MATTEUS 25:1-9 - Compare All Versions

MATTEUS 25:1-9 ABA (Bybel vir almal)

Jesus het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer tien meisies hulle lampe neem en uitgaan om die bruidegom te ontmoet. Vyf van die meisies was dwaas, en vyf was verstandig. Die vyf dwase meisies het hulle lampe geneem, maar hulle het nie olyf-olie saamgeneem nie. Die verstandige meisies het hulle lampe geneem en hulle het ook olyf-olie in kruike saamgeneem. Die bruidegom het laat gekom, en die meisies het almal vaak geword en hulle het aan die slaap geraak. In die middel van die nag het die mense geskree: ‘Hier kom die bruidegom! Julle moet uitgaan om hom te gaan ontmoet.’ Toe staan al daardie meisies op en hulle maak hulle lampe gereed. Die dwase meisies sê toe vir die verstandige meisies: ‘Gee vir ons van julle olyf-olie, want ons lampe gaan dood.’ Die verstandige meisies het vir die dwase meisies gesê: ‘As ons vir julle van ons olyf-olie gee, dan sal daar nie genoeg olyf-olie wees vir ons en ook vir julle nie. Julle moet winkel toe gaan en julle moet julle eie olyf-olie gaan koop.’

MATTEUS 25:1-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

DAN sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar 'n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.

MATTEUS 25:1-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het. Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. “In die middel van die nag was daar 'n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’ Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’

MATTEUS 25:1-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Dan sal die •koninkryk van die hemele wees soos tien jongmeisies wat hulle lampe geneem het om die bruidegom tegemoet te gaan. Vyf van hulle was dwaas en vyf was verstandig. Die dwases het hulle lampe gevat, maar nie olyfolie met hulle saamgeneem nie; die verstandiges het egter, saam met hulle lampe, ook olyfolie in houers geneem. En omdat die bruidegom getalm het, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. In die middel van die nag was daar 'n geroep, ‘Kyk, hier is die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ Toe het al daardie jongmeisies opgestaan en hulle lampe gereedgemaak. Die dwases het vir die verstandiges gesê, ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan.’ Die verstandiges het egter geantwoord, ‘Dalk sal daar nie genoeg wees vir ons én vir julle nie. Gaan eerder na die verkopers en koop julle eie.’

MATTEUS 25:1-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Dan sal die koninkryk van die hemele vergelyk word met tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was wys en vyf was dwaas. Die wat dwaas was, het hulle lampe geneem en geen olie saamgeneem nie. Maar die wyses het olie in hulle houers saam met hulle lampe geneem. Terwyl die bruidegom vertoef, het hulle almal gesluimer en geslaap. En middernag was daar 'n geroep: Kyk, die bruidegom kom; gaan uit hom tegemoet. Toe het al daardie maagde opgestaan en hulle lampe geknip. Toe sê die dwase vir die wyse: Gee ons van julle olie; want ons lampe is uitgedoof. Maar die wyses antwoord en sê: Nie so nie; dat daar nie genoeg vir ons en vir julle is nie; maar gaan liewer na die wat verkoop, en koop vir julleself.

MATTEUS 25:1-9 DB (Die Boodskap)

Jesus vertel toe vir hulle nog ’n verhaal oor hoe dit in God se nuwe wêreld gaan wees: “Daar was tien jongmeisies wat ’n troue wou bywoon. Soos die gewoonte is, het hulle hulle lampe gevat en die bruidegom langs die pad gaan inwag. Hy moes sy bruid deur die loop van die aand by haar huis gaan haal. Niemand het egter die presiese tyd geweet wanneer die bruidegom en sy vriende sou kom nie. Hulle was nog by sy huis besig om partytjie te hou. Die helfte van die meisies was slim genoeg om ekstra lampolie saam te vat, ingeval die bruidegom nie gou kom nie. “Dit was toe ook so. Die bruidegom het nie gou gekom nie. Hulle het gewag en gewag. Later het hulle vaak begin word en aan die slaap geraak. In die middel van die nag skree iemand skielik: ‘Word wakker; die bruidegom kom! Gaan verwelkom hom!’ Die jong- meisies vlieg toe vinnig op en begin hulle lampe regkry. Op daardie oomblik het die vyf wat nie ekstra olie saamgebring het nie, hulle fout agtergekom. Hulle lampe het intussen doodgegaan omdat hulle olie op was. So kon hulle nie die bruidegom gaan verwelkom nie. Dit sou ’n belediging vir hom wees. Hulle bedel toe olie by die vyf wat slim genoeg was om ekstra olie saam te bring. Maar die slimmes sê: ‘Ons is vreeslik jammer, maar ons kan nie vir julle van ons olie gee nie. Daar is te min vir ons almal. Gaan koop gou vir julle.’ Die vyf is toe daar weg, maar helaas, die bruidegom was vinniger as hulle.

MATTEUS 25:1-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“In daardie tyd sal dit met die koninkryk van God gaan soos met tien meisies wat met hulle lampe die bruidegom gaan inwag het. Vyf van hulle was dwaas, maar die ander vyf was verstandig. Die vyf dwase meisies het wel hulle lampe saamgeneem, maar geen ekstra olie nie. Die ander vyf daarenteen was verstandig genoeg om, afgesien van hulle lampe, ook nog ekstra olie in houers saam te vat. Toe die bruidegom lank wegbly, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. Dit was al teen middernag toe ’n geroep hulle wakker maak: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan verwelkom hom!’ “Daarop het al die meisies opgespring en hulle lampe begin regkry. Die dwases vra toe vir die verstandiges: ‘Help ons asseblief met ’n bietjie van julle olie, want ons lampe is aan die doodgaan.’ Maar die verstandiges het geantwoord: ‘Nee, ons kan nie. Daar is nie genoeg vir ons almal nie. Gaan koop liewer vir julle by die winkel.’