MATTEUS 27:32-44

MATTEUS 27:32-44 Bybel vir almal (ABA)

Toe hulle uit Jerusalem uitgaan, het hulle 'n man van die stad Sirene gesien. Sy naam was Simon. Die soldate het vir Simon gesê hy moet Jesus se kruis dra. Hulle kom toe by die plek wat die mense Golgota noem. Golgota beteken “Plek van die kopbeen.” Hulle het vir Jesus wyn gegee wat hulle met gal gemeng het, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Die soldate het vir Jesus gekruisig en elke soldaat het van Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry. Daarna het hulle gaan sit en hulle het Hom daar opgepas. Hulle het bokant Jesus se kop op 'n plank geskryf hoekom hulle Hom gekruisig het. Hulle het geskryf: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Die soldate het twee mense saam met Jesus gekruisig, een regs langs Hom, en die ander een links langs Hom. Hulle was mense wat teen die regering geveg het. Die mense wat daar verbygeloop het, wou vir Jesus verneder. Hulle het gewys dat hulle bly is oor wat met Hom gebeur het en hulle het gesê: “Jy het gesê jy sal die tempel afbreek en dit weer in drie dae bou. As jy die Seun van God is, red jouself nou en klim van die kruis af!” Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het ook so aangehou om vir Jesus te spot. Hulle het gesê: “Hy het ander mense gered, maar hy kan homself nie red nie! Hy sê hy is die Koning van Israel. Hy moet nou afklim van die kruis, dan sal ons in hom glo! Hy glo God sal hom red. God moet hom nou red as Hy dit wil doen, want Jesus het gesê: ‘Ek is die Seun van God.’ ” Die twee mense wat saam met Jesus aan die kruise gehang het, het ook vir Jesus op dieselfde manier gespot. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

MATTEUS 27:32-44 Die Boodskap (DB)

Op pad kry hulle vir Simon. Hy het uit Sirene in Afrika gekom. Voor hy hom kom kry, moes hy Jesus se kruis verder dra. So is hulle na die plek wat Golgota, oftewel “Plek van die Kopbeen”, genoem is. Hulle wou vir Jesus wyn wat met galbitter kruie gemeng is as pynstiller gee. Toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Hulle het Jesus toe daar gekruisig. Die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur lootjies te trek. Daarna het hulle naby die kruis gaan sit en wag. Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Twee terroriste is ook saam met Hom gekruisig, een aan elke kant van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het, het net hulle kop geskud. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê. “Jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Toe, wys nou wat daar in jou steek! As jy regtig die Seun van God is, red jouself. Klim daar van die kruis af, as jy natuurlik kan.” Die Joodse leiers en geleerdes het ook lekker saamgespot: “Hy het ander gered. Nou is hy self in die moeilikheid en kan skielik niks doen nie. Ja-nee, dit is nou vir jou die ‘koning van Israel’, nè! As hy nou daar van die kruis afkom, sal ons sowaar in hom glo. Hy was so seker dat God aan sy kant is. Hy het selfs beweer dat hy die Seun van God is. Wel, laat ons nou sien. God sal hom mos kom help as al hierdie dinge waar is.” Die terroriste langs Hom het ook nie op hulle laat wag nie. Hulle het Jesus lekker saam met die ander gekoggel.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid