MATTEUS 23:8-12
MATTEUS 23:8-12 Bybel vir almal (ABA)
“Maar julle moenie dat mense vir julle ‘Rabbi’ sê nie, want daar is net een Persoon wat vir julle leer, en julle is almal mekaar se broers. Julle moenie hier op die aarde vir iemand ‘ Vader’ noem nie, want daar is net een Persoon wat julle Vader is, en dit is julle Vader in die hemel. Julle moenie dat mense vir julle ‘ leermeester’ noem nie, want net die Christus is julle Leermeester. Die persoon wat by julle die belangrikste is, hy moet die ander dien. As iemand dink hy is belangrik, dan sal God hom onbelangrik maak. En as iemand dink hy is onbelangrik, dan sal God hom belangrik maak.
MATTEUS 23:8-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.
MATTEUS 23:8-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus. “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”
MATTEUS 23:8-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar julle, julle moet julle nie as ‘rabbi’ laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers. En moet niemand op aarde as julle ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is. Julle moet julle ook nie as leraars laat aanspreek nie, omdat net Een julle Leraar is, naamlik die •Christus. Die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees. Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhef word.”
MATTEUS 23:8-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar julle moet nie Rabbi genoem word nie, want een is julle Meester, naamlik Christus; en julle is almal broers. En noem niemand julle vader op die aarde nie, want een is julle Vader wat in die hemel is. Laat julle ook nie meesters genoem word nie, want een is julle Meester, naamlik Christus. Maar die grootste onder julle moet julle dienaar wees. En elkeen wat homself verhoog, sal verneder word; en hy wat homself verneder, sal verhoog word.
MATTEUS 23:8-12 Die Boodskap (DB)
“Wees gewaarsku, julle almal wat My volg! Moenie toelaat dat mense dit aan julle doen nie. Moenie dat hulle julle so op ’n verhogie sit met ’n gedominee hier of ’n gepastoor daar nie. Onthou, julle is net belangrik omdat Jesus by wie julle alles gehoor het, belangrik is. Laat al die lof en eer maar na Hom toe gaan. Vir julle moet dit genoeg wees om mekaar se broers en susters genoem te word. Christene is mos deel van God se familie. “Daarom moet julle selfs hier op aarde julle hemelse Vader se gesag bo alles erken, selfs bo die gesag van julle aardse pa. “Oppas daarvoor dat mense na julle begin opsien as ‘supergelowiges’ omdat julle meer weet of meer ervare as hulle in die godsdienstige dinge is. Daar is net Een na wie opgesien mag word, en dit is Christus. “Die reël wat elke gelowige moet onthou, is: onder God se kinders is die een wat die ander dien die belangrikste. Dit beteken dat God die een wat gedurig die belangrikste wil wees en oor ander baas wil speel, heel agter in die ry sal laat staan. Die een wat egter ander dien sonder om gedurig te wonder hoe belangrik dit alles hom gaan maak, sal van God self die ereplek voor in die ry kry.”
MATTEUS 23:8-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar julle moet julleself nooit as ‘rabbi’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leermeester en julle is almal broers en susters. En moenie enige geestelike leier hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want julle het net een Vader: julle Vader wat in die hemel is. En julle moet julleself nie as ‘leier’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leier: die Messias self. Die belangrikste een onder julle moet die een wees wat dien. Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.”