MATTEUS 27:29-31
MATTEUS 27:29-31 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het 'n kroon van doringtakke gevleg en hulle het dit op sy kop gesit. Hulle het 'n dik riet in sy regter-hand gesit. Die soldate het voor Hom gekniel en Hom gespot en gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en hulle het die riet geneem en aangehou om Jesus daarmee op sy kop te slaan. Nadat hulle Jesus klaar gespot het, het hulle die pers bo-kleed uitgetrek en hulle het Jesus se eie klere vir Hom aangetrek. Die soldate het Jesus weggeneem sodat hulle Hom kon kruisig.
MATTEUS 27:29-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en 'n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof. En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word.
MATTEUS 27:29-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle vleg 'n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom 'n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.
MATTEUS 27:29-31 Die Boodskap (DB)
Hulle vleg ook ’n kroon van doringtakkies en druk dit op sy kop. In sy regterhand stop hulle ’n stok. Dit was kamma sy septer. Toe begin hulle met Hom gekskeer. Hulle buig voor Hom en sê spottend: “Goeiedag, U Edele, o koning van die Jode!” Hulle het Hom ook bespoeg en Hom met sy “septer” oor die kop geslaan. Nadat hulle hulle genoeg vermaak het met die spottery, het hulle die pers klere teruggevat en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Daarna het hulle die pad gevat na die plek toe waar hulle gewoonlik die mense gekruisig het.
MATTEUS 27:29-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het ook ’n krans van dorings gevleg en dit op sy kop gesit, en ’n rietsepter in sy regterhand. Toe maak hulle kniebuigings voor Hom en roep spottend: “Ons groet u, o Koning van die Jode!” Boonop het hulle Hom bespoeg en die riet by Hom gegryp en Hom daarmee teen die kop geslaan. Toe hulle moeg geword het van spot dryf met Hom, het hulle die mantel uitgetrek en vir Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.