MATTEUS 23:24-26
MATTEUS 23:24-26 Bybel vir almal (ABA)
Julle is blindes wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Julle is soos mense wat water deur 'n doek gooi sodat hulle nie 'n klein muggie sal insluk nie, maar hulle sluk 'n kameel in. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle wat skynheilige mense is. Julle maak die buitekant van julle bekers en borde skoon, maar julle het alles gevat wat in die bekers en op die borde is, julle het dit van ander mense gevat omdat julle net vir julleself wil sorg. Fariseër, jy wat blind is, jy moet eers die binnekant van die beker skoonmaak, dan sal die buitekant ook skoon wees.
MATTEUS 23:24-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.
MATTEUS 23:24-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.
MATTEUS 23:24-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees.
MATTEUS 23:24-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Julle blinde leiers, julle wat 'n muggie uitsif en 'n kameel insluk. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is dit vol afpersing en oorvloed. Blinde Fariseër, reinig eers wat binne-in die beker en die skottel is, sodat die buitekant van hulle ook rein kan wees.
MATTEUS 23:24-26 Die Boodskap (DB)
“Maar nou het julle van die godsdiens iets gemaak wat dit nie is nie. Julle het alles deurmekaargekrap. Wat belangrik is, het julle onbelangrik gemaak, en wat onbelangrik is, het julle belangrik gemaak. Julle is regtig soos mense wat vreeslik oor ’n sent baklei, maar julle nie aan 100 rand steur nie. “Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak, maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk. Hoe hulle egter van binne lyk, pla julle glad nie. Hulle kan selfs maar vol haat en allerhande ander lelike dinge wees, dit maak nie saak nie. Fariseërs, maak tog asseblief julle oë oop! Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is. Dan sal die skottel weer gebruik kan word.”
MATTEUS 23:24-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Blinde gidse! Julle sif die muggie uit julle drinkwater, maar die kameel sluk julle sonder meer af! “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel blinkskoon, maar aan die binnekant is julle vuil van grypsug en selfsug. Blinde Fariseër, was die beker eers aan die binnekant, en die buitekant sal vanself skoon word.