MATTEUS 22:23-33

MATTEUS 22:23-33 Die Boodskap (DB)

Dieselfde dag nog het die Sadduseërs Jesus ook probeer vastrek. Hulle was die Joodse party wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het veral uit die ryk en belangrike families in Jerusalem gekom. “Jy is mos iemand wat ander leer,” begin hulle. “Laat ons jou net herinner aan Moses se woorde: ‘As ’n getroude man sonder kinders sterf, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie.’ Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kon hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede seun trou. Hy is egter ook dood sonder dat daar ’n kind is. So gaan dit met al sewe broers. Uiteindelik is die vrou sonder ’n kind dood. As daar dan nou ’n opstanding na die dood is, soos jy beweer, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus se antwoord was: “Dit is nou ’n dom vraag, veral om twee redes: julle ken nie die Skrif nie en julle onderskat die krag van God heeltemal. As mense uit die dood opstaan, tel sulke dinge soos getroud wees nie meer nie. Nee, hulle gaan soos die engele geestelike wesens wees. Het julle ook nog nie in julle Bybel gelees wat God oor die opstanding uit die dood sê nie? Hy sê: Ek is nou nog die God van Abraham, Isak en Jakob. God is nie ’n dooie God of die God van dooies nie. Hy is die God van die lewendes. As dit so is, beteken dit Abraham, Isak en Jakob is dood of lewendig? As God, asook hierdie voorvaders, dan leef, wat sê dit van die lewe na die dood?” Die mense het stil na Hom gesit en luister. Hy het hulle net al hoe meer beïndruk met die manier waarop Hy oor hierdie moeilike sake gepraat het.

MATTEUS 22:23-33 Bybel vir almal (ABA)

Daardie dag het 'n paar Sadduseërs na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat dood is, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Moses het gesê: ‘ Wanneer 'n man sterf en sy vrou lewe nog, en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se nageslag wees.’ “Daar was sewe broers hier by ons. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf, maar hy het nie kinders gehad nie. Daarom het die tweede broer met die oudste broer se weduwee getrou. Dieselfde het gebeur met die tweede broer en met die derde broer en met al die ander broers tot die sewende broer. Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal sy wees wanneer almal wat dood is, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle is heeltemal verkeerd. Dit is omdat julle nie die Ou Testament en die krag van God ken nie. Wanneer die mense weer lewe, dan sal hulle nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Hulle sal dan wees soos die engele in die hemel. Julle vra oor mense wat gesterf het wat weer sal lewe. Maar het julle nie gelees nie? God het vir julle gesê: ‘ Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’ “God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe.” Toe hulle dit hoor, was al die mense baie verbaas oor wat Jesus vir hulle geleer het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid