MATTEUS 22:23-46
MATTEUS 22:23-46 Bybel vir almal (ABA)
Daardie dag het 'n paar Sadduseërs na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat dood is, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Moses het gesê: ‘ Wanneer 'n man sterf en sy vrou lewe nog, en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se nageslag wees.’ “Daar was sewe broers hier by ons. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf, maar hy het nie kinders gehad nie. Daarom het die tweede broer met die oudste broer se weduwee getrou. Dieselfde het gebeur met die tweede broer en met die derde broer en met al die ander broers tot die sewende broer. Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal sy wees wanneer almal wat dood is, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle is heeltemal verkeerd. Dit is omdat julle nie die Ou Testament en die krag van God ken nie. Wanneer die mense weer lewe, dan sal hulle nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Hulle sal dan wees soos die engele in die hemel. Julle vra oor mense wat gesterf het wat weer sal lewe. Maar het julle nie gelees nie? God het vir julle gesê: ‘ Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’ “God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe.” Toe hulle dit hoor, was al die mense baie verbaas oor wat Jesus vir hulle geleer het. Die Fariseërs het gehoor Jesus het die Sadduseërs so goed geantwoord dat die Sadduseërs nie geweet het wat om nog te vra nie. Die Fariseërs het toe bymekaargekom. Een van hulle wat die Joodse wette goed geken het, wou hê Jesus moet iets sê wat vir Hom probleme sal gee. Hy het vir Jesus gevra: “Wat is die belangrikste wet van die Here?” Jesus het vir hom gesê: “ ‘ Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand.’ Dit is die eerste en belangrikste wet. Die tweede wet is net so belangrik. Dit is: ‘ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ “Hierdie twee wette sê alles wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir ons leer.” Toe die Fariseërs daar bymekaar was, het Jesus vir hulle gevra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” Hulle het gesê: “Hy is die Seun van Dawid.” Jesus sê toe vir hulle: “Hoekom het die Heilige Gees vir Dawid gesê hy moet die Christus ‘Here’ noem? “Dawid het gesê: “ Die Here het vir my Here, die Koning, gesê: Sit hier langs My, op die belangrikste plek. Ek sal jou vyande voor jou laat buig, en jy sal jou voete op hulle sit. “Dawid self noem die Christus ‘Here.’ Hoe kan die Christus dan Dawid se seun wees?” Niemand kon vir Jesus antwoord nie. Van daardie dag af wou niemand weer vir Jesus iets vra nie.
MATTEUS 22:23-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIESELFDE dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek. Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. So ook die tweede en die derde tot die sewende toe. En laaste van almal het die vrou ook gesterwe. In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees — want hulle almal het haar gehad? Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. En wat die opstanding van die dode betref — het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. EN toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader. En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. EN toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s'n. Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete? As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun? En niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.
MATTEUS 22:23-46 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: “Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou. Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe. En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’ ? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.” Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” “Dawid s'n,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ “As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?” Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.
MATTEUS 22:23-46 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daardie selfde dag kom die •Sadduseërs, hulle wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, na Hom en vra: “Meester, Moses het gesê, ‘As iemand sonder kinders sterf, moet sy broer met die vrou trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ By ons was daar sewe broers. Die eerste het getrou en gesterf, en sy vrou vir sy broer agtergelaat, omdat hy nie self 'n nageslag gehad het nie. Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer tot by die sewende een. Laaste van almal het die vrou gesterf. By die opstanding, wie van die sewe se vrou sal sy dan wees? Almal het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle egter geantwoord: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie. By die opstanding tree hulle nie in die huwelik nie en word hulle ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle nie gelees wat God aan julle gesê het nie, ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’? Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes.” Toe die skare dit hoor, was hulle verstom oor sy lering. Toe die •Fariseërs hoor dat Hy die •Sadduseërs die swye opgelê het, het hulle bymekaargekom. Een van hulle, 'n wetskenner, het vervolgens 'n vraag gestel om Hom te toets: “Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete. ” Toe die •Fariseërs bymekaar was, het Jesus hulle gevra: “Wat sê julle van die Christus? Wie se Seun is Hy?” Hulle antwoord Hom: “Dawid s'n.” Hy vra hulle toe: “Hoe kan Dawid Hom dan, deur die werking van die Gees, ‘Here’ noem, as hy sê, “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het’? “As Dawid Hom dan ‘Here’ noem, hoe kan Hy sy Seun wees?” Niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; en van daardie dag af het niemand ooit weer gewaag om Hom te ondervra nie.
MATTEUS 22:23-46 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Op dieselfde dag het die Sadduseërs na Hom gekom, wat sê dat daar geen opstanding is nie, en Hom gevra: Moses het gesê: Meester, en gesê: As 'n man sterf sonder kinders, moet sy broer met sy vrou trou en vir sy broer 'n nageslag verwek. En daar was sewe broers by ons; en die eerste, nadat hy 'n vrou getrou het, het gesterf, en het sy vrou aan sy broer oorgelaat, omdat hy geen uitvloeisel gehad het nie. Net so ook die tweede en die derde tot die sewende. En laaste van almal het die vrou ook gesterf. Daarom, in die opstanding, wie se vrou sal sy van die sewe wees? want hulle het haar almal gehad. Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle dwaal deurdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos die engele van God in die hemel. Maar wat die opstanding van die dode betref, het julle nie gelees wat deur God tot julle gespreek is deur te sê: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie die God van die dooies nie, maar van die lewendes. En toe die skare dit hoor, was hulle verstom oor sy leer. Maar toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs tot swye gebring het, was hulle bymekaar. Toe het een van hulle, wat 'n wetgeleerde was, hom 'n vraag gevra en hom versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet? Jesus sê vir hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede is daarmee gelyk: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. Terwyl die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: en gesê: Wat dink julle van Christus? wie se seun is hy? Hulle sê vir hom: Die Seun van Dawid. Hy sê vir hulle: Hoe noem Dawid Hom dan in die gees Here, deur te sê: Die HERE het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank vir u voete? As Dawid Hom dan Here noem, hoe is hy sy seun? En niemand was in staat om hom 'n woord te antwoord nie, en ook het niemand van daardie dag af nog meer vrae aan hom gedwing nie.
