met hulle gespreek en vir hulle gesê: Hou goeie moed! Dit is Ek; wees nie bang nie. En hy het na hulle geklim in die skuit; en die wind het gaan lê, en hulle was baie verbaas in hulleself en was verwonderd. Want hulle het die wonder van die brode nie in ag geneem nie, want hulle hart was verhard. En toe hulle deurgetrek het, het hulle in die land Genesaret gekom en na die strand getrek. En toe hulle uit die skip kom, het hulle Hom dadelik geken, En hy het deur daardie hele gebied rondom gehardloop en die siekes in die beddens begin ronddra waar hulle gehoor het dat hy was. En waar hy ook al ingegaan het, in dorpe of stede of lande, hulle het die siekes op die strate neergelê en Hom gesmeek om aan te raak as dit maar die rand van sy kleed was; en almal wat hom aangeraak het, is gesond gemaak.
MARKUS 6:1-56 Die Boodskap (DB)
Van Jaïrus se huis af is Jesus saam met sy dissipels terug na sy eie mense in Nasaret. Op die sabbat het Jesus die mense in die sinagoge meer van God gaan vertel. Baie van hulle was besonder beïndruk. Hulle het onder mekaar begin praat: “Waar het hy aan al hierdie dinge gekom? By wie het hy al hierdie kennis gekry? Om nie eens te praat van al die wonderlike dinge wat hy doen nie. Ons weet mos wie hy eintlik is. Is hy nie die houtwerker, die seun van Maria nie? Sy broers is mos Jakobus, Josef, Judas en Simon en ons ken sy susters ook goed.” Hulle wou maar net nie aanvaar dat Hy spesiaal is nie en het die neus vir Hom opgetrek. “So gaan dit maar,” het Jesus toe gesê. “Iemand wat deur God gestuur is om met mense oor God te praat word oral op die hande gedra, behalwe deur die mense onder wie hy grootgeword het.” Hy kon nie eintlik wonderlike dinge daar doen nie, behalwe om ’n paar siek mense gesond te maak. Dit het Jesus nogal verstom dat sy eie mense Hom nie wou vertrou nie. Jesus is toe na die dorpies in die omgewing toe om vir hulle van God te vertel. Sy dissipels het Hom gehelp. Jesus het hulle twee-twee saam na die dorpies toe gestuur en het aan hulle die mag gegee om bose geeste te verjaag. Jesus het hulle gevra om die volgende te doen: hulle kon ’n kierie vir die reis saamvat, maar niks anders nie - nie kos nie, ook nie ’n tas of geld nie. Hulle kon wel sandale dra, maar moes nie ekstra klere saamvat nie.As iemand in ’n dorp hulle uitnooi om daar te kom bly, moes hulle in dié huis bly tot hulle werk op die dorp klaar was en hulle verder moes gaan. Hulle moes nie rondval nie.As mense op ’n plek nie na hulle wou luister nie en hulle nie aan Jesus se volgelinge wou steur nie, moes hulle nie eens verder sukkel nie. Hulle moes omdraai en eenvoudig daar wegloop. Dit sou duidelik wys wat hierdie mense met die boodskap van God gemaak het. Die dissipels is toe daar weg en het mense gaan aanmoedig om terug te draai na God toe. Hulle het ook baie demone verjaag en siekes gesond gemaak deur ’n bietjie olie oor hulle te gooi. Nuus oor al hierdie dinge het by koning Herodes uitgekom, want oral het mense oor Jesus gepraat. Hy was baie gewild. Party het selfs gesê: “Johannes die Doper is terug uit die dood en daarom het hy die krag om al hierdie wonderlike dinge te doen.” Ander het daarvan verskil. “Nee, hy is Elia,” het party gesê, terwyl ander gespekuleer het dat Hy soos een van God se predikers van ouds was. Toe Herodes dit alles hoor, was sy reaksie: “Johannes, die man wie se kop ek afgekap het, het sowaar uit die dood teruggekom!” Laat ek eers die verhaal vertel hoe Herodes Johannes se kop laat afkap het. Die einste Herodes het soldate gestuur om Johannes te vang en in die tronk te stop. Herodias het hom omgepraat om dit te doen. Sy was eers sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het toe met haar getrou. Johannes het dit nie daar gelos nie en reguit vir Herodes gesê: “God hou nie daarvan dat jy jou broer se vrou gevat het nie.” Daaroor was Herodias natuurlik woedend en het begin planne maak om Johannes dood te maak. Maar sy kon dit nie regkry nie, want Herodes was lugtig vir Johannes. Hy het geweet dat Johannes ’n eerlike man was wat die Here gedien het. Daarom het hy ’n ogie oor Johannes gehou. Hy het graag geluister na wat Johannes alles sê, hoewel dit hom soms ongemaklik laat voel het. Herodias het haar kans gekry op Herodes se verjaarsdag. Hy het ’n groot partytjie gehou vir al die belangrike mense in Galilea. Al die hoë staatsamptenare was daar saam met die bevelvoerders van sy soldate en die leiers van die gemeenskap in Galilea. Die dogter van Herodias kom dans toe vir hulle. Sy was ’n treffer. Herodes en sy gaste was in ekstase. So meegevoer, sê Herodes vir haar: “Vra my net wat jou