MARKUS 10:17-45 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
MARKUS 10:17-45 AFR83 (Afrikaans 1983)
Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder. ” “Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.” Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.” Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.” Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.” Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word. Toe het Hy weer die twaalf opsy geneem en hulle begin vertel wat met Hom gaan gebeur: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom aan die heidene uitlewer. Dié sal met Hom spot en op Hom spoeg en Hom slaan en Hom doodmaak. En drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.” Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.” “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra. Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” “Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?” “Ons kan,” sê hulle vir Hom. Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.” Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
MARKUS 10:17-45 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag niemand te kort doen nie; eer jou vader en jou moeder. Maar hy antwoord en sê vir Hom: Meester, al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort — gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My. Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik. Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste. EN hulle was op die pad terwyl hulle opgaan na Jerusalem, en Jesus het voor hulle uit gegaan, en hulle was verbaas; en terwyl hulle volg, het hulle gevrees. En Hy het weer die twaalf by Hom geneem en aan hulle begin vertel die dinge wat met Hom sou gebeur. Kyk, sê Hy, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene; en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan. En Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, het na Hom gekom en gesê: Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons U ook al mag vra. En Hy sê vir hulle: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? En hulle antwoord Hom: Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u regter- en een aan u linkerhand. Maar Jesus sê vir hulle: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? En hulle antwoord Hom: Ons kan. Maar Jesus sê vir hulle: Dis waar, die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand, berus nie by My om te gee nie, maar dit is vir hulle vir wie dit berei is. En toe die tien dit hoor, begin hulle verontwaardig te word oor Jakobus en Johannes. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en vir hulle gesê: Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.
MARKUS 10:17-45 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” “Waarom noem jy My goed?” het Jesus hom gevra. “Net God is werklik goed. Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’” “Leermeester,” was sy reaksie, “ek het al hierdie gebooie van my kinderdae af nagekom.” Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.” Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se koninkryk te kom nie!” Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: “Kinders, dit is bitter moeilik om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te kom as vir ’n ryke om in God se koninkryk te kom.” Die dissipels was heeltemal verbysterd hieroor en het vir mekaar gesê: “As dit só is, wie kan dan verlos word?” Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!” Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.” Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het, sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe! Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.” Hulle was nou op pad na Jerusalem. Jesus het voor hulle uit geloop, en sy dissipels was vol angs. Ook die mense wat agter hulle aan gekom het, was met vrees vervul. Jesus het weer die twaalf eenkant geneem en vir hulle begin vertel wat met Hom sou gebeur: “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode. Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek opstaan.” Daarop het Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Leermeester, ons wil van U ’n guns vra.” “Wat moet Ek vir julle doen?” het Hy gevra. “In u koninklike heerlikheid – mag ons op die ereplekke regs en links van U sit?” het hulle gevra. Jesus het vir hulle gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie. Sien julle kans om die bitter lydensbeker te drink wat Ek binnekort gaan drink? Sien julle kans vir die lydensdoop waarmee Ek gedoop moet word?” Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.” “Dis waar,” sê Hy vir hulle. “Julle sal inderdaad van my beker drink en met my doop gedoop word, maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. Daardie plekke is bestem vir hulle vir wie God dit gereedgemaak het.” Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee wou hê, het hulle bitterlik verontwaardig teenoor Jakobus en Johannes geword. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle. Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien. En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”
MARKUS 10:17-45 DB (Die Boodskap)
