MATTEUS 5:34-37
MATTEUS 5:34-37 Bybel vir almal (ABA)
Maar Ek sê vir julle: Jy moet nooit iets belowe en sê die Here is die getuie nie. Julle moenie iets belowe en sê die hemel is die getuie nie, want die hemel is die troon van God. Julle moenie iets belowe en sê die aarde is die getuie nie, want die aarde is die plek waar God se voete rus. Julle moenie iets belowe en sê Jerusalem is die getuie nie, want Jerusalem is die stad van God, die Groot Koning. Jy moenie iets belowe en sê jy is self die getuie nie, want jy kan nie self een haar op jou kop wit of swart maak nie, jy kan nie die kleur verander nie. “Sê ‘ja’ wanneer julle ‘ja’ wil sê, en sê ‘nee’ wanneer julle ‘nee’ wil sê. Dit is die duiwel wat vir julle meer as dit laat sê.”
MATTEUS 5:34-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie — nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie. Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.
MATTEUS 5:34-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”
MATTEUS 5:34-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Ek sê vir julle: Julle moet hoegenaamd nie sweer nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank vir sy voete is; nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is. Jy moet ook nie by jou eie kop sweer nie, want jy kan nie een van jou hare wit of swart maak nie. Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose.
MATTEUS 5:34-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar Ek sê vir julle: Sweer glad nie; ook nie by die hemel nie; want dit is God se troon: Ook nie by die aarde nie; want dit is sy voetbank; ook nie by Jerusalem nie; want dit is die stad van die groot Koning. Jy mag ook nie by jou hoof sweer nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Maar laat julle kommunikasie wees: Ja, ja; Nee, nee, want alles wat meer is as dit, kom uit die kwaad.
MATTEUS 5:34-37 Die Boodskap (DB)
“Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee! “Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Dit kan tog niks aan julle omstandighede verander nie. Julle kan nie eens ’n enkele haar op julle kop se kleur verander deur hierdie soort beloftes nie. Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.”
MATTEUS 5:34-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie. “As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is. As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is. Moet selfs nie sê: ‘Ek sweer by my kop’ nie, want jy kan nie eers een haar daarvan wit of swart maak nie. “Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee. Enigiets meer as dit is uit die bose.”