MATTEUS 25:27-30
MATTEUS 25:27-30 Bybel vir almal (ABA)
Daarom moes jy my geld in die bank gesit het. Dan kon ek my geld en die rente gekry het toe ek teruggekom het.’ Hy sê toe vir sy ander slawe: ‘Vat die geld weg van hom en gee dit vir die slaaf wat die tien talente het. Ek sal vir elkeen wat baie het, nog meer gee. Dan sal hy baie hê. Maar ek sal van elkeen wat nie baie het nie, ook die bietjie wegvat wat hy het. Gooi hierdie slaaf wat niks beteken nie, in die donker plek. Daar sal hy huil en hard op sy tande byt van die pyn.’ ”
MATTEUS 25:27-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het. Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.
MATTEUS 25:27-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ”
MATTEUS 25:27-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom moes jy my geld by die bankiers belê het, en met my terugkeer sou ek wat myne is, met rente teruggekry het. Vat dan die talent by hom en gee dit vir die een wat die tien talent het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy het, weggeneem word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die duisternis daarbuite. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ’ ”
MATTEUS 25:27-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
U moes dus my geld by die wisselaars gesit het, en dan sou ek my geld met woeker ontvang het by my koms. Neem dan die talent van hom af en gee dit aan hom wat tien talente het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook wat hy het, weggeneem word. En werp die nuttelose dienskneg in die buitenste duisternis: daar sal geween wees en gekners van die tande.
MATTEUS 25:27-30 Die Boodskap (DB)
Kon jy nie my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. Vat hierdie bondel geld hier weg en gee dit vir die werker met die tien bondels. Hy weet wat om daarmee te doen. Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het. Gooi hierdie betreurenswaardige werker hier uit. Hy hoort nie tussen ons nie. Hy hoort in die hel waar mense op hulle tande kners van pyn en huil van smart.”
MATTEUS 25:27-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dan moes jy mos my geld in die bank belê het en ek sou by my terugkoms ten minste my geld met rente kon terugkry.’ “Hy sê toe vir die ander: ‘Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het. Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word. En daardie nikswerd slaaf – gooi hom uit in die donkerte daar buite. Dáár sal hulle bitterlik huil en van selfverwyt op die tande kners.’”