Net toe Jesus by die huis uitgaan om verder te gaan, kom daar ’n man na Hom toe aangehardloop en val op sy knieë voor Hom neer. “Meneer, U is ’n goeie prediker,” sê hy. “Sê my, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry wat God vir mense gee?” Jesus sê vir hom: “Waarom sê jy Ek is goed? G’n mens is regtig goed nie. Net God en Hy alleen is goed. Wel, jy ken mos die wil van God soos ons dit uit die wet leer. Daar staan dat jy nie iemand mag doodmaak nie, dat jy nie ontrou aan jou huweliksmaat moet wees nie, dat jy nie ander se goed mag vat nie, dat jy nie mag lieg of mense onder die verkeerde indruk bring en hulle so om die bos lei nie, en dat jy jou ouers met respek moet behandel.” “Ek doen al dié dinge van kleins af al, Meneer,” sê die man vir Jesus. Jesus kyk toe na hom. Dit was ’n oulike man van wie Jesus gehou het. “Daar is een ding wat jy nie reg doen nie. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dan die geld vir die mense wat niks het nie. Op dié manier sal jy ryk wees in die oë van God. Nadat jy dit gedoen het, kom terug en word een van my volgelinge.” Aan die man se gesig kon ’n mens sien dat hy baie teleurgestel en uit die veld geslaan was, want hy was baie ryk. Met ’n hartseer uitdrukking op sy gesig is hy daar weg. Jesus bekyk die situasie toe so en sê vir sy getrouste volgelinge: “Ai, wat ’n opdraande pad is dit nie vir ryk mense om deel te word van God se nuwe wêreld nie.” Dié woorde het Jesus se volgelinge nogal verbaas. Maar Jesus het verder gepraat: “My kinders, dit is glad nie so maklik om in die nuwe wêreld van God in te gaan nie. Om die waarheid te sê, ’n olifant sal eerder deur die oog van ’n naald kan stap as wat ’n ryke in God se nuwe wêreld sal kan instap.” Nou was Jesus se volgelinge eers verbaas. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie op aarde sal dan in God se nuwe wêreld kan kom?” Jesus kyk toe vir hulle en sê: “Dit lyk miskien vir mense onmoontlik, maar God kan alles doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie.” Petrus begin toe noem wat hy gedoen het: “Wel, ons was darem gewillig om alles te laat staan en agter U aan te kom.” “Luister nou mooi wat Ek sê,” sê Jesus. “Daar is niemand wat iets vir My en my boodskap prysgegee het wat nie honderd maal soveel sal terugkry nie. Dit maak nie saak of dit sy huis, broers of susters, sy ma of pa of kinders of sy grond is nie. As Christen kry hy nou by al sy mede-Christene huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond. Maar Christenskap is nie net lekker nie. ’n Mens sal soms ook swaarkry omdat jy ’n Christen is. Maar wanneer God weer kom, sal so ’n persoon die ewige lewe ook kry. Baie mense wat nou vreeslik in tel is en hulle baie belangrik hou, sal dan niks wees nie en wie nou niks is nie, sal dan die belangrikste plekke inneem.” Jesus-hulle was op pad Jerusalem toe. Jesus het voor geloop terwyl sy volgelinge agternagekom het. Sy getrouste volgelinge was omgekrap en ontsteld terwyl ander bang begin voel het. Weer ’n keer vat Hy sy getrouste volgelinge eenkant toe en vertel vir hulle mooi wat met Hom gaan gebeur. “Ons is op pad Jerusalem toe,” sê Jesus. “Daar sal Ek, die Seun van die mens, op ’n verraderlike manier in die kloue van die leiers van die Jode en die Joodse geleerdes val. Hulle sal besluit dat Ek uit die weg geruim moet word. Hulle sal My dood wil sien en daarom sal hulle My aan die Romeine oorgee. Hulle sal My sonder genade behandel - hulle sal op My spoeg, met My spot, My met swepe slaan en uiteindelik doodmaak. Maar drie dae later sal Ek uit die dood lewendig word.” Sebedeus se twee seuns, Jakobus en Johannes, kom vra Hom toe: “Meneer, ons wil U asseblief ’n groot guns vra.” “Vra maar, laat Ek hoor,” sê Jesus. “As U eendag groot en belangrik as heerser op u troon sit, kan ons asseblief aan weerskante van U sit?” vra hulle vir Jesus. “Julle weet nie wat julle vra nie,” kom Jesus se antwoord. “Die pad wat vir My voorlê, is bitter swaar. Dit is soos ’n beker vol smart en seerkry wat Ek moet drink. Ek dink nie julle sal dit saam met My kan drink nie. Soos iemand wat in water gedoop word, moet Ek in lyding gedoop word. Sal julle dit kan uithou? Ek glo nie.” “Ons sien daarvoor kans,” antwoord hulle vinnig. “Dit is wel so dat julle ook die beker van smart soos Ek sal drink en soos Ek in lyding gedoop sal word,” antwoord Jesus hulle. “Maar Ek kan julle nie beloof dat julle aan weerskante van My sal kan sit nie. Dit is nie vir My om te besluit nie. God maak daardie plekke reg en Hy sal besluit wie sit waar.” Toe die res van die twaalf dit hoor, was hulle sommer die duiwel in vir Jakobus en Johannes. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet mos hoe dit byvoorbeeld onder die Romeine gaan. Hulle het leiers wat vir die mense sê wat moet gebeur en wat nie. Belangrike amptenare sit in die hoë poste en regeer die gewone mense van daar af. “Onder julle as Christene mag dit egter nie gebeur nie. As iemand onder julle belangrik wil wees, moet hy die onbelangrikste posisie onder julle inneem. Hy moet bereid wees om alles te doen wat die ander van hom vra en moet die hele tyd reg wees om die ander te dien, of dit hom nou pas of nie. “Selfs Ek, die Seun van die mens, het nie gekom sodat almal My moet bedien nie. Ek het gekom om ander te dien. Daarom het Ek my lewe gegee sodat baie mense daardeur weer God se eiendom kan word.”
