MATTEUS 26:1-74
MATTEUS 26:1-74 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dit is oor twee dae Paasfees. God gee My, die Seun van die mens, vir die mense sodat hulle My kan kruisig.” Toe het die priesterleiers en die familieleiers van die volk bymekaargekom in die hoëpriester se huis. Die hoëpriester se naam was Kajafas. Hulle het planne gemaak om Jesus te vang en om Hom dood te maak. Hulle wou dit skelm doen. Hulle het gesê: “Ons moet dit nie doen wanneer die mense Paasfees vier nie, want dan sal hulle kwaad word en almal sal skree en raas.” Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse man. Daar kom toe 'n vrou na Jesus toe. Sy het 'n mooi klip-kruikie gehad en in die kruikie was daar baie duur lekkerruik-olie. Sy het die olie op Jesus se kop uitgegooi terwyl Hy by die tafel gesit en eet het. Toe die dissipels dit sien, het hulle kwaad geword daaroor en hulle het gesê: “Hoekom mors sy die olie? Sy kon dit verkoop het en baie geld gekry het. Dan kon sy die geld vir die arm mense gegee het.” Jesus het geweet wat hulle gesê het, en daarom het Hy vir sy dissipels gesê: “Hoekom pla julle die vrou? Sy het vir My iets gedoen wat goed is. Die arm mense is altyd by julle, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie. Die vrou het nou die lekkerruik-olie oor My gegooi, en sy het dit gedoen sodat my liggaam gereed kan wees wanneer hulle My begrawe. Ek sê vir julle, en dit is seker: Oral in die wêreld waar die mense hierdie goeie boodskap bring, sal hulle ook praat oor hierdie vrou en wat sy gedoen het. Die mense sal haar onthou.” Een van die twaalf dissipels se naam was Judas Iskariot. Hy het na die priesterleiers toe gegaan en gevra: “Wat sal julle vir my gee as ek julle help om Jesus te vang?” Die priesterleiers het toe vir Judas 30 silwer geldstukke betaal. Van toe af het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, het Jesus se dissipels na Hom toe gekom en vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?” Jesus het gesê hulle moet in Jerusalem na 'n man toe gaan en vir hom sê: “Ons Meneer sê: ‘My tyd is naby. Ek en my dissipels wil die Paas-ete in jou huis eet.’ ” Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit aand geword het, het Jesus saam met die twaalf dissipels by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe sê Jesus: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels was baie geskok en hartseer. Elke dissipel begin toe om vir Jesus te vra: “Here, is dit ek?” Jesus het vir hulle gesê: “Die een wat sy brood saam met My in die sous druk, daardie een sal My verraai. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, die een wat vir Jesus verraai het, vra toe vir Jesus: “Meneer, is dit ek?” Jesus sê toe vir hom: “Jy sê dit self.” Jesus het brood geneem terwyl hulle geëet het en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood en eet dit. Dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels en sê: “Drink almal daarvan. Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die verbond. My bloed sal vir baie mense vloei sodat God hulle sondes kan vergewe. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek saam met julle nuwe wyn sal drink by my Vader wat Koning is.” Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal vannag ophou om in My te glo. Die profeet het geskryf: “ God het gesê: Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape van die trop sal weghardloop na al die kante toe. “Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.” Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nooit ophou om in U te glo nie!” Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.” Maar Petrus het gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê dat ek U nie ken nie.” Al die ander dissipels het dieselfde gesê. Jesus en sy dissipels kom toe by 'n plek, Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom geneem. Jesus het baie hartseer en bang geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker saam met My.” Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en aangehou bid: “My Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Jesus het teruggekom na die drie dissipels toe en toe sien Hy hulle slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Hoekom kon julle nie een uur saam met My wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.” Jesus het weer, vir die tweede maal, weggegaan en gebid: “My Vader, as U nie hierdie swaarkry wil wegneem van My nie, as Ek hierdie beker moet drink, dan moet U doen wat U wil hê.” Toe Jesus terugkom, het Hy weer gesien die drie dissipels slaap, hulle kon nie wakker bly nie. Jesus het weer weggegaan van hulle. Hy het die derde maal gaan bid en Hy het dieselfde woorde gesê. Toe Jesus die derde maal by die dissipels kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Kyk, dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.” Judas het daar aangekom terwyl Jesus gepraat het. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n groot klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die familieleiers van die volk het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet Hom vang.” Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Goeienaand, Meneer!” en hy soen vir Jesus. Jesus het vir hom gesê: “My vriend, jy het kom doen wat jy moes doen.” Die mense wat saam met Judas was, het gekom en hulle het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard gegryp en hy het dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester se oor met die swaard afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug op sy plek, want die mense sal almal wat met die swaard veg, ook met die swaard doodmaak. Weet jy nie, Ek kan my hemelse Vader vra om My te help, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele stuur om My te help. Maar as God engele stuur om My te beskerm, dan sal die dinge wat die profete oor My geskryf het, nie gebeur nie.” Dadelik daarna het Jesus vir die klomp mense gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek het elke dag in die tempel gesit en Ek het daar vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die profete geskryf het.” Daarna het Jesus se dissipels Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevang het, het Hom weggevat na Kajafas toe. Kajafas was die hoëpriester. Die skrifgeleerdes en die familieleiers het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om te sien wat sal gebeur. