MATTEUS 9:17
MATTEUS 9:17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke oop, die wyn loop uit en die sakke gaan tot niet. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke, en beide bly behoue.”
MATTEUS 9:17 Bybel vir almal (ABA)
Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, 'n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi, dan sal hy nie die sakke of die wyn verloor nie.”
MATTEUS 9:17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.
MATTEUS 9:17 Afrikaans 1983 (AFR83)
“'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.”
MATTEUS 9:17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die mense gooi ook nie nuwe wyn in ou sakke nie; anders breek die sakke, en die wyn raak op, en die sakke vergaan; maar hulle gooi nuwe wyn in nuwe sakke, en altwee bly behoue.
MATTEUS 9:17 Die Boodskap (DB)
“Nog ’n voorbeeld: julle weet goed dat die leer van sakke waarin wyn ’n lang ruk gehou word, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sagte sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Dan loop al julle wyn uit. Nee, nuwe wyn gooi ’n mens in sterk, nuwe sakke. Die sakke sal dan nie skeur nie en jou wyn sal ook nie uitloop nie. “Dus, as God se nuwe wêreld hier is, word nuwe optrede van mense verwag.”