MARKUS 10:17-45 ABA (Bybel vir almal)
Toe Jesus verder wou gaan, het iemand na Hom toe gehardloop. Hy het gekniel voor Jesus en hy het vir Jesus gesê: “U is 'n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie. Jy weet wat God gesê het: “ Jy mag nie iemand doodmaak nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy mag nie skelm wees en iemand anders se goed vat nie, jy moet jou ouers respekteer.” Die man het vir Jesus gesê: “Meneer, vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.” Jesus het lank na hom gekyk en Hy het lief geword vir hom en vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Die man was baie ongelukkig toe hy hoor wat Jesus sê. Hy het weggegaan en hy was hartseer, want hy was baie ryk. Jesus het gekyk na die mense rondom Hom en Hy het vir sy dissipels gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie.” Die dissipels was verbaas oor wat Jesus gesê het. Maar Jesus het ook vir hulle gesê: “My vriende, dit is baie moeilik om in te kom waar God Koning is. 'n Ryk man sal moeilik inkom waar God Koning is. 'n Kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.” Die dissipels was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?” Jesus het lank na hulle gekyk. Hy het gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.” Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het alles gelos wat ons gehad het en ons gaan saam met U.” Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los, of sy broers of sy susters of sy ma of sy pa of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, en hy doen dit omdat hy gehoorsaam is aan My en aan die goeie boodskap, dan sal hy baie meer kry. Hy sal nou, in hierdie tyd, 100 maal meer kry as wat hy gehad het. Hy sal meer huise en broers en susters en ma's en kinders en grond kry. Die ander mense sal baie slegte dinge doen aan hom. Maar daar sal 'n nuwe tyd kom, en dan sal hy die ewige lewe kry. “Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.” Jesus en sy dissipels was op die pad na Jerusalem. Jesus het ver voor hulle geloop. Die dissipels was verbaas toe hulle dit sien, en die mense wat hulle gevolg het, was bang. Jesus het weer met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle begin vertel van die dinge wat met Hom sal gebeur. Jesus het gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en op My spoeg en My met 'n sweep slaan en My doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.” Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Jesus toe gekom en gesê: “Meneer, as ons vir U iets vra, dan moet U dit asseblief vir ons doen.” Jesus het vir hulle gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom toe: “U sal koning wees oor almal. Gee dan vir ons die sitplekke langs U, een regs langs U en een links langs U.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink? Kan julle gedoop word soos Ek gedoop sal word?” Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.” Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink, en julle sal gedoop word soos Ek gedoop sal word. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. God het klaar besluit wie daar moet sit.” Toe die ander tien dissipels hoor wat Johannes en Jakobus gevra het, het hulle kwaad geword. Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat dink hulle kan oor ander mense regeer en hulle kan die mense verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense. Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander mense dien. En as een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees. Want Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.”
MARKUS 10:17-45 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe Hy uitgaan om sy reis te hervat, hardloop daar iemand na Hom toe, kniel voor Hom en vra Hom: “Goeie Meester, wat moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie, ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; jy mag nie bedrog pleeg nie; eer jou vader en jou moeder.’ ” Maar hy antwoord Hom: “Meester, al hierdie dinge het ek van jongs af nagekom.” Jesus het stip na hom gekyk, hom liefgekry en vir hom gesê: “Een ding kom jy kort – gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My.” Maar hy het terneergedruk geword oor hierdie antwoord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe om Hom rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal hulle wat rykdom het, in die •koninkryk van God ingaan!” Die dissipels was verbysterd oor sy woorde. Jesus sê toe weer vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die dissipels was heeltemal uit die veld geslaan en het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het stip na hulle gekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik. ” •Petrus het vir Hom gesê: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg.” Jesus het geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, huis, broers of susters, moeder, vader of kinders of grond ter wille van My en ter wille van die evangelie agterlaat, en nie nou in hierdie tyd honderd maal soveel sal ontvang nie: huise, broers en susters, ma's en kinders, en grond – en vervolgings daarmee saam – en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste.” Terwyl hulle op pad was om na Jerusalem op te gaan, het Jesus voor hulle uit geloop. Die dissipels was verbaas, en dié wat hulle gevolg het, was bang. Hy het die twaalf weer opsy geneem en begin om hulle te vertel van die dinge wat met Hom gaan gebeur. “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal aan die leierpriesters en skrifkenners oorgelewer word, en hulle sal Hom ter dood veroordeel en aan die heidene oorlewer. Hulle sal Hom bespot, op Hom spoeg, Hom gesel en doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.” Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.” Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.” Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word? ” Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.” Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes. Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die •Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.”
MARKUS 10:17-45 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En toe Hy op die pad uitgegaan het, kom daar een aan die hardloop en kniel voor Hom en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? daar is niemand goed nie, behalwe een, dit is God. Jy ken die gebooie: Moenie egbreek nie, moenie doodslaan nie, moenie steel nie, moenie valse getuienis gee nie, bedrieg nie, eer jou vader en jou moeder. En hy antwoord en sê vir hom: Meester, dit alles het ek onderhou van my jeug af. Toe Jesus hom aanskou, het hy hom liefgehad en vir hom gesê: Een ding kom jou kort: gaan, verkoop alles wat jy het en gee aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom, neem die kruis op en volg ek. En hy was bedroef oor dié woord en het bedroef weggegaan, want hy het groot besittings gehad. En Jesus het rondgekyk en vir sy dissipels gesê: Hoe beswaarlik sal die wat ryk is, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde. Maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe moeilik is dit vir die wat op rykdom vertrou om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was buitengewoon verbaas en het onder mekaar gesê: Wie kan dan gered word? En Jesus het hulle aangekyk en gesê: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alle dinge moontlik. Toe begin Petrus vir hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond verlaat het ter wille van My en die evangelie nie, Maar hy sal nou in hierdie tyd honderdvoudig ontvang, huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, met vervolging; en in die toekomstige wêreld die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees; en die laaste eerste. En hulle was op pad na Jerusalem toe; en Jesus het voor hulle uit gegaan, en hulle was verbaas; en terwyl hulle gevolg het, was hulle bang. En hy het weer die twaalf geneem en hulle begin vertel wat met hom sou gebeur, en gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem; en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en aan die skrifgeleerdes; en hulle sal hom tot die dood veroordeel en hom aan die heidene oorlewer. En hulle sal met hom spot en hom gésel en op hom spuug en hom doodmaak; en op die derde dag sal hy opstaan. En Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, het na Hom gekom en gesê: Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons ook al wil hê. En hy sê vir hulle: Wat wil julle hê moet ek vir julle doen? Hulle sê vir hom: Gee aan ons dat ons kan sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand, in u heerlikheid. Maar Jesus sê vir hulle: Julle weet nie wat julle vra nie; kan julle drink uit die beker waaruit Ek drink? en gedoop word met die doop waarmee ek gedoop is? En hulle sê vir hom: Ons kan. En Jesus sê vir hulle: Julle sal wel drink uit die beker waaruit Ek drink; en met die doop waarmee ek gedoop is, sal julle gedoop word. Maar om aan my regter- en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie; maar dit sal gegee word aan hulle vir wie dit berei is. En toe die tien dit hoor, het hulle baie ontevrede geword in Jakobus en Johannes. Maar Jesus het hulle na hom geroep en vir hulle gesê: Julle weet dat die wat gereken word om oor die heidene te heers, oor hulle heers; en hulle grotes oefen gesag op hulle uit. Maar so sal dit nie onder julle wees nie; maar elkeen wat groot wil wees onder julle, moet julle dienaar wees. En elkeen van julle wat die vernaamste is, sal almal se dienaar wees. Want selfs die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.