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad wou hê iemand moet leuens vertel en sê dat Jesus iets gedoen het wat verkeerd is, sodat hulle Hom kon doodmaak. Maar hulle het niks gekry wat Jesus verkeerd gedoen het nie. Baie mense het gekom en hulle het leuens vertel, maar die Raad kon niks kry om Jesus te beskuldig nie. Later het twee mense gekom en hulle het gesê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek kan die tempel van God afbreek en Ek sal dit in drie dae weer bou.’ ” Die hoëpriester het opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly. Toe sê die hoëpriester vir Hom: “Ek sê vir jou, jy moet voor die God wat lewe, sê of jy die Christus is, die Seun van God.” Jesus het vir die hoëpriester gesê: “Jy sê dit self! Maar Ek sê vir julle, “van nou af sal julle sien dat Ek, die Seun van die mens, op die belangrikste plek sit langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Hy het verkeerd gepraat oor God. Ons het nou genoeg gehoor. Julle het nou gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Hulle het toe gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Hulle het in Jesus se gesig gespoeg en hulle het Hom met die vuis geslaan. Party van hulle het Hom geklap en vir Hom gesê: “Christus, wys vir ons jy is 'n profeet, sê vir ons wie het jou geslaan.” Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het na hom toe gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus van Galilea.” Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Almal kon dit hoor. Petrus het toe uitgegaan na die poort. 'n Ander meisie het vir Petrus gesien en sy het vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.” Maar Petrus het weer gesê: “Dit is nie waar nie. Ek ken nie die man nie. Die Here is my getuie.” 'n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, na Petrus toe gekom en vir hom gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want ons kan hoor jy praat soos hulle.” Petrus het gesê: “Ek ken glad nie hierdie man nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.” En dadelik, nadat hy dit gesê het, het die haan gekraai.
MATTEUS 26:1-74 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Jesus al hierdie woorde geëindig het, sê Hy vir sy dissipels: Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word. Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word, en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie. EN toe Jesus in Betánië was in die huis van Simon, die melaatse, kom 'n vrou na Hom met 'n albaste fles met baie kosbare salf, en sy gooi dit op sy hoof uit terwyl Hy aan tafel was. En toe sy dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en sê: Waarvoor is hierdie verkwisting? Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. Maar toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: Waarom val julle die vrou lastig? Want sy het 'n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie. Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar. TOE gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg. En van toe af het hy 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. EN op die eerste dag van die ongesuurde brode kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet? En Hy antwoord: Gaan na die stad na 'n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels. Daarop het die dissipels gedoen soos Jesus hulle beveel het, en hulle het die pasga berei. En toe dit aand geword het, was Hy met die twaalf aan tafel. En terwyl hulle eet, sê Hy: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai. Toe word hulle baie bedroef en begin elkeen van hulle aan Hom te sê: Is dit miskien ek, Here? Toe antwoord Hy en sê: Hy wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie. En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê. En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê. TOE kom Jesus met hulle in 'n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid. En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar. En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê. Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai. EN terwyl Hy nog spreek, daar kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en ouderlinge van die volk. En sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom! En dadelik gaan hy na Jesus en sê: Gegroet, Rabbi! en hy het Hom gesoen. Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom. En een van die wat saam met Jesus was, het meteens sy hand uitgesteek en sy swaard getrek; en hy het die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur? In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen 'n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug. EN die wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kájafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot by die paleis van die hoëpriester, en hy het ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien. En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie. En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie. Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou. Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is? Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel. Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig. Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan, en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het? EN Petrus het buitekant gesit in die binneplaas van die paleis, en 'n sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: Jy was ook by Jesus, die Galiléër! Maar hy het dit voor almal ontken en gesê: Ek weet nie wat jy sê nie. En terwyl hy uitgaan na die poort toe, sien 'n ander diensmeisie hom en sê aan die wat daar was: Hierdie een was ook by Jesus, die Nasaréner. En met 'n eed ontken hy dit weer: Ek ken die man nie. Maar 'n bietjie later kom die wat daar staan, en sê vir Petrus: Waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend. Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie.
MATTEUS 26:1-74 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.” In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.” Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het 'n vrou by Jesus gekom met 'n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. “Waarom so 'n verkwisting?” vra hulle. “'n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het.” Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.” Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei. Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?” Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!” En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: “ ‘Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.” Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.” Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die ander dissipels het ook so gesê. Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie. Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur. Die verraaier het met die manne 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen. Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange. Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. Wat dink julle?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap en gesê: “Jy is mos 'n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?” Petrus het buite in die binnehof gesit toe 'n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.” Weer het Petrus dit ontken en met 'n eed gesê: “Ek ken die man nie!” 'n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. 'n Mens kan dit aan jou spraak hoor.” Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!”
MATTEUS 26:1-74 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jesus al sy redevoerings voltooi het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle is bewus daarvan dat die Pasga oor twee dae plaasvind, en dat die •Seun van die Mens oorgelewer gaan word om gekruisig te word. ” In daardie tyd het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk in die ampswoning van die hoëpriester, met die naam Kajafas, vergader. Hulle het saam planne beraam om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie 'n oproer onder die volk ontstaan nie.” Toe Jesus in Betanië in die huis van Simon die Melaatse was, het 'n vrou na Hom gekom met 'n albasterfles baie kosbare reukolie, en dit oor sy kop uitgegiet terwyl Hy vir ete aangeleun het. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en vra: “Waarom hierdie verkwisting? 'n Mens kon dit vir baie geld verkoop het, wat aan die armes gegee kon word.” Toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het immers 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Toe sy hierdie reukolie oor my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Waar in die hele wêreld ook al hierdie evangelie verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels na Jesus gekom en gevra: “Waar wil U hê moet ons vir U voorbereidings tref om die Pasga te eet?” Hy het gesê: “Gaan in die stad na 'n sekere persoon en sê vir hom, ‘Die Leermeester sê: My tyd is naby – Ek wil die Pasga met my dissipels by jou vier.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus hulle beveel het, en die Pasga voorberei. Teen die aand het Hy saam met die twaalf vir ete aangeleun. Terwyl hulle geëet het, het Hy gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” Hulle was baie ontsteld, en een ná die ander het Hom begin vra: “Dit is seker nie ek nie, Here?” Hy het geantwoord: “Die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, sy verraaier, sê toe daarop: “Dit is seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Jý het dit gesê.” Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, gee dit vir die dissipels en sê: “Neem, eet, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee en gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek beslis nie weer van hierdie vrug van die druiwestok drink nie, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut saam met julle sal drink in die •koninkryk van my Vader.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak. Daar staan immers geskryf, “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape van die kudde sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Selfs al sal almal van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, jy sal My in hierdie nag, voor 'n haan kraai, drie maal verloën. ” Petrus sê toe vir Hom: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die dissipels het dieselfde gesê. Toe gaan Jesus saam met hulle na 'n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” Hy het toe 'n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het vir 'n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. ” Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.” Jesus was nog besig om te praat, toe Judas, een van die twaalf, skielik daar opdaag. Saam met hom was daar 'n groot menigte met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters en familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom.” Hy het dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Gegroet, Rabbi!” en Hom gesoen. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. En skielik het een van dié saam met Jesus na sy swaard gegryp en dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester getref en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word wat sê dat dit so moet gebeur?” Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug. Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: “Van nou af sal julle die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en Hom op die wolke van die hemel sien kom.” Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, o Christus – wie is dit wat u geslaan het?” •Petrus het buite gesit, in die binnehof. 'n Sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Hy het dit egter voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” En 'n ander diensmeisie het hom na die poort sien loop, en sê toe vir die mense daar: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” Weer het hy dit ontken, met 'n eed: “Ek ken die man nie.” Ná 'n rukkie het die omstanders nader gekom en vir Petrus gesê: “Jy is beslis ook een van hulle; trouens, jou uitspraak verklap jou.” Daarop begin hy vloek, en sweer: “Ek ken die man nie!” En onmiddellik het 'n haan gekraai.
