MATTEUS 25:41-46
MATTEUS 25:41-46 Bybel vir almal (ABA)
Dan sal die Koning vir die mense links langs Hom sê: ‘Gaan weg van My! God het julle vervloek. Julle moet na die vuur gaan wat altyd brand, die vuur wat Hy gereedgemaak het vir die duiwel en sy engele. Want toe Ek honger was, het julle vir My niks gegee om te eet nie, en toe Ek dors was, het julle vir My niks gegee om te drink nie. Toe Ek 'n vreemdeling was, het julle nie gesê Ek is welkom by julle nie, en toe Ek nie klere gehad het nie, het julle nie vir My klere gegee om aan te trek nie. Ek was siek en in die tronk en julle het nie vir My gesorg nie.’ Dan sal ook húlle vir die Koning sê: ‘Here, wanneer het ons gesien U is honger of dors, of U is 'n vreemdeling of U het nie klere nie, of U is siek of in die tronk? Wanneer het ons U nie gedien nie?’ Dan sal die Koning vir hulle sê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Toe julle dit nie gedoen het vir een van hierdie mense wat die minste belangrik is nie, toe het julle dit ook nie vir My gedoen nie.’ God sal hierdie mense vir altyd straf, maar die mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here, sal die ewige lewe kry.”
MATTEUS 25:41-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.
MATTEUS 25:41-46 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of 'n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”
MATTEUS 25:41-46 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Dan sal Hy vir dié aan sy linkerhand sê, ‘Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur, wat gereedgemaak is vir die Duiwel en sy engele. Want Ek was honger, en julle het My nie iets te ete gegee nie, dors, en julle het My nie iets te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie as gas verwelkom nie, nakend, en julle het My nie geklee nie, siek en in die tronk, en julle het My nie besoek nie.’ Dan sal hulle antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien, of dors, of as 'n vreemdeling, of nakend, of siek, of in die tronk, en U nie versorg nie?’ Dan sal Hy hulle antwoord, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle vir een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle ook nie vir My gedoen nie.’ Hierdie mense sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na die ewige lewe.”
MATTEUS 25:41-46 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dan sal Hy ook vir hulle aan die linkerkant sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want ek was honger, en julle het my geen vleis gegee nie; ek was dors, en julle het my nie te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie opgeneem nie: naak, en julle het My nie aangetrek nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger of dors of vreemdeling of naak of siek of in die tronk gesien en U nie gedien nie? Dan sal hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie aan een van die geringstes van hierdie gedoen het nie, het julle dit nie aan My gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.
MATTEUS 25:41-46 Die Boodskap (DB)
“Die Koning sal dan na die groep aan sy linkerkant draai. ‘Trap! Weg voor My! God wil niks met julle te doen hê nie! Die hel wag vir julle. God het dit spesiaal reggemaak vir die duiwel en al sy helpers. Wil julle weet waarom? Toe Ek so gesmag het na ’n stukkie brood, wou julle nie eens vir My ’n krummeltjie gee nie. Julle wou My nie ’n druppel water gee toe Ek dors was nie. Julle wou My nie in julle huise ontvang toe Ek vir julle nog vreemd was nie. Klere wou julle nie vir My gee nie, selfs toe Ek nie ’n draad klere gehad het om aan te trek nie. So kan Ek aanhou. Ek was siek en in die tronk, maar julle het niks tyd vir My oorgehad nie.’ “Vinnig vra hulle: ‘Here, ons verstaan nie wat U bedoel nie. Sê vir ons, wanneer het al hierdie dinge gebeur? Gee vir ons een voorbeeld van wanneer U honger of dors of kaal of siek of in die tronk was of waar U vreemd en alleen tussen ons was en ons U nie wou help nie.’ “Hy sê: ‘Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’ “Al hierdie mense wat so verkeerd lewe, sal gestraf word. En die hel sal nie speletjies wees nie en vir altyd duur. Maar die mense wat reg lewe, sal vir ewig saam met God leef.”
MATTEUS 25:41-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereedgemaak is vir die duiwel en sy bose engele! Want toe Ek honger was, het julle nie vir My kos gegee nie; toe Ek dors was, het julle nie vir My iets gegee om te drink nie; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My nie in julle huise ontvang nie; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle nie vir My klere gegee nie; toe Ek siek en in die tronk was, het julle nie na My omgesien nie.’ “Daarop sal hulle vra: ‘Here, wanneer het ons U ooit honger of dors of haweloos of sonder klere of siek of in die tronk gesien, en nagelaat om U te versorg?’ Dan sal Hy hulle antwoord: ‘Ek verseker julle, as julle versuim het om een van die eenvoudigstes van my broers of susters te help, het julle versuim om Mý te help.’ “Hulle sal dan in die ewige straf ingaan, maar dié wat God se wil uitgevoer het, in die ewige lewe.”