hart begeer en ek sal dit vir jou gee. Ek sweer, vra maar net en ek sal sorg dat jy dit kry, al is dit die helfte van wat ek besit.” Sy is toe daar weg, terug na haar ma toe: “Ma, wat moet ek vra?” Sonder om een oomblik te huiwer sê haar ma: “Vra dat hulle Johannes die Doper se kop afkap en vir jou gee.” Die dogter vlieg net daar om, terug na Herodes toe: “Ek wil Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê, en sommer dadelik, asseblief.” Die koning was uit die veld geslaan en hartseer, maar hy moes sy woord hou. Hy het mos voor al sy gaste gesweer dat hy sou doen wat sy vra. Hy stuur toe een van sy soldate om Johannes se kop te gaan haal. Die man is daar weg en het Johannes se kop in die tronk gaan afkap. Hy het dit op ’n skinkbord vir die meisie gevat, wat dit weer vir haar ma gegee het. Toe die volgelinge van Johannes dit hoor, het hulle sy liggaam gaan haal en hom behoorlik begrawe. Die mense wat Jesus uitgestuur het, het na ’n ruk teruggekom. Hulle het Jesus alles vertel wat hulle gedoen en gesê het. Maar dit was omtrent soos ’n malhuis rondom Jesus. Mense het so gekom en gegaan dat Jesus-hulle nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus stel toe voor dat net hulle klein groepie saam na ’n stil plek gaan om ’n bietjie te gaan rus. Hulle is toe saam in ’n skuit na ’n plek waar hulle op hulle eie kon wees. Maar ’n klomp mense het hulle gesien gaan. Hulle hardloop toe al met die strand langs en was selfs voor Jesus-hulle nog by die plek. Van oral af het die mense gekom. Toe Jesus-hulle daar land, wag daar natuurlik ’n massa mense vir hulle. Dit het Jesus diep geraak. Daar staan die mense rond en hulle lyk net soos ’n klomp skape wat nie ’n herder het om hulle te lei nie. Jesus begin toe met hulle oor God en sy dinge gesels. Dit het later begin skemer raak. Jesus se volgelinge kom hou toe kajuitraad met Hom. “Ons is so ver van winkels af en kyk hoe laat is dit al. Dink U nie dit is ’n goeie plan om die mense te vra om gou by die winkeltjies in die omgewing vir hulle iets te gaan kry om te eet nie?” “Nee wat,” sê Jesus. “Gee julle sommer vir hulle iets om te eet.” “Om vir hierdie klomp mense kos te gee sal ’n fortuin kos, sowat agt maande se salaris. Wil U regtig hê ons moet soveel geld spandeer net om vir hulle kos te gee?” “Gaan kyk ’n bietjie hoeveel kos ons het,” vra Jesus toe. Hulle kyk toe rond. “Vyf brode en twee visse,” kom die antwoord. Jesus vra toe sy getrouste volgelinge om die mense in groepies, so tussen 50 en 100, op die groen gras te laat sit. Jesus vat die kos en sê vir God dankie daarvoor. Voor die mense begin Hy toe die kos deel, terwyl sy volgelinge dit vir hulle gee om te eet. Almal het geëet tot hulle genoeg gehad het. Daarna het sy volgelinge die kos bymekaargemaak wat oorgebly het, ’n hele twaalf mandjies vol. Daar was baie mense; net die mans wat saamgeëet het, was 5 000. Toe hulle klaar geëet het, het Jesus die klomp mense gevra om huis toe te gaan. Hy het ook sy klein groepie getrouste volgelinge solank met die skuit vooruitgestuur na Betsaida toe. Nadat Hy alles gereël het en die mense weg was, is Hy teen die berg op om te gaan bid. Toe dit al goed donker was, was die boot mooi in die middel van die see. Jesus was alleen op die strand. Hy het gesien hoe sy dissipels swoeg met die roeiery, want die wind was teen hulle. Toe die son sy kop begin uitsteek, stap Jesus op die water na hulle toe. Hy wou langs hulle verbystap, maar toe hulle Hom op die water sien loop, dog hulle dit is ’n spook. Hulle het hulle spierwit geskrik. Jesus stel hulle toe dadelik gerus: “Moenie so skrik nie, dit is net Ek. Julle hoef nie bang te wees nie.” Hy klim toe in die boot by hulle. Daar en dan gaan die wind toe ook lê. Sy volgelinge was heeltemal uit die veld geslaan. Al het hulle gesien hoe so baie mense met so ’n bietjie kos genoeg kry om te eet, het hulle nie verstaan wie Jesus regtig is nie. Hulle kon hulle oë nie glo nie. Toe hulle anderkant by Gennesaret land, het hulle die skuit daar vasgemaak. Jesus het skaars uit die boot geklim of die mense het Hom herken. Die nuus dat Hy daar is, het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei. Waar Hy ook al gegaan het, het die mense siekes na Hom toe gebring. Of Hy nou in die klein plattelandse plekkies of in die groter dorpe was, die mense het daar vir Hom met hulle siekes gewag. Wanneer Hy by so ’n plek gekom het, het hulle vir Hom by die mark gewag, waar almal altyd saamgekom het. Hulle het Hom dan gesmeek en gesoebat om die siekes net toe te laat om aan Hom te raak. Dié wat aan Hom geraak het, het natuurlik almal gesond geword.
