MATTEUS 26:1-5
MATTEUS 26:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dit is oor twee dae Paasfees. God gee My, die Seun van die mens, vir die mense sodat hulle My kan kruisig.” Toe het die priesterleiers en die familieleiers van die volk bymekaargekom in die hoëpriester se huis. Die hoëpriester se naam was Kajafas. Hulle het planne gemaak om Jesus te vang en om Hom dood te maak. Hulle wou dit skelm doen. Hulle het gesê: “Ons moet dit nie doen wanneer die mense Paasfees vier nie, want dan sal hulle kwaad word en almal sal skree en raas.”
MATTEUS 26:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Jesus al hierdie woorde geëindig het, sê Hy vir sy dissipels: Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word. Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word, en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.
MATTEUS 26:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.” In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”
MATTEUS 26:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jesus al sy redevoerings voltooi het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle is bewus daarvan dat die Pasga oor twee dae plaasvind, en dat die •Seun van die Mens oorgelewer gaan word om gekruisig te word. ” In daardie tyd het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk in die ampswoning van die hoëpriester, met die naam Kajafas, vergader. Hulle het saam planne beraam om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie 'n oproer onder die volk ontstaan nie.”
MATTEUS 26:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Jesus al hierdie woorde klaar gemaak het, sê Hy vir sy dissipels: Julle weet dat na twee dae die fees van die pasga is, en die Seun van die mens word oorgelewer om gekruisig te word. Toe het die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die oudstes van die volk byeengekom by die paleis van die hoëpriester wat Kajafas genoem word, en beraadslaag dat hulle Jesus met listigheid kon aangryp en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die feesdag nie, dat daar nie 'n oproer onder die volk sal wees nie.
MATTEUS 26:1-5 Die Boodskap (DB)
Daarmee het Jesus vir hulle gesê wat Hy wou sê. Hy begin toe met die dissipels praat oor die paasfees wat nader kom: “Julle weet natuurlik dat dit oor twee dae paasfees is. Dit gaan ’n paasfees wees om te onthou, want Ek gaan verraai en gekruisig word.” Juis toe het al die belangrikste Joodse leiers in die huis van die hoëpriester Kajafas bymekaargekom. Hulle het allerhande planne beraam om Jesus dood te maak, maar hulle moes eers ’n rede kry om Hom te vang. Hulle wou Hom egter nie vang terwyl die paasfees aan die gang was nie. “Ons wil niks waag en dalk ’n opstand onder die mense by die fees veroorsaak nie,” het hulle gemeen.
MATTEUS 26:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Jesus al hierdie uitsprake afgehandel het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan sal Ek, die Seun van die Mens, oorgegee word om gekruisig te word.” Juis in daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde in die huis van Kajafas, die hoofpriester, vergader en saam beraadslaag oor hoe hulle Jesus in die geheim kon vang en uit die weg ruim. Hulle het egter saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders kom daar ’n oproer onder die volk.”