MATTEUS 22:23-46 Die Boodskap (DB)
Dieselfde dag nog het die Sadduseërs Jesus ook probeer vastrek. Hulle was die Joodse party wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het veral uit die ryk en belangrike families in Jerusalem gekom. “Jy is mos iemand wat ander leer,” begin hulle. “Laat ons jou net herinner aan Moses se woorde: ‘As ’n getroude man sonder kinders sterf, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie.’ Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kon hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede seun trou. Hy is egter ook dood sonder dat daar ’n kind is. So gaan dit met al sewe broers. Uiteindelik is die vrou sonder ’n kind dood. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus se antwoord was: “Dit is nou ’n dom vraag, veral om twee redes: julle ken nie die Skrif nie en julle onderskat die krag van God heeltemal. As mense uit die dood opstaan, tel sulke dinge soos getroud wees nie meer nie. Nee, hulle gaan soos die engele geestelike wesens wees. Het julle ook nog nie in julle Bybel gelees wat God oor die opstanding uit die dood sê nie? Hy sê: Ek is nou nog die God van Abraham, Isak en Jakob. God is nie ’n dooie God of die God van dooies nie. Hy is die God van die lewendes. As dit so is, beteken dit Abraham, Isak en Jakob is dood of lewendig? As God, asook hierdie voorvaders, dan leef, wat sê dit van die lewe na die dood?” Die mense het stil na Hom gesit en luister. Hy het hulle net al hoe meer beïndruk met die manier waarop Hy oor hierdie moeilike sake gepraat het. Die nuus het gou by die Fariseërs uitgekom dat Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hulle het besluit om weer te probeer en het soos een man om Jesus saamgetrek. Een van hulle beste geleerdes vra toe vir Jesus ’n vraag. Hy wou hê Jesus moes Hom vaspraat. Daarom het hy sy vraag dubbelsinnig gestel. “Watter opdrag is die belangrikste in die wet?” Die Fariseër het geweet dat as Jesus sê een opdrag is belangriker as die ander, Hy die eenheid van die wet sou aantas. Sê Hy weer almal is ewe belangrik, sou sommige voel Hy tas die eer van God aan. So sou Hy God, wat die belangrikste van almal is, natuurlik beledig. Weer het Jesus Hom nie laat vastrek nie. “‘Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy is.’ Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.” Die Fariseërs het daarna kajuitraad gehou, maar Jesus het nie op Hom laat wag nie. Op sy beurt vra Hy weer vir die Fariseërs ’n strikvraag: “Wie se Seun dink julle is die Messias?” “Dawid s’n,” sê hulle dadelik. “Wel, as dit so is, hoe verklaar julle dan dat Dawid in een van sy psalms die Messias sy ‘Here’ noem? Luister hier wat sê Dawid self: ‘God, die Here, het vir my Here gesê: Kom sit op die spesiale ereplek hier langs My, totdat Ek al jou vyande magteloos voor jou voete laat lê.’ “Onthou, hy het dit gesê toe hy onder die inspirasie van die Heilige Gees was. Verklaar dan nou vir My: As Dawid die Messias ‘Here’ noem, hoe is dit moontlik dat Hy Dawid se seun ook nog kan wees?” En daar staan die Fariseërs weer met ’n mond vol tande. Nie een het geweet wat om te sê nie. Hulle het van toe af maar besluit om Hom nie weer in die openbaar iets te vra nie. Net mooi elke keer as hulle Hom probeer vasvra het, het Hy ’n gek van hulle gemaak.
MATTEUS 22:23-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daardie selfde dag kom die Sadduseërs na Hom toe. Hulle is ’n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken. Hulle vra Hom toe die volgende: “Leermeester, Moses het gesê: ‘As ’n man kinderloos sterf, moet sy broer met die weduwee trou en so vir hom ’n nageslag verwek.’ Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste een het getrou en omdat hy kinderloos gesterf het, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. Dieselfde ding het gebeur met al die broers tot die sewende een toe. Laaste van almal is die vrou ook dood. “Sê nou vir ons – wie van hierdie sewe se vrou sal sy by die opstanding wees? Hulle was tog almal met haar getroud.” Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie. Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees. Maar wat die opstanding van die dooies betref – het julle niks hieroor in die Skrif raakgelees nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers gesê: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie.” Toe die skare hiervan hoor, was hulle diep beïndruk deur Jesus se onderrig. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus met sy antwoord die Sadduseërs koudgesit het, het hulle bymekaargekom om ’n nuwe plan teen Hom te bedink. Een van hulle, ’n deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek: “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?” Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die eerste en belangrikste opdrag. Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.” Omring van Fariseërs het Jesus die volgende vraag aan hulle gestel: “Wat is julle standpunt oor die Messias? Wie se seun is Hy?” Hulle antwoord Hom: “Dawid s’n.” Waarop Jesus vra: “Hoe noem Dawid Hom dan ‘Here’, terwyl hy tog onder die inspirasie van die Gees praat? Hy sê: ‘Die HERE het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “As Dawid Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?” Niemand kon Hom hierop antwoord nie. En daarna het niemand dit meer gewaag om nog verdere strikvrae aan Hom te stel nie.