MARKUS 16:15-18
MARKUS 16:15-18 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “Gaan na die hele wêreld en bring die goeie boodskap vir al die mense. As iemand glo en gedoop is, dan sal God hom red, maar as iemand nie glo nie, dan sal God hom straf. Die mense wat glo, sal wonderwerke kan doen: Hulle sal my Naam gebruik om duiwels uit te jaag en hulle sal nuwe tale kan praat. Hulle sal slange met hulle hande optel, en as hulle iets drink wat giftig is, dan sal dit hulle nie siek maak nie. Hulle sal hulle hande op siek mense sit, en die siek mense sal gesond word.”
MARKUS 16:15-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.
MARKUS 16:15-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”
MARKUS 16:15-18 Die Boodskap (DB)
Hy sê vir hulle: “Gaan vertel vir al die mense die goeie nuus oor My. Almal moet dit hoor. “Elkeen wat julle boodskap glo en by julle as Christene aansluit deur gedoop te word, sal gered word. Iemand wat dit nie wil glo nie, kan maar vergeet: God sal hom straf. “Dié wat glo, sal baie wonderlike dinge doen. Ek sal hulle die krag gee om demone uit mense te verjaag. Hulle sal spesiale nuwe tale kan praat en sal slange met hulle kaal hande optel. Gif en sulke dinge sal hulle ook niks kan aandoen nie. Hulle sal net aan siek mense raak en die mense sal dadelik gesond word.”
MARKUS 16:15-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het Hy hulle beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die Goeie Nuus aan almal, oral. Elkeen wat glo en gedoop word, sal verlos word. Maar elkeen wat nie glo nie, sal veroordeel word. Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo: Hulle sal bose geeste in my Naam uitdryf, en hulle sal in nuwe tale praat. Hulle sal slange ongedeerd kan hanteer en as hulle iets giftigs drink, sal dit hulle nie affekteer nie. Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.”