MATTEUS 22:14-22
MATTEUS 22:14-22 Bybel vir almal (ABA)
Want God nooi baie mense, maar Hy kies net 'n paar mense.” Die Fariseërs het toe gaan planne maak. Hulle wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, hulle wou hê Hy moet probleme kry. Hulle stuur toe hulle leerlinge saam met Herodiane na Jesus toe om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet jy praat altyd die waarheid. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en alles wat jy vir hulle leer, is waar. Jy is nie bang vir wat die mense van jou sê nie. Jy kyk nie wie mense is nie, jy doen dieselfde aan almal. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Maar Jesus het geweet hulle is slegte mense en Hy het vir hulle gesê: “Julle skynheilige mense, hoekom wil julle hê Ek moet iets sê wat vir My probleme kan gee? Bring vir My die geldstuk waarmee mense belasting betaal.” Hulle bring toe vir Jesus 'n silwer geldstuk, en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?” Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet aan die keiser betaal wat aan die keiser behoort, en julle moet ook aan God betaal wat aan God behoort.” Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en hulle het weggegaan van Jesus.
MATTEUS 22:14-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want baie is geroep, maar min uitverkies. TOE gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik. En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie — sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom 'n penning gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? Hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.
MATTEUS 22:14-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.” Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok. Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?” Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik? Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.” Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?” “Die keiser s'n,” antwoord hulle. Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.
MATTEUS 22:14-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.” Toe het die •Fariseërs gegaan en 'n plan beraam om Hom in 'n strik te laat beland oor wat Hy sê. Hulle stuur toe hulle dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: “Meester, ons weet dat u opreg is en God se weg waarheidsgetrou leer en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie. Sê dan vir ons wat is u opinie: Is dit toelaatbaar om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Omdat Jesus egter hulle bose bedoeling geken het, het Hy gesê: “Waarom toets julle My, julle skynheiliges? Wys vir My die munt waarmee julle belasting betaal.” Hulle het vir Hom 'n denarius gebring. Hy vra hulle toe: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” En hulle sê vir Hom: “Die keiser s'n.” Daarop sê Hy vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas. Hulle het Hom daar agtergelaat en weggegaan.
MATTEUS 22:14-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want baie is geroep, maar min is uitverkies. Toe het die Fariseërs gegaan en raad gehou hoe hulle Hom in sy toespraak kon verstrik. En hulle het hulle dissipels saam met die Herodiane na Hom uitgestuur en gesê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer, en dat U vir niemand omgee nie, want U ag die persoon van mense nie. Sê dan vir ons: Wat dink jy? Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te gee, of nie? Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: Waarom versoek julle My, geveinsdes? Wys my die eerbewysgeld. En hulle het vir hom 'n penning gebring. En Hy sê vir hulle: Wie s'n is hierdie beeld en opskrif? Hulle sê vir hom: Die keiser s'n. Toe sê Hy vir hulle: Gee dan aan die keiser wat die keiser toekom; en aan God die dinge wat God toekom. Toe hulle hierdie woorde hoor, was hulle verwonderd en het hom verlaat en weggegaan.
MATTEUS 22:14-22 Die Boodskap (DB)
“Onthou, baie sal die uitnodiging hoor, maar nie naastenby almal sal die hemelse fees haal nie.” Die Joodse godsdienstige leiers het daarna koppe bymekaar gaan sit. Hulle wou so graag hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring. Hulle het saam beplan hoe hulle dit sou regkry. Hulle het besluit om Hom met ’n moeilike politieke saak in ’n strik te laat trap. Daarom het hulle ondersteuners van Herodes, die koning van die gebied, saamgevat toe hulle met Jesus gaan praat het. Toe hulle by Jesus kom, stel hulle hulle plan in werking. Hulle het met die heuningkwas begin: “Meneer, jy is ’n goeie onderwyser. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien jy soek nie gewildheid nie, maar net die waarheid. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie.” Daarna kom hulle met die angel: “Maar sê nou vir ons, dink jy dit is reg dat ons so baie belasting aan die keiser moet betaal?” Die keiser was immers ’n koning van ’n vreemde land wat hulle onderdruk het. Jesus was te uitgeslape vir hulle. Hy het deur hulle slinkse plan gesien. Daarom sê Hy vir hulle: “Julle weet so goed soos Ek dat julle My in die moeilikheid wil bring. Maar nogtans gaan Ek julle antwoord. Het iemand miskien vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting moet betaal, asseblief?” Daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke. Vinnig gee iemand vir Hom een. Hy sê toe vir hulle: “Kyk mooi na hierdie geld. Wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier?” “Die keiser s’n,” antwoord hulle vinnig. “As die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. “Maar onthou, julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.” Hierdie antwoord het die opposisie se plan heeltemal deurmekaargekrap. Hulle het nie geweet wat om te sê nie. So stil-stil is hulle maar daar weg.
MATTEUS 22:14-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar is inderdaad baie meer genooides as uitverkorenes.” Die Fariseërs het toe vergadering gaan hou om te bespreek hoe hulle Jesus op ’n verkeerde opmerking sou kon uitvang om as aanklag teen Hom te gebruik. Hulle stuur toe ’n paar van hulle volgelinge saam met ondersteuners van Herodes wat vir Jesus vra: “Leermeester, ons weet hoe eerlik u is. Sonder om doekies om te draai leer u die mense wat God van ons verwag. U ontsien niemand nie, want u laat u nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. Sê dan vir ons wat is u standpunt: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Jesus het hulle egter deurgekyk. “Julle skynheiliges,” sê Hy, “julle probeer My uitvang! Wys vir My die Romeinse belastingmunt.” Hulle bring toe vir Hom die muntstuk. “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” vra Hy vir hulle. Hulle antwoord: “Die keiser s’n.” “Wel,” sê Hy toe, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee ook aan God alles wat Hóm toekom.” Jesus se antwoord het hulle stomverbaas gelaat, en hulle het die aftog geblaas.