MATTEUS 23:1-10
MATTEUS 23:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het toe vir die mense en vir sy dissipels gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs is die mense wat die Wette van Moses kan verduidelik. Daarom moet julle alles doen wat hulle vir julle sê, julle moet gehoorsaam wees. Maar julle moenie doen wat hulle doen nie, want hulle sê wat julle moet doen, maar hulle doen dit nie self nie. Hulle wil hê mense moet dinge doen wat die wette sê, maar hulle laat die mense swaarkry, soos wanneer die mense goed op hulle skouers moet dra wat te swaar is vir hulle. Maar die skrifgeleerdes en die Fariseërs wil self niks doen om die mense te help nie. Hulle doen alles sodat die mense hulle moet sien. Hulle maak die gebedsdosies baie groot, en die tossels aan hulle klere baie lank. “Hulle sit graag op die belangrikste plekke by die feeste en in die sinagoges. Hulle wil hê die ander mense moet hulle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom, en hulle hou daarvan dat die mense vir hulle ‘ Rabbi’ sê. “Maar julle moenie dat mense vir julle ‘Rabbi’ sê nie, want daar is net een Persoon wat vir julle leer, en julle is almal mekaar se broers. Julle moenie hier op die aarde vir iemand ‘ Vader’ noem nie, want daar is net een Persoon wat julle Vader is, en dit is julle Vader in die hemel. Julle moenie dat mense vir julle ‘ leermeester’ noem nie, want net die Christus is julle Leermeester.
MATTEUS 23:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi! Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus.
MATTEUS 23:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie. Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word. “Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.
MATTEUS 23:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het Jesus vir die skare en vir sy dissipels gesê: “Die skrifkenners en •Fariseërs sit op die stoel van Moses. Doen en onderhou dan alles wat hulle vir julle sê. Maar moenie doen wat hulle doen nie, want hulle praat net en doen nie. Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers, maar self is hulle nie bereid om met 'n vinger aan die vrag te raak nie. Al hulle dade is bedoel om deur die mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels langer. Hulle hou van die ereplek by feesmaaltye en die voorste sitplekke in die •sinagoges, om op die markpleine begroet en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word. Maar julle, julle moet julle nie as ‘rabbi’ laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers. En moet niemand op aarde as julle ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is. Julle moet julle ook nie as leraars laat aanspreek nie, omdat net Een julle Leraar is, naamlik die •Christus.
MATTEUS 23:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Jesus met die skare en met sy dissipels gesê: en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit in die stoel van Moses. Alles dan wat hulle jou beveel om te onderhou, dit onderhou en doen; maar julle moet nie na hulle werke doen nie, want hulle sê en doen nie. Want hulle bind swaar en swaar laste om te dra, en lê dit op die skouers van mense; maar hulle self sal hulle nie met een van hulle vingers beweeg nie. Maar al hulle werke doen hulle om deur die mense gesien te word: hulle maak hul gedenktekens breed en vergroot die rande van hul klere, En hou van die boonste kamers by feesmaaltye en die hoofsitplekke in die sinagoges, En groete op die markte, en om deur die mense geroep te word: Rabbi, Rabbi. Maar julle moet nie Rabbi genoem word nie, want een is julle Meester, naamlik Christus; en julle is almal broers. En noem niemand julle vader op die aarde nie, want een is julle Vader wat in die hemel is. Laat julle ook nie meesters genoem word nie, want een is julle Meester, naamlik Christus.
MATTEUS 23:1-10 Die Boodskap (DB)
Jesus draai toe na die groep mense wat naby Hom gesit het. Sy getrouste volgelinge was ook onder hulle. “Glo My,” sê Hy, “die Joodse teoloë en Fariseërs weet presies wat daar in die wet van Moses geskryf staan. Al wat hulle heeldag doen, is om die wet te lees. Julle kan gerus maar luister na wat hulle oor die wet van Moses sê en dan ook so leef. Maar oppas! Moet net nie doen wat hulle doen nie. Wat hulle sê en wat hulle doen, is twee verskillende dinge. Hulle woorde en hulle dade verskil soos dag en nag. “Hulle skryf boeke vol streng godsdienstige reëls en stop dit dan in julle hande met die woorde: Doen dit! In hulle eie lewe doen hulle egter nie eens wat op die eerste bladsy staan nie. Al wat vir hulle tel, is wat mense van hulle dink. Dit maak nie saak wat God van hulle dink nie, net solank die mense vir hulle hande klap. Hulle koop die grootste Bybels, bid die langste en sing die hardste in die kerk. Hulle probeer ook so vroom lyk dat ’n mens hulle dadelik tussen duisend ander mense sal uitken. In die kerk hoef julle nie na hulle te soek nie. Julle sal hulle op daardie sitplekke kry waar niemand hulle kan miskyk nie. En dit is vir hulle tog te lekker om in die winkels eerbiedig deur die mense gegroet te word met: ‘Goeiemôre, liewe Dominee,’ of watter titel hulle ook al belangrik laat voel.” “Wees gewaarsku, julle almal wat My volg! Moenie toelaat dat mense dit aan julle doen nie. Moenie dat hulle julle so op ’n verhogie sit met ’n gedominee hier of ’n gepastoor daar nie. Onthou, julle is net belangrik omdat Jesus by wie julle alles gehoor het, belangrik is. Laat al die lof en eer maar na Hom toe gaan. Vir julle moet dit genoeg wees om mekaar se broers en susters genoem te word. Christene is mos deel van God se familie. “Daarom moet julle selfs hier op aarde julle hemelse Vader se gesag bo alles erken, selfs bo die gesag van julle aardse pa. “Oppas daarvoor dat mense na julle begin opsien as ‘supergelowiges’ omdat julle meer weet of meer ervare as hulle in die godsdienstige dinge is. Daar is net Een na wie opgesien mag word, en dit is Christus.
MATTEUS 23:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarop het Jesus die menigte en sy dissipels soos volg toegespreek: “Die skrifkenners en die Fariseërs is die amptelike vertolkers van die wet van Moses. Doen en gehoorsaam dus alles wat hulle julle beveel, maar hulle voorbeeld moet julle nie volg nie. Hulle preek, maar leef nie self daarvolgens nie. Hulle oorlaai die mense met absoluut onmoontlike godsdienstige verpligtings, maar verroer nie ’n vinger om dit self uit te voer nie. “Alles wat hulle doen, is vir die uiterlike vertoon. Daarvoor dra hulle op hulle arms en voorkoppe ekstra groot gebedsdosies met Skrifverse daarin en hulle maak die tossels aan hulle klere opvallend groot. En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke by feesmaaltye en in die sinagoges nie! Hulle geniet dit om spesiaal op straat gegroet te word en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word. Maar julle moet julleself nooit as ‘rabbi’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leermeester en julle is almal broers en susters. En moenie enige geestelike leier hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want julle het net een Vader: julle Vader wat in die hemel is. En julle moet julleself nie as ‘leier’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leier: die Messias self.