MATTEUS 25:10-13 - Compare All Versions

MATTEUS 25:10-13 ABA (Bybel vir almal)

“Terwyl die dwase meisies olyf-olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Die vyf verstandige meisies wat gereed was, het saam met hom ingegaan in die huis waar die fees-ete was, en mense het die deur toegesluit. Later het die ander meisies gekom en gesê: ‘Meneer, Meneer, maak die deur oop vir ons.’ Maar die bruidegom het gesê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek ken julle nie.’ ” Jesus het toe gesê: “Julle moet ook wakker wees, want julle weet nie op watter dag en hoe laat in die dag die Seun van die mens sal kom nie.”

MATTEUS 25:10-13 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.

MATTEUS 25:10-13 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit. “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’ “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”

MATTEUS 25:10-13 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Terwyl hulle die olie gaan koop het, het die bruidegom opgedaag, en dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die •bruilofsfees, en die deur is gesluit. Later kom die ander jongmeisies toe ook daar aan en roep, ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar hy antwoord, ‘•Amen, Ek sê vir julle: Ek ken julle beslis nie.’ Wees dan waaksaam, omdat julle die dag en die uur nie ken nie.”

MATTEUS 25:10-13 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En terwyl hulle gaan koop het, het die bruidegom gekom; en die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Daarna het die ander maagde ook gekom en gesê: Here, Here, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, Ek ken julle nie. Waak dan, want julle weet nie die dag of die uur waarin die Seun van die mens kom nie.

MATTEUS 25:10-13 DB (Die Boodskap)

Terwyl hulle weg was, kom hy toe daar aan. Almal wat met hulle lampe gereed gestaan het, het hom vriendelik verwelkom. Die deur is toegemaak en die onthaal het begin. “Later daardie aand kom die ander vyf uiteindelik daar aan. Maar die deur was klaar toe. Hulle het probeer roep: ‘Meneer, Meneer, maak die deur vir ons oop!’ Maar die bruidegom sê vir hulle: ‘Julle kan nie my vriende wees nie. Julle het my dan nie kom verwelkom nie.’ “Julle moet nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie. “Wees altyd gereed vir die koms van die Here. Hierdie waarskuwing is belangrik omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.”

MATTEUS 25:10-13 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit. Later kom die ander meisies toe ook en roep van buite af: ‘Meneer, Meneer, maak asseblief vir ons oop!’ Maar hy het teruggeroep: ‘Ek ken julle glad nie!’ “Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.”