MATTEUS 23:23-24
MATTEUS 23:23-24 Bybel vir almal (ABA)
“Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Want julle gee tiendes, ook van kruisement, anys en koljander, maar julle doen nie die belangrikste dinge wat die wette van God vra nie. Die belangrikste dinge is: Julle moet reg doen aan mense, julle moet goed wees vir mense en julle moet doen wat julle belowe het. Hierdie dinge moet julle doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie. Julle is blindes wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Julle is soos mense wat water deur 'n doek gooi sodat hulle nie 'n klein muggie sal insluk nie, maar hulle sluk 'n kameel in.
MATTEUS 23:23-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!
MATTEUS 23:23-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.
MATTEUS 23:23-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in.
MATTEUS 23:23-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! want julle betaal tiendes van kruisement en anys en komyn, en die swaarste sake van die wet, oordeel, barmhartigheid en geloof het julle nagelaat; dit behoort julle te doen en die ander nie ongedaan te laat nie. Julle blinde leiers, julle wat 'n muggie uitsif en 'n kameel insluk.
MATTEUS 23:23-24 Die Boodskap (DB)
“Ek waarsku julle, Fariseërs en Joodse teoloë. Julle is pynlik presies oor hoe julle kerk hou en julle werk julle tiendes tot op die laaste sent uit. Maar as dinge gedoen moet word wat regtig vir God saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om vir almal ’n regverdige kans te gee; of dat julle so vir mense omgee dat julle hulle graag wil help; of dat mense weet dat hulle julle kan vertrou. Ek sê nou nie die ander dinge wat julle doen, is noodwendig verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook die dinge doen wat regtig vir God saak maak nie. “Maar nou het julle van die godsdiens iets gemaak wat dit nie is nie. Julle het alles deurmekaargekrap. Wat belangrik is, het julle onbelangrik gemaak, en wat onbelangrik is, het julle belangrik gemaak. Julle is regtig soos mense wat vreeslik oor ’n sent baklei, maar julle nie aan 100 rand steur nie.
MATTEUS 23:23-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle gee noukeurig tiendes van die nietigste deeltjies van julle inkomste, maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om ontferming te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie. Blinde gidse! Julle sif die muggie uit julle drinkwater, maar die kameel sluk julle sonder meer af!