MIGA 6:1-5 - Compare All Versions

MIGA 6:1-5 ABA (Bybel vir almal)

Luister wat sê die Here. Julle moet praat met die berge en die heuwels. Berge, julle is die fondamente van die aarde, julle moet luister na wat die Here sê, want die Here sê sy volk het verkeerd gedoen. Hy vra: “My volk, wat het Ek aan julle gedoen wat verkeerd is? Hoe het Ek julle moeg gemaak? Antwoord My! Ek het julle uit Egipte gebring, Ek het julle vrygemaak uit die plek waar julle slawe was. Ek het gesê Moses en Aäron en Mirjam moet julle lei. “My volk, julle moet onthou wat koning Balak van Moab met julle wou doen en wat Bileam seun van Beor vir hom gesê het. Julle moet alles onthou wat gebeur het tussen die stede Sittim en Gilgal sodat julle kan weet wat die Here gedoen het om julle te red.”

MIGA 6:1-5 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

HOOR tog wat die HERE sê: Staan op, twis in teenwoordigheid van die berge, en laat die heuwels na jou stem luister! Hoor, berge, die twis van die HERE! En onwankelbares, grondslae van die aarde! Want die HERE het 'n twis met sy volk en sal met Israel 'n regsgeding hou. My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My! Ja, Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die slawehuis losgekoop, en Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aäron en Mirjam. My volk, dink tog aan wat Balak, die koning van Moab, beraadslaag het, en wat Bíleam, die seun van Beor, hom geantwoord het, en wat gebeur het van Sittim af tot by Gilgal, sodat jy kennis kan dra van die regverdige dade van die HERE.

MIGA 6:1-5 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hoor wat die Here sê: Maak klaar, roep die berge as getuie, laat die heuwels hoor wat jy te sê het. Berge, vaste fondamente van die aarde, julle moet luister na die saak wat die Here het. Die Here het 'n saak teen sy volk, Hy het Israel aangekla. My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak? Antwoord My! Ek het jou uit Egipte gebring, Ek het jou uit die plek van slawerny gered, Ek het vir Moses gestuur om jou te lei, ook vir Aäron en Mirjam. My volk, dink aan die planne van koning Balak van Moab, en wat Bileam seun van Beor hom geantwoord het. Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal, en weet dat die Here julle die oorwinning laat behaal het.

MIGA 6:1-5 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Julle moet hoor wat die HERE sê: “Staan op, lê 'n klag voor die berge, en laat die heuwels jou stem hoor. Luister, berge, na die aanklag van die HERE, luister, onwrikbare fondamente van die aarde! Ja, die HERE lê 'n klag teen sy volk; Hy het 'n regsaak met Israel, ‘My volk, wat het Ek aan jou gedoen en hoe het Ek jou vermoei? Antwoord My! Ek het jou immers laat optrek uit Egipteland, uit die plek van slawerny het Ek jou losgekoop. Ek het Moses, Aäron en Mirjam voor jou uit gestuur. My volk, onthou tog wat Balak, die koning van Moab beplan het, en wat Bileam, die seun van Beor, hom geantwoord het. Onthou wat gebeur het van Sittim tot by Gilgal, sodat jy die regverdige dade van die HERE kan erken.’ ”

MIGA 6:1-5 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Hoor tog wat die HERE sê; Staan op, twis jy voor die berge, en laat die heuwels jou stem hoor. Hoor julle, berge, die twis van die HERE, en julle sterk fondamente van die aarde, want die HERE het 'n twis met sy volk, en Hy sal die stryd voer met Israel. O my volk, wat het Ek jou aangedoen? en waarin het ek jou vermoei? teen my getuig. Want Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die dienshuis verlos; en ek het Moses, Aäron en Mirjam voor jou uit gestuur. O my volk, onthou tog wat Balak, die koning van Moab, geraadpleeg het, en wat Bíleam, die seun van Beor, hom geantwoord het van Sittim af tot by Gilgal; sodat julle die geregtigheid van die HERE kan ken.

MIGA 6:1-5 DB (Die Boodskap)

“Hoor hier wat sê die Here: ‘Staan op en begin om jou saak te stel. Die berge en die heuwels sal as getuies in die saak luister na wat jy te sê het.’ Berge, julle wat die vaste fondament van die aarde is, luister na die aanklag van die Here teen sy volk. Hy maak ’n saak teen Israel. Die Here vra vir Israel: ‘My volk, wat meen julle het Ek aan julle gedoen wat nie reg is nie? Waarmee het Ek julle opgesaal dat julle so moedeloos is? Antwoord My! Ek het julle gehelp om uit Egipte pad te gee en vry mense te wees. Ek het daarvoor gesorg dat julle nie langer slawe in Egipte is nie. Ek het Moses, Aäron en Mirjam julle leiers gemaak. Onthou julle nie wat koning Balak van Moab teen julle beplan het nie? Hy wou hê Bileam moes julle vervloek, maar in plaas daarvan het hy julle net goeie dinge toegewens. En verder, onthou julle nie wat alles gebeur het vandat julle van Sittim af getrek het totdat julle uiteindelik by Gilgal aangekom het nie? Dit is belangrik dat julle dit sal onthou, want dit sal julle daaraan herinner dat Ek lojaal aan julle is.’

MIGA 6:1-5 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Luister wat die HERE sê: “Staan op en stel jou saak terwyl die berge en die heuwels na jou luister. Berge, vaste fondamente van die aarde, luister na die klag van die HERE! Die HERE maak ’n regsaak teen sy volk. Hy lê ’n klag teen Israel. “My volk, wat het Ek julle aangedoen? Waarmee het Ek julle oorlaai? Antwoord My! Ek het julle tog uit Egipte gebring, julle uit slawerny gered. Ek het Moses, Aäron en Mirjam gestuur om julle te help. My volk, onthou julle nie hoe koning Balak van Moab probeer het om ’n vloek op julle te plaas nie? In plaas daarvan het Bileam, Beor se seun, julle geseën. Verder, onthou julle julle reis van Sittim af Gilgal toe? Ek, die HERE, het alles in my vermoë gedoen om julle van my getrouheid te leer.”