MATTEUS 26:11-13
MATTEUS 26:11-13 Bybel vir almal (ABA)
Die arm mense is altyd by julle, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie. Die vrou het nou die lekkerruik-olie oor My gegooi, en sy het dit gedoen sodat my liggaam gereed kan wees wanneer hulle My begrawe. Ek sê vir julle, en dit is seker: Oral in die wêreld waar die mense hierdie goeie boodskap bring, sal hulle ook praat oor hierdie vrou en wat sy gedoen het. Die mense sal haar onthou.”
MATTEUS 26:11-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie. Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar.
MATTEUS 26:11-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”
MATTEUS 26:11-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Toe sy hierdie reukolie oor my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Waar in die hele wêreld ook al hierdie evangelie verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.”
MATTEUS 26:11-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want julle het die armes altyd by julle; maar my het julle nie altyd nie. Want deurdat sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit vir my begrafnis gedoen. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig sal word, daar sal ook vertel word van dit wat hierdie vrou gedoen het om haar te gedenk.
MATTEUS 26:11-13 Die Boodskap (DB)
Onthou een ding: julle kan later die armes help, want daar sal altyd arm mense wees. Maar Ek gaan nie altyd by julle wees nie. Sy het hierdie geurige olie oor my liggaam gegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Hierdie liggaam gaan binnekort in die graf lê. Daarom kan julle seker wees dat Christene nooit sal vergeet wat sy vandag gedoen het nie. Waar mense in die toekoms ook al oor My gaan praat, sal hulle oor haar ook praat. En hulle sal dit graag doen.”
MATTEUS 26:11-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die armes sal julle altyd by julle hê, maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie. Toe sy hierdie olie op My uitgegooi het, het sy eintlik my liggaam vir my begrafnis voorberei. Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”