MARKUS 14:26-50

MARKUS 14:26-50 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal ophou om in My te glo. Die profeet Sagaria het geskryf: “God het gesê: Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape sal weghardloop na al die kante toe. “Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.” Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nie ophou om in U te glo nie!” Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan die tweede maal kraai.” Maar Petrus het aangehou en ernstig gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê ek ken nie vir U nie.” Al die ander dissipels het ook aangehou om dit te sê. Jesus en sy dissipels kom toe by die plek Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil gaan bid.” Hy het vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem. Jesus het baie bang en ontsteld geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker.” Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit. Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Jesus het teruggekom en toe sien Hy die drie dissipels slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Simon, slaap jy? Kon jy nie een uur wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.” Jesus het weer weggegaan en Hy het dieselfde woorde gebid. Toe Hy terugkom, het Hy gesien die drie dissipels slaap weer, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Toe Jesus die derde maal by hulle kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Dit is nou klaar! Dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.” Terwyl Jesus gepraat het, het Judas daar aangekom. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet daardie man vang, julle moet hom wegvat en hom goed oppas.” Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer!” en hy het vir Jesus gesoen. Die mense wat saam met Judas was, het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester daarmee geslaan en hy het sy oor afgekap. Jesus het gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek was elke dag saam met julle by die tempel. Ek het vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Maar dit alles moet gebeur sodat dit waar kan word wat die Ou Testament sê.” Jesus se dissipels het Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop.

MARKUS 14:26-50 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My; want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie. Daarop sê Jesus vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Maar hy het nog baie meer aangehou en gesê: Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê. TOE kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Hy gaan toe weer weg en bid dieselfde woorde. En toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar; en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. En Hy kom vir die derde keer en sê aan hulle: Slaap maar voort en rus. Dit is genoeg; die uur het gekom. Kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van die sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai. EN dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge. En sy verraaier het 'n teken met hulle afgespreek en gesê: Die een wat ek sal soen — dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg. En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom. Daarop slaan hulle hul hande aan Hom en gryp Hom. En een van die wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word. Toe het almal Hom verlaat en gevlug.

MARKUS 14:26-50 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: “Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.” Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.” Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.” Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” En al die ander het dieselfde gesê. Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!” Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. Die verraaier het met die mense 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.” Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met 'n soen gegroet. Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat daarby gestaan het, het 'n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

MARKUS 14:26-50 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal afvallig raak, want daar staan geskryf: “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus sê daarop vir Hom: “Selfs al sal almal struikel, ek sal nie.” Jesus antwoord hom: “•Amen, Ek sê vir jou: Jy sal vandag, vannag nog, voor die haan twee maal kraai, My drie maal verloën.” Maar Petrus het uitdruklik gesê: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Almal het dieselfde gesê. Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gebid het.” Hy neem toe vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het erg ontsteld en beangs begin word, en sê toe vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak.” Hy het 'n entjie verder gegaan, op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom moet verbygaan. Hy het gesmeek: “ Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. ” Hy kom en vind hulle toe aan die slaap, en sê vir Petrus: “Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur lank te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë het swaar geword. Hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. Hy kom toe 'n derde keer en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Genoeg! Die uur het gekom. Kyk, die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan! Kyk, die een wat My verraai, is naby!” En dadelik, terwyl Jesus nog praat, daag Judas, een van die twaalf, daar op. En saam met hom was daar 'n menigte, met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg onder bewaking.” Toe Judas daar aankom, het hy dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Rabbi”, en Hom gesoen. Hulle het Hom gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat naby gestaan het, het sy swaard getrek, die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir hulle: “Het julle soos teen 'n rower met swaarde en knuppels uitgetrek om My gevange te neem? Dag ná dag was Ek by julle op die tempelterrein besig om onderrig te gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar laat die Skrifte vervul word!” Almal het Hom in die steek gelaat en weggevlug.

MARKUS 14:26-50 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat hulle 'n lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. En Jesus sê vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem deur My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na Galilea. Maar Petrus sê vir hom: Al sal almal aanstoot neem, tog sal ek nie. En Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, selfs in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Maar hy het nog harder gesê: As ek saam met jou sterf, sal ek jou op geen manier verloën nie. So ook het hulle almal gesê. En hulle het by 'n plek gekom met die naam van Getsemane, en Hy sê vir sy dissipels: Sit hier terwyl Ek bid. En hy het Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en begin verbaas word en baie swaar geword; En sê vir hulle: My siel is baie bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En hy het 'n bietjie vorentoe gegaan en op die grond geval en gebid dat, as dit moontlik was, die uur by hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alles is vir U moontlik; neem hierdie beker van my weg; nogtans nie wat ek wil nie, maar wat U wil. En Hy kom en kry hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? kon jy nie een uur waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is waarlik gereed, maar die vlees is swak. En weer het Hy weggegaan en gebid en dieselfde woorde gespreek. En toe hy terugkom, vind hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar, en hulle het nie geweet wat om hom te antwoord nie. En Hy het vir die derde keer gekom en vir hulle gesê: Slaap nou verder en rus. Dit is genoeg, die uur het gekom; kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy wat My verraai, is naby. En dadelik, terwyl hy nog spreek, kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, van die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge af. En hy wat Hom verraai het, het hulle 'n teken gegee en gesê: Wie ek ook al sal soen, dit is hy; neem hom en lei hom veilig weg. En sodra hy gekom het, gaan hy dadelik na hom en sê: Meester, meester! en hom gesoen. En hulle het hom die hande opgelê en hom gegryp. En een van die wat daar gestaan het, het 'n swaard getrek en 'n dienaar van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n dief uitgetrek met swaarde en stokke om My te vang? Ek was daagliks saam met julle in die tempel en leer, en julle het My nie geneem nie, maar die Skrifte moet vervul word. En hulle het hom almal verlaat en gevlug.