MATTEUS 26:1-74 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Jesus al hierdie woorde klaar gemaak het, sê Hy vir sy dissipels: Julle weet dat na twee dae die fees van die pasga is, en die Seun van die mens word oorgelewer om gekruisig te word. Toe het die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die oudstes van die volk byeengekom by die paleis van die hoëpriester wat Kajafas genoem word, en beraadslaag dat hulle Jesus met listigheid kon aangryp en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die feesdag nie, dat daar nie 'n oproer onder die volk sal wees nie. En toe Jesus in Betanië was, in die huis van Simon die melaatse, Daar het 'n vrou na Hom gekom wat 'n albaste boks van baie kosbare salf gehad het en dit op sy hoof gegooi terwyl hy aan tafel was. Maar toe sy dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en sê: Waartoe is hierdie vermorsing? Want hierdie salf kon vir baie verkoop gewees het en aan die armes gegee gewees het. Toe Jesus dit verstaan, sê Hy vir hulle: Waarom pla julle die vrou? want sy het 'n goeie werk aan my gedoen. Want julle het die armes altyd by julle; maar my het julle nie altyd nie. Want deurdat sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit vir my begrafnis gedoen. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig sal word, daar sal ook vertel word van dit wat hierdie vrou gedoen het om haar te gedenk. Toe het een van die twaalf, met die naam van Judas Iskariot, na die owerpriesters gegaan, En hy sê vir hulle: Wat sal julle my gee, en ek sal hom aan julle oorgee? En hulle het 'n verbond met hom gesluit vir dertig sikkels silwer. En van toe af het hy die geleentheid gesoek om hom te verraai. En op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brode het die dissipels na Jesus gekom en vir Hom gesê: Waar wil U hê moet ons vir U berei om die pasga te eet? En hy sê: Gaan na die stad na so 'n man en sê vir hom: Die Meester sê: My tyd is naby; Ek sal die pasga by jou huis hou saam met my dissipels. En die dissipels het gedoen soos Jesus hulle beveel het; en hulle het die pasga voorberei. En toe dit aand geword het, het hy saam met die twaalf gaan sit. En terwyl hulle eet, sê hy: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai. En hulle was baie bedroef, en elkeen van hulle het vir Hom begin sê: Here, is dit ek? En hy antwoord en sê: Wie sy hand saam met my in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die Seun van die mens gaan heen soos van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai is! dit was goed vir daardie man as hy nie gebore was nie. Toe antwoord Judas, wat Hom verraai het, en sê: Meester, is dit ek? Hy sê vir hom: Jy het gesê. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood en seën dit, breek dit en gee dit aan die dissipels en sê: Neem, eet; dit is my liggaam. En Hy het die beker geneem en gedank en dit aan hulle gegee en gesê: Drink almal daaruit; Want dit is my bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergewing van sondes. Maar Ek sê vir julle, Ek sal van nou af nie van hierdie vrug van die wingerdstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit saam met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. En nadat hulle 'n lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na Galilea. Petrus antwoord en sê vir hom: Al sal almal aanstoot neem deur jou, tog sal ek nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir hom: Al sou ek saam met jou sterwe, ek sal jou nie verloën nie. So het ook al die dissipels gesê. Toe kom Jesus saam met hulle na 'n plek met die naam van Getsemane en sê vir die dissipels: Sit hier terwyl Ek daar gaan bid. En hy het Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saamgeneem en bedroef en baie swaar begin word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is baie bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. En Hy het na die dissipels gekom en hulle aan die slaap gevind en vir Petrus gesê: Wat, kon julle nie een uur saam met My waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie; die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Hy het weer vir die tweede keer weggegaan en gebid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My verbygaan as Ek dit nie drink nie, laat u wil geskied. En hy het gekom en hulle weer aan die slaap gevind, want hulle oë was swaar. En hy het hulle verlaat en weer weggegaan en vir die derde keer gebid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na sy dissipels en sê vir hulle: Slaap nou verder en rus; kyk, die uur is naby en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, Hy is naby wat My verraai. En terwyl hy nog spreek, kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, van die owerpriesters en oudstes van die volk. En die een wat Hom verraai het, het aan hulle 'n teken gegee en gesê: Wie ek ook al sal soen, dit is hy; hou hom vas. En dadelik het hy na Jesus gekom en gesê: Wees gegroet, Meester! en hom gesoen. En Jesus sê vir hom: Vriend, waarom het jy gekom? Toe het hulle gekom en Jesus die hande opgelê en Hom gevat. En kyk, een van die wat saam met Jesus was, het sy hand uitgesteek en sy swaard getrek en 'n dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgeslaan. Toe sê Jesus vir hom: Bring jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Dink jy dat ek nie nou tot my Vader kan bid nie, en hy sal nou vir my meer as twaalf legioene engele gee? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word, dat dit so moet wees? In daardie selfde uur sê Jesus vir die skare: Het julle uitgetrek soos teen 'n dief met swaarde en stokke om My te gryp? Ek het daagliks by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug. En die wat Jesus gegryp het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het. Maar Petrus het hom van ver af gevolg tot by die hoëpriester se paleis en ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien. En die owerpriesters en ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak; Maar het niemand gevind nie; ja, al het baie valse getuies gekom, maar hulle het niks gevind nie. Op die laaste het twee valse getuies gekom, en gesê: Hierdie man het gesê: Ek is in staat om die tempel van God af te breek en dit in drie dae te bou. Toe staan die hoëpriester op en sê vir hom: Antwoord U niks nie? wat is dit wat hierdie teen jou getuig? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir hom: Ek besweer jou by die lewende God, dat jy vir ons moet sê of U die Christus is, die Seun van God. Jesus sê vir hom: Jy het gesê; nogtans sê Ek vir jou, van nou af sal julle die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van krag en kom op die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslastering gespreek; wat het ons verder van getuies nodig? kyk, nou het julle sy godslastering gehoor. Wat dink julle? Hulle antwoord en sê: Hy is skuldig aan die dood. Toe het hulle in sy gesig gespoeg en hom met die vuis geslaan; en ander het hom met hul handpalms geslaan, en sê: Profeteer vir ons, Christus, wie is dit wat U geslaan het? En Petrus het buite in die paleis gesit, en 'n meisie het na hom gekom en gesê: Jy was ook saam met Jesus, die Galiléa. Maar hy het voor almal ontken en gesê: Ek weet nie wat jy sê nie. En toe hy uitgaan na die voorportaal, sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir die wat daar was: Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret. En hy het weer met 'n eed ontken: Ek ken die man nie. En ná 'n rukkie het die wat daar staan, na Hom gekom en vir Petrus gesê: Waarlik, jy is ook een van hulle; want jou spraak verraai jou. Toe het hy begin vloek en sweer en sê: Ek ken die man nie. En dadelik span die haan.
MATTEUS 26:1-74 Die Boodskap (DB)
Daarmee het Jesus vir hulle gesê wat Hy wou sê. Hy begin toe met die dissipels praat oor die paasfees wat nader kom: “Julle weet natuurlik dat dit oor twee dae paasfees is. Dit gaan ’n paasfees wees om te onthou, want Ek gaan verraai en gekruisig word.” Juis toe het al die belangrikste Joodse leiers in die huis van die hoëpriester Kajafas bymekaargekom. Hulle het allerhande planne beraam om Jesus dood te maak, maar hulle moes eers ’n rede kry om Hom te vang. Hulle wou Hom egter nie vang terwyl die paasfees aan die gang was nie. “Ons wil niks waag en dalk ’n opstand onder die mense by die fees veroorsaak nie,” het hulle gemeen. Terwyl die Joodse leiers met hierdie wraakplanne besig was, was Jesus juis in Betanië. Hy het by Simon, wat eers melaats was, gebly. Jesus-hulle was besig om te eet. ’n Vrou kom toe na Hom toe met ’n fles duur olie. Die olie was soos parfuum. Sy skud die hele fles olie oor Hom uit. Toe die ander aan die tafel sien wat sy besig was om te doen, was hulle sommer baie omgekrap. “Hou op! Jy mors die goed,” roep hulle uit. “Ons kon dit vir baie geld verkoop het. Dink net hoeveel arm mense ons daarmee kon gehelp het.” Toe Jesus sien hoe hulle reageer, sê Hy: “Waarom kraak julle die vrou so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Onthou een ding: julle kan later die armes help, want daar sal altyd arm mense wees. Maar Ek gaan nie altyd by julle wees nie. Sy het hierdie geurige olie oor my liggaam gegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Hierdie liggaam gaan binnekort in die graf lê. Daarom kan julle seker wees dat Christene nooit sal vergeet wat sy vandag gedoen het nie. Waar mense in die toekoms ook al oor My gaan praat, sal hulle oor haar ook praat. En hulle sal dit graag doen.” Omtrent in hierdie tyd is Judas Iskariot, ’n dissipel, skelm na die leiers van die priesters toe. “Ek kan vir julle gaan wys waar Jesus is. Wat is dit vir julle werd?” “Ons sal vir jou 30 stukke silwer gee,” kom die antwoord. Van toe af het Judas net die regte oomblik gesoek om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood in Egipte, kom Jesus se dissipels na Hom toe. “Waar moet ons die paasete gaan voorberei?” vra hulle. Hy antwoord hulle: “Gaan in die stad na so-en-so toe. Sê dan vir hom: ‘Jesus sê: My tyd word nou min. Ek en my dissipels sou graag hier by jou aan huis die paasete wou eet.’” Jesus se volgelinge is daar weg en het alles presies so gaan doen. Teen sononder het die paasete begin. Jesus en al twaalf sy getrouste volgelinge was daar. Terwyl hulle nog so sit en eet, sê Jesus: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê: een van julle wat hier sit, gaan My in die rug steek.” Toe hulle dit hoor, was hulle baie hartseer en hulle oorval Jesus met vrae. “Dit is seker darem nie ek nie, nie waar nie, Here?” wou elkeen weet. Jesus sê toe: “Kyk maar, die verraaier is die een wat sy hand ook in die bak insteek om kos te vat wanneer Ek dit doen. Ja-nee, aan die een kant is dit nodig dat die Seun van God sterf. Die Skrif skryf daarvan. So is dit bestem. “Maar aan die ander kant bly die verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Seun van die mens. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, die een wat al klaar besluit het om teen Jesus te draai, vra toe ook so ewe: “Dit is tog sekerlik nie ek nie, nè, Rabbi?” “Net so!” antwoord Jesus hom. Terwyl die ete aan die gang was, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die brood, breek Hy dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet dit,” sê Hy. “Dit is my liggaam.” Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie daarvoor en gee dit vir sy dissipels om te drink. “Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan. “Luister: Ek sal eers weer so saam met julle wyn sit en drink wanneer ons die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel drink.” Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is hulle saam Olyfberg toe. Jesus het verder gepraat: “Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie: “Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Petrus,” sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.” “Nooit nie!” ontken Petrus heftig. “Ek sal U nooit in die steek laat nie, al maak hulle my dood!” Al die ander dissipels het presies dieselfde gesê. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit was ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag julle hier. Ek gaan bid.” Hy het net Petrus en Sebedeus se twee seuns saam met Hom gevat. Jesus het bedruk gevoel en sê toe vir die drie saam met Hom: “Ek voel doodsbenoud. Wag julle hier. Kyk dat niemand ons hier verras nie.” Hy het ’n paar treë verder gaan kniel. Met sy gesig tot teen die grond gebuig, begin Hy bid: “My Vader, is daar enige kans dat Ek die pad wat vir My voorlê nie hoef te loop nie? Is daar ’n uitweg? Maar Ek probeer nie allerhande planne maak nie. Maak U die planne, asseblief! Doen wat U wil.” Jesus se dissipels het egter aan die slaap geraak. Hy maak Petrus toe wakker: “Wat gaan aan? Het jy dit nie eens in jou om ’n klein rukkie saam met My wakker te bly nie? Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker.” ’n Tweede maal het Jesus gaan bid: “My Vader, as daar nie vir My ’n uitweg is nie, laat dan gebeur wat moet gebeur!” Weer kry Jesus die drie vas aan die slaap. Hulle kon eenvoudig nie hulle oë oophou nie. Hierdie keer het Hy hulle gelos. ’n Derde keer het Jesus gaan kniel en dieselfde gebed gebid. Toe Hy klaar was, maak Hy die drie weer wakker: “Julle slaap lekker, nè? So asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus! Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul ongehoorsame Jode gaan My netnou kom vang. Kom, laat ons gaan. My verraaier is op pad.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of Judas, een van sy twaalf getrouste volgelinge, daag daar op. Hy was nie alleen nie. Saam met hom was ’n hele bende polisiemanne met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om seker te maak dat hulle nie die verkeerde een vang nie, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is Hy. Sorg dat julle Hom in die hande kry.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi. Hoe gaan dit?” en hy soen Hom toe op die wang. Jesus antwoord hom: “Lewer jy ’n vriend só oor?” Die spul polisiemanne het nie op hulle laat wag nie. Hulle was blitsvinnig op Jesus en het Hom geboei. Een van Jesus se vriende pluk toe sy swaard uit. Net daar kap hy ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. Vinnig keer Jesus hom: “Bêre jou swaard, man. As jy met ’n swaard wil baklei, gaan jou vyand jou netnou met sy swaard doodsteek. Los dit! Sê My liewer, hoe het jy My leer ken? Dink jy nie Ek kan my Vader vra om te kom help as Ek wil nie? Ek sê jou, twaalf groot groepe engele - selfs meer as Ek wil - staan slaggereed; reg om te kom help as dit moet. Maar as Ek hulle nou roep, kan die Skrif mos nie vervul word wat sê wat met My moet gebeur nie.” Jesus draai daarop na die klomp polisiemanne en vra: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Dink julle julle kom die een of ander terroris vang? Dag vir dag het Ek daar in die tempel gesit en vir julle gepreek. Tog het julle My nie kom vang nie. Nou skielik duik julle hier in die nag op met wapens en al! Maar dit verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het, gebeur nou hier voor ons almal se oë.” Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat hulle wegkom. Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie. Daar was nie ’n tekort aan mense wat bereid was om allerhande liegstories oor Jesus te vertel nie. Maar hulle stories was so swak dat niemand hulle sou glo nie. Uiteindelik kry hulle toe twee wat gesê het: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan hierdie tempel tot op die grond afbreek en in drie dae weer opbou net soos dit was.’” Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?” Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?” Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het. Dink julle nie ook so nie?” Die ander het geesdriftig saamgestem. “Geen kwessie nie! Hy moet doodgemaak word. Dit sal sy verdiende loon wees!” Hulle dam Hom toe met die vuis by en spoeg Hom in die gesig. Terwyl hulle Hom klap, jou hulle Hom uit: “Wie’t jou geklap, Christus? Toe, sê vir ons. Jy noem jouself mos ’n profeet!” Terwyl hulle binne so tekere gaan, het Petrus buite in die agterplaas gesit. Een van die werkers kom toe daar na hom toe. Dit was ’n vrou. “Vir jou het ek al gesien. Jy is mos een van die vriende van Jesus, die man uit Galilea.” Petrus skud sy kop heftig voor almal. “Moenie laf wees nie! Ek weet nie eens van wie jy praat nie.” Hy staan op en stap deur se kant toe. Voor hy by die deur uit is, loop hy in ’n ander vrou vas. “Julle is reg! Hierdie man is een van Jesus van Nasaret se vriende.” Weer het Petrus sy kop heftig geskud en gesê: “Ek sweer, ek ken hierdie man van geen kant af nie!” Dit was nie lank nie of ’n groepie mans kom staan daar by Petrus. “Sowaar, jy moet deel wees van daardie groep volgelinge van Jesus. Ons kan dit aan jou aksent hoor. Julle klomp uit Galilea praat mos anders as ons hier in Judea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy was. “Ek sweer, man, ek het hierdie man nog nooit eens ontmoet nie!”