MARKUS 6:1-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het uit daardie omgewing vertrek en met sy dissipels in Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het. Op die Sabbat het Hy in die sinagoge met onderrig begin. Baie van sy toehoorders was heeltemal uit die veld geslaan. Hulle het gevra: “Waarvandaan kry hy al hierdie dinge – hierdie besondere wysheid en die buitengewone krag om sulke wonders te verrig? Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede. Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.” Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het. Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof. Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig. Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf. Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie. Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf. Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.” Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom. Hulle het ook baie bose geeste uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Herodes Antipas, die koning, het ook van Jesus gehoor, want almal het van Hom gepraat. Party het gesê: “Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Dit verklaar waarom Hy sulke wonderwerke kan doen.” Ander het weer gesê dat Hy Elia is; nog ander dat Hy ’n profeet is en soos een van die groot profete uit die verlede optree. Toe Herodes egter daarvan hoor, het hy verklaar: “Johannes, die einste man wat ek onthoof het, het uit die dood teruggekom.” Herodes het voorheen, as ’n guns vir Herodias, soldate gestuur en Johannes laat arresteer en in die tronk opgesluit. Sy was na regte die vrou van sy broer Filippus, maar Herodes het haar as sy vrou gevat. Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is onwettig van u om u broer se vrou te vat.” Om hierdie rede het Herodias ’n wrok teen Johannes gekoester. Sy wou hom uit die weg ruim, maar sonder Herodes se toestemming was sy magteloos. Herodes het baie ontsag vir Johannes gehad, want hy het besef dat hy ’n goeie en ’n heilige man is. Hy het hom beskerm en graag na hom geluister, al het Johannes se woorde hom dikwels ongemaklik laat voel. Herodias se kans het uiteindelik gekom toe Herodes op sy verjaarsdag ’n geselligheid vir sy amptenare en die weermagoffisiere en die hoëlui van Galilea gereël het. Sy dogter, wie se naam ook Herodias was, het in die feessaal ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en al die gaste gevind. “Vra my enigiets wat jy graag wil hê,” het Herodes vir die meisie gesê, “en ek sal dit vir jou gee.” Hy het herhaaldelik gesweer: “Ek sal enigiets wat jy van my vra vir jou gee, selfs tot die helfte van my koninkryk!” Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gaan vra: “Waarvoor moet ek vra?” Daarna het haar ma gesê: “Vra vir die kop van Johannes die Doper!” Sy is dadelik na die koning toe en het hom gevra: “Ek wil dadelik die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord hê.” Die koning was baie ontsteld hieroor, maar omdat hy nie sy eed wou verbreek nie – dit boonop nog voor sulke belangrike gaste – wou hy die meisie nie weier nie. Hy het toe maar dadelik ’n soldaat gestuur met die opdrag om Johannes se kop te bring. Dié het Johannes toe in die tronk gaan onthoof en sy kop op ’n skinkbord gebring en vir die meisie kom gee. Sy het dit toe weer vir haar ma gegee. Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle sy liggaam kom haal en dit begrawe. Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: “Kom julle nou self eenkant toe na ’n stil plek en skep ’n bietjie asem.” Hulle het toe per skuit na ’n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees. Maar baie mense het hulle sien vertrek en agtergekom waarheen hulle op pad was. Hulle het toe te voet van al die dorpe daarheen aangehardloop gekom en Jesus en sy dissipels ingewag. Toe Jesus uit die skuit klim en die groot klomp mense sien, het Hy ’n diep deernis vir hulle gevoel, want hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarom het Hy hulle uitvoerig begin onderrig. Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.” Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.” Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!” Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.” Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.” Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit. Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit. Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het. Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel. ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet! Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur. Daarna het Hy alleen teen die berg op gegaan om te bid. Later die nag was die skuit al ver weg die see in en Hy was alleen op die land. Hy sien toe hoe swaar hulle aan die roei was, want die wind was teen hulle. Kort voor dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop. Hy wou by hulle verbygaan. Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle hard begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Hulle was almal verskrik toe hulle Hom sien. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.” Hy het toe by hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle was baie verbaas oor wat hulle beleef het. Selfs ná die broodwonder het hulle nog nie begryp wie Hy werklik was nie; daarvoor was daar nog te veel weerstand in hulle harte. Hulle het die see oorgesteek en by Gennesaret geland en anker gegooi. Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Jesus dadelik herken. Hulle het toe in die ganse omgewing rondgehardloop en die siekes op slaapmatte begin aandra oral waar hulle gehoor het dat Hy was. En waar Hy ook al gegaan het – in kleiner of groter dorpe, of op plase – het hulle die siekes by die bymekaarkomplekke neergesit en gesoebat om aan Hom te kon raak, al was dit maar net aan die rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.