MARKUS 14:26-50 Die Boodskap (DB)

Nadat hulle saamgesing het, is hulle na die Olyfberg net buite die stad toe. Jesus het verder gepraat: “Julle almal gaan die rug vir My draai asof julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word en dan na Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie en sê toe ernstig: “Al hardloop almal weg en maak asof hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Wel, dan het Ek nuus vir jou,” kom dit van Jesus. “Vandag, om meer presies te wees, vannag voor dit tyd word vir die haan om die tweede maal te kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy nog nooit iets met My te doen gehad het nie.” Hardkoppig het Petrus aangehou: “Ek sal dit nooit ooit doen nie. Al maak hulle my dood, ek sal dit nie doen nie.” Die ander het almal ook so gesê. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit is ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag hier, Ek gaan bid.” Hy het net vir Petrus, Jakobus en Johannes saamgevat. Jesus was aan die worstel en het baie bedruk gevoel. “Ek voel doodsbenoud. Ek kan dit byna nie meer uithou nie,” sê Hy vir die drie. “Wag julle hier en kyk dat niemand ons hier verras nie.” Jesus het toe ’n entjie verder gaan kniel en God gevra of daar nie miskien ’n moontlikheid was dat die verskriklike dinge wat vir Hom wag, nie hoef te gebeur nie. “My liewe Vader,” het Jesus begin, “U kan doen net wat U wil, want U kan alles doen. Is daar nie ’n kans dat al hierdie vreeslike dinge nie met My hoef te gebeur nie? Ek probeer U nie voorskryf nie. As U wil hê dit moet gebeur, laat dit dan gebeur. Doen asseblief wat U wil.” Toe Jesus by die ander drie kom, lê hulle vas aan die slaap. “Simon,” sê Jesus vir Petrus, “wat gaan aan? Slaap julle? Kon jy sowaar nie eens ’n uurtjie wakker bly om te kyk dat iemand ons nie aanval nie? Jy sal baie wakkerder moet wees as dit by versoekings kom. Vra God om jou te help om nie die verkeerde dinge te doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie.” Weer het Jesus gaan bid en dieselfde as die eerste maal gevra. Toe Hy terugkom, kry Hy die drie weer so. Hulle was so vaak dat hulle sowaar weer aan die slaap geraak het. Toe Jesus daar aankom, was hulle so skaam dat hulle nie mooi geweet het wat om vir Hom te sê nie. ’n Derde maal het Jesus gaan bid en toe Hy terugkom, sê Hy vir hulle: “Julle lê lekker en slaap asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus. Dit is nou genoeg. Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul sondige Jode gaan My netnou kom vang en dit omdat iemand My gaan verraai. Komaan, laat ons gaan. My verraaier is net hier om die draai.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of daar staan Judas, wat een van sy twaalf getrouste volgelinge was. Hy was nie alleen nie. Om hom en agter hom het ’n hele bende mense gestaan met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om te keer dat hulle die verkeerde een vang, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is die een! Sorg dat julle hom in die hande kry en sê vir die wagte om hom goed op te pas.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi,” sê hy en soen Jesus op die wang. Die mense storm op Jesus af en vang Hom. Een van Jesus se volgelinge pluk toe ’n swaard uit en kap ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. “Dink julle Ek is die een of ander rebel of terroris dat julle hier met ’n klomp wapens aankom om My te vang?” vra Jesus toe. “Ek het dag vir dag hier tussen julle rondgestap. Oop en bloot, voor almal, het Ek op die plein langs die tempel vir mense van God vertel. Hoekom het julle My nie toe gegryp nie? Toemaar, Ek ken die antwoord: dit is omdat wat die Skrif lankal gesê het gaan gebeur, moet gebeur.” Al sy volgelinge het toe gemaak dat hulle wegkom.

MARKUS 14:26-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe. Jesus sê toe vir hulle: “Julle gaan almal julle rug op My draai. Daar staan immers geskryf: ‘Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape sal uitmekaargejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” Petrus verseker Hom toe: “Al draai almal hulle rug op U – ék sal dit nie doen nie!” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voor die tweede kraai van die haan, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.” Maar Petrus het heftig aanhou sê: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal U beslis nooit verloën nie!” En almal van hulle het dit beaam. Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.” Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!” Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan. “ Abba ” – dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.” Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “Simon, slaap jy werklikwaar? Kon jy nie een uur waak nie? Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.” Hy het toe weer weggegaan en dieselfde gebed gebid. Toe Hy weer terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want hulle was so vaak dat hulle hulle oë net nie kon oophou nie. Hulle was te verleë om Hom te antwoord. Toe Hy die derde keer by hulle terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Dis nou genoeg! Die tyd het aangebreek. Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. Staan op, ons moet gaan. Kyk, my verraaier is hier.” Dadelik hierna – Jesus was nog besig om te praat – kom Judas, een van die twaalf dissipels, daar aan met ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde. Sy verraaier het reeds vooraf vir hulle ’n uitkenningsteken gegee met die woorde: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom en vat hom onder bewaking weg.” Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Leermeester,” en Hom gesoengroet. Toe het die ander Hom gegryp en gearresteer. Maar een van die omstanders het ’n swaard getrek, dit geswaai en die slaaf van die hoofpriester se oor afgekap. Toe vra Jesus vir hulle: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer toe Ek dag vir dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar hierdie dinge gebeur sodat wat in die Skrif staan, vervul kan word.” Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom.