MARKUS 5:15-20 - Compare All Versions

MARKUS 5:15-20 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik. Dié wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke. Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan. Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.” Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.

MARKUS 5:15-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Toe kom hulle by Jesus en sien die besetene sit, gekleed en by sy verstand — die een wat die legioen gehad het. En hulle was bevrees. Die wat dit gesien het, vertel toe aan hulle hoe dit met die besetene gegaan het, en ook van die varke. En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied. En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was. En hy het weggegaan en in Dekápolis begin verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het, en almal was verwonderd.

MARKUS 5:15-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe hulle by Jesus kom en die man wat die menigte bose geeste gehad het daar sien sit, behoorlik aangetrek en by sy volle positiewe, was hulle verskrik. Die mense wat dit gesien het, vertel toe vir hulle wat met die besetene en die varke gebeur het. Hulle het vir Jesus gesoebat om uit hulle omgewing weg te gaan. Toe Jesus weer terug was in die skuit, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan. Jesus het egter vir hom gesê: “Nee, gaan huis toe na jou mense toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.” Hy het wyd en syd in die Tien Stede-gebied gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. En almal was verwonderd oor wat hy aan hulle vertel het.

MARKUS 5:15-20 DB (Die Boodskap)

Daar aangekom, sien hulle die woeste man rustig by Jesus sit. Hy was netjies aangetrek en het normaal opgetree, soos enigeen van hulle. Dit het hulle bang en onseker gemaak. Die mense wat dit alles gesien het, het natuurlik vir almal in besonderhede vertel wat met die woeste man met die demoon en die varke gebeur het. Die mense uit daardie gebied was egter baie ontevrede en het Jesus gevra om pad te gee. Toe Jesus in die skuit klim, vra die man wat die demoon gehad het Hom baie mooi of hy nie saam met Hom kon gaan nie. Jesus wou nie. “Gaan huis toe waar jou mense vir jou wag. Gaan vertel vir hulle hoe goed die Here vir jou was en wat Hy alles vir jou gedoen het.” Die man het nie gestry nie. Hy is daar weg en het vir die mense in daardie streek (wat die mense Tien Stede genoem het) gaan vertel wat Jesus alles vir hom gedoen het. Die mense se monde het oopgehang van verbasing oor sy verhaal.

MARKUS 5:15-20 ABA (Bybel vir almal)

Toe kom hulle by Jesus en hulle sien vir Legioen, die man wat die klomp duiwels in hom gehad het. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het toe baie bang geword. Die ander mense wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat gebeur het met die man wat die duiwels in hom gehad het en wat gebeur het met die varke. Toe het almal vir Jesus gesoebat om weg te gaan van hulle plek. Jesus het in die boot geklim. Die man wat die duiwels in hom gehad het, het aangehou soebat om saam met Jesus te gaan. Maar Jesus wou hom nie laat saamkom nie. Hy het vir die man gesê: “Gaan na jou huis en na jou familie toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het. Vertel vir hulle dat die Here goed was vir jou toe dit sleg gegaan het met jou.” Die man het toe weggegaan en hy het in Dekapolis gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.

MARKUS 5:15-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Hulle kom toe by Jesus en sien die besetene daar sit, die een wat die legioen in hom gehad het, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword. Diegene wat dit gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene en ook met die varke gebeur het. Hulle het Hom toe begin smeek om uit hulle gebied weg te gaan. Toe Hy in die boot klim, het die een wat deur demone besete was, Hom gesmeek om by Hom te kon bly. Hy het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense, en vertel hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het.” Die man het weggegaan en begin om alles wat Jesus vir hom gedoen het, in Dekapolis bekend te maak, en almal was verbaas daaroor.

MARKUS 5:15-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En hulle kom na Jesus en sien Hom wat van die duiwel besete was en die legioen gehad het, sit en geklee en by sy volle verstand; en hulle was bang. En die wat dit gesien het, het hulle vertel hoe dit met hom gebeur het wat van die duiwel besete was, en ook oor die varke. En hulle het Hom begin bid om uit hulle grondgebied te vertrek. En toe Hy in die skuit geklim het, het hy wat van die duiwel besete was, Hom gebid dat hy by hom mag wees. Maar Jesus het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan huis toe na jou vriende en vertel hulle hoe groot dinge die Here aan jou gedoen het en Hom oor jou ontferm het. En hy het weggegaan en in Dekapolis begin verkondig hoe groot dinge Jesus vir hom gedoen het, en almal was verwonderd.