MARKUS 4:13-20

MARKUS 4:13-20 Bybel vir almal (ABA)

Jesus sê toe vir sy dissipels: “Verstaan julle nie hierdie gelykenis nie? As julle dit nie verstaan nie, dan sal julle die ander gelykenisse nog minder verstaan. Die saad wat die saaier saai, is die boodskap wat van God kom. Wanneer die saad op die voetpad val, dan is dit soos wanneer mense die woorde van die boodskap hoor, maar die Satan kom dadelik en hy vat die woorde weg wat God in hulle harte gesaai het. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dadelik bly is daaroor. Maar hulle is soos die plante wat nie diep wortels het nie en wat net 'n kort tydjie lewe. Hulle hoor die boodskap en hulle glo dit, maar wanneer die mense hulle daaroor verdruk, en hulle begin swaarkry, dan hou hulle op om te glo. Wanneer die saad tussen die dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor maar hulle is bekommerd oor die dinge van hierdie wêreld. Hulle dink net aan geld en hulle wil baie ander dinge graag hê. Die dinge van die wêreld is soos die dorings wat die koringplantjies toegroei. Vir hierdie mense word ander dinge belangriker as die boodskap van God. Daarom kan die boodskap nie hulle lewe verander nie, soos die saad nie vrugte dra nie. Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dit glo, en dit verander hulle lewe. Dit dra vrugte, by party mense 30 maal meer as die saad wat die saaier gesaai het, by party mense 60 maal meer, en by party mense 100 maal meer.”

MARKUS 4:13-20 Die Boodskap (DB)

Jesus sê toe verder vir hulle: “Julle verstaan nie eens hierdie verhaal van die man wat saai nie. Hoe sal julle dan enige verhaal verstaan wat Ek julle vertel? Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal moet verstaan van die boer wat gaan saai het. Die boer saai die boodskap van God. “Party mense is soos die saad wat op die voetpad geval het ... Hulle hoor die boodskap van God, maar dit sink nie in nie. Sodra hulle dit hoor, sorg Satan dat hulle dit baie gou vergeet. Satan pik as’t ware daardie woorde uit hulle gedagtes uit. “Ander mense is weer soos die saad wat op die rotse geval het ... Ook hulle hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet begin maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in die doringbosse beland het  ... Hulle het ook die boodskap van God gehoor en dit gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat hulle beroep stel en al die ander dinge waarmee hulle besig is, ja, selfs die gejaag na geld, vir hulle belangriker as die geloof. Hulle het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat dit iemand is wat God se woord so gretig aanvaar het nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in goeie grond geval het ... Hulle hoor die boodskap van God en word diep daardeur getref. Hulle begin in oorgawe reg leef en in alles wat hulle doen, borrel hulle Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan hulle nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid