MATTEUS 27:62-66
MATTEUS 27:62-66 Bybel vir almal (ABA)
Die volgende dag was dit die Sabbatdag, die dag ná die Vrydag. Die priesterleiers en die Fariseërs het by Pilatus bymekaargekom en hulle het vir Pilatus gesê: “Meneer, ons onthou dat daardie man die mense bedrieg het toe hy gelewe het en gesê het: ‘Ná drie dae sal God My weer laat lewe.’ Jy moet vir die soldate sê hulle moet die graf drie dae lank oppas. As jy dit nie doen nie, dan sal sy dissipels miskien kom en hulle sal sy liggaam steel en vir die volk sê hy lewe weer. Hierdie nuwe leuen sal groter wees as die eerste leuen, toe hy gesê het dat hy die Christus is.” Pilatus sê toe vir hulle: “Neem 'n groep soldate en sê hulle moet die graf goed oppas. Julle weet hoe om dit te doen.” Die Joodse leiers het toe gegaan en hulle het gesê die soldate moet die graf oppas. Hulle het die klip voor die ingang verseël en hulle het die soldate daar laat bly om die graf op te pas.
MATTEUS 27:62-66 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die volgende dag — dit is die dag ná die voorbereiding — kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal 'n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan. En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag.
MATTEUS 27:62-66 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom en vir hom gesê: “Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’ Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.” Pilatus antwoord hulle: “Hier is vir julle 'n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.” Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.
MATTEUS 27:62-66 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die volgende dag – dit is die dag ná Voorbereidingsdag – het die leierpriesters en die •Fariseërs by •Pilatus byeengekom en gesê: “Meneer, ons het onthou dat toe hy nog geleef het, daardie bedrieër gesê het, ‘Ná drie dae sal Ek weer opgewek word.’ Beveel dan dat die graf tot op die derde dag beveilig word, sodat sy dissipels hom nie gaan steel en vir die volk sê, ‘Hy is opgewek uit die dood!’ nie. Die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. ” Pilatus het vir hulle gesê: “Julle kry 'n wag van soldate. Gaan beveilig die graf soos julle goeddink.” Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wagte daar te plaas.
MATTEUS 27:62-66 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die volgende dag, wat gevolg het op die dag van voorbereiding, het die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus bymekaargekom, en gesê: Meneer, ons onthou dat daardie bedrieër, terwyl hy nog gelewe het, gesê het: Na drie dae sal ek opstaan. Beveel dan dat die graf bewaak word tot die derde dag, sodat sy dissipels nie in die nag kom en hom steel nie en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode; so sal die laaste dwaling erger wees as die eerste. Pilatus sê vir hulle: Julle het 'n wag; gaan, maak dit so seker as wat julle kan. Hulle het toe gegaan en die graf vasgemaak, die klip verseël en 'n wag gesit.
MATTEUS 27:62-66 Die Boodskap (DB)
Die volgende dag, net na die voorbereidings vir die paasfees, is die Joodse leiers en die Fariseërs na Pilatus toe. “U Edele,” het hulle gesê, “iets het ons intussen bygeval. Toe daardie bedrieër nog geleef het, het hy beweer dat hy na drie dae uit die dood opgewek sal word. Wees asseblief so vriendelik om opdrag te gee dat die graf drie dae lank goed opgepas word. Sy dissipels sal hom dan nie kan kom steel en die storie vir almal vertel dat hy uit die dood opgewek is nie. So ’n storie sal baie erger wees as die een dat hy opgewek gaan word!” Pilatus sê vir hulle: “Nou maar goed; julle het julle wagte. Gaan pas die graf so goed op as wat julle kan.” Hulle is toe daar weg om die graf te gaan oppas. Hulle het nie slegs die ingang met die klip toegemaak nie, maar ook wagte daar gelos.
MATTEUS 27:62-66 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die volgende dag – dit was die dag ná die Vrydag – het die priesterhoofde en die Fariseërs met Pilatus gaan praat. Hulle het vir hom gesê: “U Edele, ons onthou hierdie bedrieër het, toe hy nog gelewe het, gesê: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opstaan.’ Daarom versoek ons u om opdrag te gee dat die graf vir drie dae bewaak word. Dit sal sy dissipels verhinder om sy liggaam te kom steel en vir almal te vertel: ‘God het Hom uit die dood opgewek.’ As dit gebeur, sal dinge nog slegter daaraan toe wees as voorheen.” Pilatus het geantwoord: “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed moontlik.” Hulle het toe die graf gaan beveilig deur die klip te verseël en dit deur die wagte te laat oppas.