MATTEUS 5:33-35
MATTEUS 5:33-35 Bybel vir almal (ABA)
“Julle weet ook die wette sê: ‘ Jy moenie iets belowe wat jy nie wil doen nie,’ en ‘as jy vir die Here iets belowe het, dan moet jy dit doen.’ Maar Ek sê vir julle: Jy moet nooit iets belowe en sê die Here is die getuie nie. Julle moenie iets belowe en sê die hemel is die getuie nie, want die hemel is die troon van God. Julle moenie iets belowe en sê die aarde is die getuie nie, want die aarde is die plek waar God se voete rus. Julle moenie iets belowe en sê Jerusalem is die getuie nie, want Jerusalem is die stad van God, die Groot Koning.
MATTEUS 5:33-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou. Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie — nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning
MATTEUS 5:33-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning.
MATTEUS 5:33-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Verder het julle gehoor dat daar vir die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie 'n eed verbreek nie, maar jy moet jou geloftes aan die Here nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet hoegenaamd nie sweer nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank vir sy voete is; nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is.
MATTEUS 5:33-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Weereens, julle het gehoor dat daar deur hulle van ouds gesê is: Jy mag jouself nie sweer nie, maar jy moet jou eed aan die Here nakom. Maar Ek sê vir julle: Sweer glad nie; ook nie by die hemel nie; want dit is God se troon: Ook nie by die aarde nie; want dit is sy voetbank; ook nie by Jerusalem nie; want dit is die stad van die groot Koning.
MATTEUS 5:33-35 Die Boodskap (DB)
“Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee!
MATTEUS 5:33-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Verder het julle gehoor dat daar vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie ’n vals eed aflê nie. Jy moet ’n eed wat jy voor die Here gesweer het, nakom.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie. “As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is. As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is.