MATTEUS 26:1-74 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Jesus al hierdie uitsprake afgehandel het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan sal Ek, die Seun van die Mens, oorgegee word om gekruisig te word.” Juis in daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde in die huis van Kajafas, die hoofpriester, vergader en saam beraadslaag oor hoe hulle Jesus in die geheim kon vang en uit die weg ruim. Hulle het egter saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders kom daar ’n oproer onder die volk.” Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, kom daar ’n vrou na Hom toe met ’n albaste fles vol duur aromatiese olie en gooi dit op sy kop uit. Toe die dissipels dit sien, het hulle hulle daaroor opgewerk. “Watter vermorsing,” het hulle onder mekaar gesê, “sy kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop en die geld vir die armes gegee het!” Jesus het dit egter agtergekom en vra hulle toe: “Waarom maak julle dit so moeilik vir hierdie vrou? Sy het immers ’n weldaad aan My gedoen. Die armes sal julle altyd by julle hê, maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie. Toe sy hierdie olie op My uitgegooi het, het sy eintlik my liggaam vir my begrafnis voorberei. Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!” Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied. Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels vir Jesus kom vra: “Waar wil U hê moet ons die paasmaaltyd vir U voorberei?” Hy antwoord toe: “Gaan stad toe na so en so en sê vir hom: ‘Jesus die Leermeester sê: My tyd het gekom. Ek wil by jou die paasmaaltyd saam met my dissipels eet.’” Die dissipels het toe gedoen soos Jesus hulle beveel het en die paasete voorberei. Teen die aand was Jesus saam met die twaalf aan tafel. Terwyl hulle besig was om te eet, het Hy gesê: “Ek verseker julle, een van julle gaan My uitlewer.” Hulle was geweldig geskok en het Hom die een na die ander gevra: “Dit is tog seker nie ek nie, Here?” Daarop het Jesus gesê: “Dit is die een wat sy hand hier saam met My in die skottel steek, wat My gaan uitlewer. Ek, die Seun van die Mens, moet sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met daardie man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!” Judas, die een wat Hom sou uitlewer, reageer toe en vra: “Dit is tog seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Daar sê jy dit self.” Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek van nou af nie weer wyn sal drink nie totdat Ek opnuut die feeswyn saam met julle sal drink in die koninkryk van my Vader.” Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe. Jesus het toe vir hulle gesê: “Vannag gaan julle almal aanstoot aan My neem. Daar staan immers geskryf: ‘Ek sal die skaapwagter doodmaak en die skape van die trop sal uitmekaargejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar. Jesus kom toe saam met hulle by ’n olyftuin met die naam Getsemane en Hy sê: “Sit julle hier, terwyl Ek daar anderkant gaan bid.” Hy neem toe vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom. Daarop oorval ’n groot ontsteltenis en benoudheid Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe. Bly julle hier, en waak saam met My.” Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.” Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie? Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.” Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.” Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap. Hulle was so vaak dat hulle oë eenvoudig nie wou oopbly nie. Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid. Toe kom Hy na sy dissipels toe en sê: “Slaap en rus julle nog steeds? Die tyd het aangebreek! Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. Staan op, ons moet gaan! Kyk, my verraaier is hier.” Jesus was nog besig om te praat, toe kom Judas, een van die twaalf dissipels, al daar aan, en saam met hom ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle ’n uitkenningsteken gegee en gesê: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom!” Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Gegroet, Rabbi!” Toe soengroet hy Hom. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, gaan voort met dit waarvoor jy gekom het.” Die ander het toe nadergekom, Jesus gegryp en Hom gearresteer. Skielik het een van Jesus se mense sy swaard uitgepluk, die slaaf van die hoofpriester getref, en sy oor afgekap. “Bêre jou swaard,” sê Jesus vir hom. “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vernietig word. Besef jy nie dat Ek ’n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra en Hy sal hulle oombliklik stuur nie? Maar as Ek dit sou doen, hoe sou die Skrifwoord dan vervul word waarvolgens dit juis op hierdie manier moet gebeur?” Daarop vra Jesus vir die klomp mense: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer waar Ek dag na dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar dit alles gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul kan word.” Dit was toe dat al Jesus se dissipels Hom net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom. Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur. Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei. En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’” Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?” Maar Jesus het bly swyg. Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.” Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle: Julle sal My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Hy terugkom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor. Wat is julle bevinding?” “Hy is skuldig,” antwoord hulle, “hy verdien die doodstraf.” Daarop spoeg hulle Hom in die gesig en slaan Hom met hulle vuiste. Party het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, geagte Messias! Wie is dit wat jou nou net geslaan het?” Petrus het nog steeds buite in die binnehof gesit. ’n Diensmeisie kom toe nader en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Galileër?” Hy het dit egter voor almal ontken. “Ek weet nie waarvan jy praat nie,” het hy verklaar. Later, toe hy op pad was na die uitgang, sien ’n ander diensmeisie hom raak en sê vir die omstanders: “Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret.” Weer het hy dit ontken, hierdie keer met ’n eed: “Ek ken hierdie man glad nie!” Nog ’n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle; jou aksent verklap jou.” Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: “Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!” Onmiddellik het die haan begin kraai.